Bara-hospitaal het laagste personeelbywoning in Gauteng

(Argieffoto: pixabay)

Die Chris Hani Baragwanath- hospitaal in Soweto het die laagste personeelbywoning van die sewe grootste hospitale in Gauteng, met ʼn bywoningsyfer van 72%, het die DA Sondag gesê.

Bandile Masuku, die LUR vir gesondheid in die provinsie, het dié syfer verskaf in antwoord op ʼn geskrewe vraag van Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die provinsie.

Die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg vaar die beste met 93%, gevolg deur die Charlotte Maxeke-hospitaal (89%) en die Tembisa-hospitaal (89%) in Ekurhuleni.

By die Kalafong-hospitaal staan die personeelbywoningsyfer op 87%, by die Steve Biko Akademiese- hospitaal is dit 86% en by die George Mukhari-hospitaal is dit 83%.

(Foto: pixabay)

Volgens Masuku is die lae bywoningsyfer grootliks te wyte aan personeel wat siekverlof, ongeskiktheidsverlof en gesinsverantwoordelikheidsverlof neem.

“Masuku is versigtig oor watter kategorie van werkers die laagste bywoningsyfers het, maar volgens onbevestigde inligting vir die laaste twee jaar lyk dit of verpleegpersoneel die laagste bywoningsyfer het,” het Bloom gesê.

Die departement beskou 90% as ʼn aanvaarbare koers, maar ses van die sewe grootste staatshospitale voldoen nie aan dié standaard nie – wat Bloom as kommerwekkend beskryf.

Bloom sê die lae syfers plaas druk op die personeel wat wel opdaag, is sleg vir moraal én vir die gehalte van pasiëntsorg. Daar is ʼn spesifieke probleem by die Chris Hani Baragwanath- hospitaal, waar bywoning “skokkend laag is” en moontlik toegeskryf kan word aan “swak bestuur en lae moraal”.

“Ons hospitale is uiters gespanne omgewings, so personeel moet behoorlik bestuur word sodat hulle gehelp word om hul werk te doen, maar hulle moet ook gedissiplineer word as hulle sonder ʼn goeie rede afwesig is, of siekteverlof misbruik,” het Bloom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Catharina

Mens weet amper nie wat om te se nie. Bywoning syfer is dit per jaar, per maand, per dag?

Jeff

Wil geld hê maar wil nie werk nie. Kom toi toi tyd en daai wat nooit by die werk is , is eerste en voor in die affirmative aerobics dans klas

Strandloper

Mmmm…hul plant seeker beet….

Sam

Wel, met die dat die inheemse personeel van enige staatsinstansie gemiddeld 10 oupas en 27 oumas het, is hierdie statistiek heeltemal te verstane.

Mieke

Wat my die meeste pla, is die toestand van hierdie hospitale wat aangewys word as plekke van afsondering vir die Corona virus….. Hulle gaan nie effektief kan funksioneer met sulke onhigiëniese toestande wat ek al self gesien het.