Barberton-ongeluk eis 7

Ongelukstoneel naby Barberton op 7 April 2015 Foto: Netcare 911

Ongelukstoneel naby Barberton op 7 April 2015 Foto: Netcare 911

Sewe mense is Dinsdagaand in ʼn ongeluk op die R38 tussen Badplaas en Barberton in Mpumalanga oorlede.

“ʼn Taxi en ʼn vragmotor het mekaar vermoedelik reg van voor getref,” het Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “ʼn Paar van die persone is tydens impak uit die taxi geslinger. Van die pasiënte het meters ver van die ongelukstoneel af gelê.”

Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het gesê ʼn wiel en die dak van die taxi is onder die wrak van die vragmotor gevind. Die taxi het glo uitmekaar geskeur.

Volgens Bodasing is sewe persone, onder wie ʼn kind van ongeveer drie jaar oud, op die toneel dood verklaar.

Volgens Steinmann het drie persone wat in die vragmotor gery het, geringe tot matige beserings opgedoen. Hulle is na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Volgens haar het slegs een van die taxi se insittendes oorleef. Hy het ernstige beserings opgedoen en is ook na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Owerhede stel ondersoek in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Francis Linstrom ·

NOG N TAXI
wat mense se lewens eis. Wanneer gaan daar hieraan iets gedoen word.

Elize ·

Ek ken daardie pad baie goed. En wat baie daar gebeur motoriste sny die draaie, of raak ongeduldig want daar is baie opdraendes en dan gaan op n witlyn verby. Maar ek is amper seker die een was a.g.v n draai wat gesny was.

CHRISTA ·

Waarom stel die owerhede ondersoek in NA NOODLOTTIGE ongelukke? Ek rapporteer weekliks probleempunte aan die Metropolisie aan die Oos-Rand wanneer ek hulle op of langs die pad kry. Hulle trek net hulle skouers op en antwoord jou: “It’s not my area”. Waarom bodder met ondersoeke as hulle reeds DOOD IS?

Natasha ·

Ons was gisteraand net na 5 op die ongelukstoneel. Ons was onder die indruk die ambulans was reeds daar want ons het niks lyke gesien of enige persone nie. Ons het besluit om te stop om te sien waar ons kan help. Dis toe ons besef dat die lyke agter die karre gele het. Het ook eerste gedink dis die taxi se skuld, maar was definitief die trok wat oor sy lyn gegaan het en ook nie na ‘n laer “gear” gegaan het nie. My man het met die oorlewende van die taxi gepraat. Hy het nie eers geweet waar hy is nie. My man moes hom se. Dit het gelyk of sy ooghare spierwit was, weet nie of dit van die skok was nie. Daar was ‘n persoon in die trok wat vasgesit het, maar die trokdrywers het nie ernstig gelyk nie. Dalk net arm of beenbeserings(eks nie heeltemal seker nie). Dis hartseer om op so toneel af te kom, maar die hartseerste is om klein kinders op ‘n ongelukstoneel te vind. Ons het nie die kind gesien nie, maar net ‘n kombers oorgegooi. Baie verbygangers het stilgehou en komberse oor gaan gooi. Was nogal dankbaar daarvoor. Ons kan net bid vir die families in die ongeluk. Moet verskriklik wees…

Drieks ·

Ek kan hoor dit het jou ontstel Natasha. Voorspoed vir julle ook. Onodige ongeluke…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.