Barmy Army: Spoghotel se biervooraad in ʼn japtrap kafgedraf

Argieffoto van Engeland se "Barmy Army" (2013) Foto: AFP PHOTO/William WEST

Argieffoto van Engeland se “Barmy Army” (2013) Foto: AFP PHOTO/William WEST

Die luukse Table Bay-hotel se Castle-biervoorraad is in Desember binne ʼn paar minute uitverkoop toe die jolige Barmy Army op die kroeg toegesak het.

Michael Farr, algemene bestuurder van die Sun International-groep, het gesê 140 lede van die Barmy Army, Engeland se amptelike ondersteuningsgroep wanneer sy krieketspan oorsee speel, het by die vyfsterhotel tuisgegaan tydens die tweede toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland op Nuweland.

Volgens Farr het die groep binne 20 minute die Union Bar se Castle-voorraad opgedrink.

“Die gewildste drankie vir ons Engelse besoekers was ons plaaslike Castle Lager,” het hy bygevoeg. “Ons kos en drankverkope wys dat Desember 2015 een van ons beste maande nog ooit was.”

Lede van die Barmy Army was ook van die rekord 3,05 miljoen mense wat tydens Desember die V&A Waterfront besoek het om voordeel te trek uit die gunstige wisselkoers. Carla White, woordvoerder van die V&A Waterfront, het gesê die toename in die aantal besoekers kan toegeskryf word aan ʼn aantal faktore, waaronder die Nuwejaarskriekettoets.

Een van die gunstelingliedjies wat die Barmy Army tydens die toer gesing het, was: “Ons het R24 vir elke pond, R24 vir elke pond…” op die wysie van “He’s got the whole world in his hands”.

Kaapstad staal homself wanneer die Barmy Army in Februarie sal terugkeer vir die eendagreeks en T20-wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eliza-beth ·

Ag verdomp ja… en dis grotendeels Zuma se skuld. ONS kan g’n nooit in 5 ster hotelle bly nie, maar die ou spul kan. Ai tog, ek weet toerisme is uitstekend vir die ekonomie maar ai, ons LY, mense ons LY…

Carel ·

Dit onderstreep weer hoekom so baie van ons Suid Afrikaners emigreer.Net om hier te kom kuier en Dan gaan verdien hulle weer hul ponde en Euro’s,en los die mislukte regering vir die wat agter bly. Mooi man mooi! Dit klink en lyk so lekker!!

Christo Pienaar ·

Dit bewys net dat die Wes-Kaap se toerisme is net soos landbou die enigste volhoubare ontwikkeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.