Barry Bateman: Kryger vir geregtigheid

Barry Bateman tydens een van sy vele uitsendings. (Foto: Verskaf)

Hy is geen vreemdeling vir omstredenheid nie – voor en agter die kameras – en Barry Bateman weet hoe om die moeilike vrae te vra.

Nou bevind hy hom in ʼn ander rol: dié van kommunikasiebestuurder by AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel.

“Ek het my volle potensiaal as joernalis bereik. Ek is ʼn senior verslaggewer en die volgende stap is om ʼn redakteur te wees. Ek wil nie ʼn redakteur wees nie…” sê Bateman waar hy hom begin ingrawe in sy nuwe kantoor in Centurion.

Daar gaan nog nie veel op sy nuwe lessenaar aan nie, hy begin Dinsdag eers amptelik in die rol, maar ʼn tekort aan planne vir die nuwe taak ontbreek nie.

Wat hy wíl doen, sê Bateman geesdriftig, is om sy ondervinding as joernalis te kombineer met ʼn regsagtergrond – hy het onlangs met sy LLB-studie begin – en om só die gaping tussen die howe en nuuskantore te oorbrug.

“Die geleentheid hier was om die werk wat die privaatvervolgingseenheid doen, op so ʼn manier te verpak dat dit maklik verteerbaar vir nuuskantore is,” sê Bateman.

Nuus kán hy verpak en hy doen dit al sowat twee dekades lank uitstekend: eers as verslaggewer by Pretoria News, daarna by EWN en meer onlangs as senior TV-verslaggewer by eNCA.

Sy nuusdekking van die Oscar Pistorius-moordverhoor het van hom ʼn bekende gesig en stem in miljoene mense se huise gemaak terwyl Nel, destyds nog ʼn staatsaanklaer, gesorg het vir ʼn skuldigbevinding van die voormalige paralimpiese atleet.

Dis egter nie net die groot en opspraakwekkende gebeure wat aandag verdien nie, glo Bateman. Dit is ook gewone mense wat deur Suid-Afrika se regstelsel in die steek gelaat word, wie se stories die moeite werd is om te vertel. En elkeen van hulle verdien geregtigheid.

Bateman het onlangs ʼn onderhoud met Nel gedoen toe hy grappenderwys vra of die eenheid sy kommunikasiedienste benodig. Nel was nie links nie en het dadelik gevra of Bateman so ʼn aanbod sou aanvaar. Net ʼn paar dae later was dit gedane sake en Bateman het die jongste lid van die gedugte privaatvervolgingspan geword.

Bateman gesels die afgelope week oor sy nuwe rol by AfriForum se privaatvervolgingseenheid. (Foto: Maroela Media)

Die reaksie op sy besluit om hoofstroomjoernalistiek vaarwel toe te roep en hom by die eenheid aan te sluit, is oorweldigend positief ontvang, sê Bateman. Natuurlik is daar altyd diegene wat kritiseer en fout vind, maar hy skud die negatiwiteit af.

“Oordeel my op die werk wat ek doen. Die privaatvervolgingseenheid is uniek in die Solidariteit Beweging deurdat dit onafhanklik werk.

“My werk en dié van die eenheid moet beoordeel word op wat dit doen: die ontwikkeling van ʼn konsep van privaatvervolging. Die proses is nog in sy kinderskoene en ʼn lang pad lê voor,” sê Bateman.

Hy hoop ook om die beginsel dat selektiewe vervolging nie geduld sal word nie, asook dié van privaatvervolging te help vestig en dat diegene wat vantevore deur die stelsel beskerm is, geen plek meer sal hê om weg te kruip nie.

Bateman was self al in warm water. In 2019 is hy ʼn maand lank sonder betaling by EWN geskors nadat hy op kamera vasgevang is waar hy ʼn neerhalende term gebruik het om na EFF-leier Julius Malema te verwys.

Hy antwoord eerlik op die vraag oor of die gebeure nog by hom spook.

“Dit was ʼn laagtepunt vir my,” sê hy.

“Die grootste teleurstelling was dat ek my werk as joernalis suksesvol gedoen het, maar dat dit verlore gegaan het oor ʼn fout wat ek begaan het. Dit het die aandag afgetrek van die storie en as ʼn joernalis moet jy nooit self die storie word nie.”

Kort voor Bateman die opmerking gemaak het, het hy die EFF-leier drie vrae gevra en kry hy Malema toe sover om op kamera toe te gee dat hy ʼn polisiebeampte aangerand het. “Dit het ongelukkig verlore gegaan oor wat ek gedoen het,” sê hy.

Bateman het die voorval agter hom gesit en voortgegaan met sy werk om diegene in magsposisies aanspreeklik te hou. “Dit was regdeur my loopbaan nog altyd my dryfveer,” sê hy.

Die reaksie op sy besluit om hoofstroomjoernalistiek vaarwel toe te roep en hom by die eenheid aan te sluit, is oorweldigend positief ontvang, sê Bateman. (Skermgreep: eNCA)

Hy kyk ook na die fantastiese werk wat ondersoekende verslaggewers in Suid-Afrika doen en sê in sy nuwe rol sal hy ook hier ʼn bydrae kan lewer, al is dit uit ʼn ander invalshoek.

En nee, nes daar tydens vervolging nie onderskeid in die reg getref mag word nie, tref die privaatvervolgingseenheid ook nie onderskeid wat betref diegene wat hy help nie.

“As jy vra wie die eenheid bedien, is dit enigiemand wat ʼn onreg aangedoen is, enige plek waar daar ongeregtigheid is en waar daar ruimte is vir die eenheid om in te gryp,” sê Bateman.

Bateman is ‘n gesoute joernalis met jarelange ervaring. (Foto: Verskaf)

Soms verg dit net ʼn reeks streng briewe, soms ʼn diepgaande ondersoek en soms is dit nodig om die staat trompop in die hof te loop om te verseker dat geregtigheid geskied. Dit is ook nie net die hoëprofielsake – soos die moordverhoor van die Bafana-kaptein Senzo Meyiwa waarby die eenheid betrokke is – wat saak maak nie.

Dit is ook in die sake wat buite die kollig afspeel, waar Bateman wil help verseker dat geregtigheid geskied.

Hy en sy vrou, Sholain Govender-Bateman, is die ouers van twee dogters, Isobel (14) en Aishwari (11). Op ʼn dag kan dit net so wel een van hulle wees wat vergeefs pleit om hulp by ʼn regstelsel wat hulle in die steek laat – en ongeregtigheid is een ding wat Bateman nie gaan duld nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.