Basaar word gemeenskap se reddingsboei in knellende droogte

Deur Sarie Marais-Nell

Wanneer Trudie Vermeulen van Agterplaas haar droogteverhaal vertel, klink dit meer na ʼn radiodrama as ʼn sug-en-trane-sage. Haar borrelende vertelstyl neem jou van die dag toe haar man, Osie (OC), sy werk as koöperasie-bestuurder op Bloemhof verloor het weens die droogte dáár tot by die sesde jaar van droogte wat Sutherland in die Noord-Kaap tans beleef.

“Vyf jaar gelede toe Osie sy werk verloor, huil en bid ons ʼn hele week lank oor ons toekomsplanne,” sê Vermeulen.

“Gelukkig was die twee erfplase buite Sutherland ons uitweg. As ons nou terugkyk na die manier waarop ons Bloemhof-kleinhoewes verkoop is, hoe ons verkoopkontrak bepaal die koper moet die grond oor ʼn tien jaartydperk aan ons afbetaal – dis suiwer voorsiening van Bo. Daardie geld dra ons nou deur hierdie droogte.”

Vermeulen se weergawe laat ʼn mens die prentjies sien: Hoe hulle daardie trok oppak en Karoo toe trek; eerstens ʼn klipaltaar met ʼn houtkruis by hul plaashek oprig. “Want die Here het gesê ons beweeg nou op geseënde grond.”

En hoe daardie kruis elf maande later as’t ware die vuurvlamme omswaai toe ʼn brand weens weerlig ʼn groot deel van hul plaas afbrand. “Die klipstapel en kruis het ons werf beskerm, gekeer dat die vrugbaarste deel van Agterplaas verbrand – hoe kan mens nié glo nie?”

Al het die verbrande dele nog geensins herstel nie.

Trudie Vermeulen se dogter, Lelani, woon nou by haar ouer broer in Kathu. (Foto: Verskaf)

En al byt die droogte. “Ons dogter Lelani het begin swaartrek. Die daaglikse gesig van diere wat in die veld vrek, ʼn plaasaanval in ons streek, haar eensaamheid as tuisskoolkind – ons moes ander opsies ondersoek.”

Tans woon Lelani by haar ouer broer in Kathu – 890 km verder – waar ʼn skool en sosialiseringsgeleenthede oorlewingsmeganismes vir ʼn tiener bied.

“Terwyl mens hard werk op ʼn Karoo-plaas, het my siel verveeld geraak en ek bid. Ek vra die Here waarom het Hy my hier kom neersit, waar alles bruin en vaal is, waar mense so ver van mekaar woon? In ʼn droom kry ek een woord as rigtingwyser: Johenco.

“Ek kontak dadelik die Johenco-ouetehuis en daar vind ek my Sutherland-roeping: Johenco benodig hulp met basaarreëlings,” vertel Vermeulen.

Daardie eerste jaar bring die basaar R10 000 in en die bestuur juig. Die volgende jaar beloop die basaar-oes R60 000. “Ons het saans al die boere gebel. Ek glo vas Sutherland-dorp soos ons dit ken, is opgebou deur daardie ouetehuis-inwoners. Dis nou tyd om vir hulle dankie te sê; om ʼn kommervrye oudag vir hulle moontlik te maak.”

Begeesterd stel Vermeulen voor dat sy en Osie alle basaarreëlings oorneem. Toe die bestuur die leisels huiwerig oorhandig, val Vermeulen terug op haar beproefde noodplan: “Ons en gebedsgroepies begin bid, want onthou die boere is moedeloos weens die droogte; die ouetehuis moes minimumlone begin betaal en oral heers taai tye.”

Trudie Vermeulen (regs) by vleis wat vir die basaar verwerk is. (Foto: Verskaf)

Met gesegdes soos “charity begins at home” en “kom ons bewys ons dankbaarheid vir die voerhulp wat ons periodiek kry”, sweep Trudie die hele gemeenskap op vir die 2019-basaar.

“Een boer wat 100 lammers weens droogte verloor het, skenk een lam. Iemand sê hy het geen lammers nie, maar skenk ʼn ou ooi vir kookgeregte. Osie skenk ʼn bees wat in hierdie droogte sowaar 172 kg weeg en ons verwerk elke stukkie geskenkte vleis in steaks, biltong, sosaties of droëwors, gaar geregte, of bene- en maalvleis.”

Johenco-inwoners is verantwoordelik vir die allerlei-tafel en hulle skenk: blompotjies, ʼn resepteboek, ʼn seepbakkie en speseryrakkie, gebreide kombersies wat uitgeloot word – hul bydraes beloop ongeveer R6 000. ʼn Weduwee dra ʼn enkele broodjie aan, gebak met haar laaste meel. Iemand skenk twee pakkies jellie, nog iemand een boksie vla.

“Drie lewende skape word opgeveil vir R1 200 elk, en met pannekoek en koeke en terte staan hierdie gemeenskap saam, vergeet almal vir ʼn paar ure van hierdie vreeslike droogte.”

Tot almal se verstomming bring die basaar R102 433 in – ʼn eerste vir Sutherland.

“Hierdie droogte bring nuwe fasette van ons menswees na vore,” glo Vermeulen. “Dis asof die droogte ons dieper binne onsself laat delf vir vermoëns om ons deur hierdie groot uitdaging te dra.

“En ons leer waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg om jou doel te bereik.”

“Met pannekoek en koeke en terte staan hierdie gemeenskap saam, vergeet almal vir ʼn paar ure van hierdie vreeslike droogte.” (Foto: Verskaf)

Op hul plaas was die reënval die laaste drie jaar ondergemiddeld en vanjaar het daar nog nie eens 100 mm geval nie. Tog probeer Vermeulen daagliks haar man ondersteun. “Vriendinne bel mekaar saans, bemoedig mekaar. Dan kan vroue weer môreoggend hul skouers onder hul mans inskuif.

“As ek soggens opstaan en sleg voel oor my lewe, bel ek Johenco, doen navraag oor hul welstand. Dit help om nie net te fokus op my eie wêreldjie nie; mens moet bewus bly van die nood van die wêreld daar buite.”

Vir Johenco se jaarafsluiting reël Vermeulen geskenkpakkies met bederfware produkte vir elk van die 55 inwoners plus 20 personeellede. “Ons vroue knyp maandeliks klein bedraggies af vir daardie aankope. Dis vir ons ʼn eer; die planne maak ter wille van Johenco. Dit trek ons aandag af van die aftakelende droogte, wat tog nooit ons siele moet oorwin nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Alida X ·

Ek het ‘n knop in my keel.
Wonderlik as ‘n gemeenskap so kan saamstaan.
Ons boer in Limpopo en het ook ondergemiddelde reënval maar daarmee saam nogsteeds oorvloedige seëninge.

Gerda ·

Dankie vir hierdie boodskap veral waar mens deesdae moedeloos wil word oor al die slegte nuus.
Trudie jou verhaal bewys maar net weer dat God ons Vader deure oopmaak wat ons menslike verstand te bowe gaan!
Ons glo dat God die uitkoms van reën gaan stuur!
Seën vir jou en julle gemeenskap.

Arsène Lupin ·

Spreuke 16:3 Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag.

Sara ·

Dis fantasties om hierdie skrywe te lees.
Ek woon geensins naby Sutherland nie, maar sal graag wil hoor hoe mens tog vir Johenco ‘n bydrae kan maak?
Mag julle steed meer en meer geseënd wees soos julle op jul knieë bly.

Toela ·

Ek sien dit dikwels…uit nood word so baie dinge gebore, mense ontdek talente wat hul nooit eers van geweet het nie. Ek salueer hierdie vrou, elke liewe boervrou wat haar man moet bystaan en ook uitreik na ander. Wel gedaan My goeie en getroue slaaf..

JD ·

Kan nie glo daar bestaan nog so goeie gemeenskap nie , in ons omgewing het sommige boere ń oorvloed sêen , maar koop alles in groter stede of voer self in en die plaaslike gemeenskap is lam gelê onder armoede , en alle besigheid is weg , ons dorpe en omgewing trek ook swaar , hoop daar sal vir ons almal ń uitweg kom .

charmaine ·

As n mens hierdie storie lees en dadelik besef ek hier waar ek sit moet ek n gebed doen, n gebed vir hierdie gemeenskap en die vroue wat saam staan. Ten eerste moet julle, die vroue van die gemeensakp julle self n aplous gee om so deur dik en dun duer droog of nat by julle mans te staan ek hoop en glo hulle sien julle goue dade raak.
En dan bid ek en se dankie vir wat ek het ek is dankbaar op hierdie Maandag oggend om nie n worry te he nie ons dink altyd ons worries en probleme is groter dit is nie dit is hoe ons die hanteer en hoe jy daarvoor bid.
Ek bid uit my hart vir hierdie gemeenskap dat julle soveerl reen mag kry dat julle tot by julle kniee in die water sal staan. Sterkte!

Willem ·

Mooi so! Ons as Afrikaners is nou genoeg geboelie. Ons sal ‘n nuwe “venue” vind as dit moet.

Johan ·

Hierdie berig maak my trots om ‘n Boer te wees! Anders as ander volke sal ons ‘n plan maak en self voorsien, eerder as om bak-hand rond te sit sodat ander moet sorg.

Helgaard Dreyer ·

Môre almal as jy na die Here kyk,kyk Hy na jou.Wat ń wonderlike besaar van Sutherland se mense

JR ·

Ek kyk nou die dag ek dink op die program Kwela op tv van die dorpie dit het so reg in my hart gekruip ek sê vir my dogter ons moet daar gaan bly sy sê ma jy sal verkluim daar ek sê nee my kind met n gemeenskap soos Sutherland sal jy warm en gelukkig wees hoe waar is my woorde sterkte aan julle God seën julle gemeenskap

Sandy ·

Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. En God se genade en bystand is bo alles wat ons voor kan vra. Ek hou van hierdie goeie gevoel storie. En die uiteinde, vra die vrou niks vir haarself nie, sy vra nie vir “charity” nie. Dis susters wat dit doen vir ander susters in nood.

Tiekie ·

Dankie vir hierdie ongelooflike storie.
Soveel motivering en laat ‘n mens skaam word voor God omdat ons so gewoond is om net te kla. Mag die sluise van die Hemel oor julle oopgemaak word.
Baie seen vir elkeen wat betrokke is.

My mening ·

Wat n wonderlike voorbeeld vir ons almal wat so maklik kla! God maak alles moontlik. Ons moet dit glo en daarvolgens leef sodat SA weer vir ons almal n wonderlike land kan wees.

Pensioenaris ·

Wat ‘n eye opener is hierdie berig nie! Baie dankie vir elke sterk vrou wat so agter haar gemeenskap en eggenoot staan. Ek bid vir sterkte vir julle elkeen en mag julle geseën word met milde reën.

hercu ·

dankie HeiligeGees vir reën in die dorre, droë landstreke, in Jesus naam, amen :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.