Basjir dalk landuit ondanks hofbevel

Omar al-Bashir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Die Soedannese president Omar al-Basjir, ʼn voortvlugtende van die internasionale strafhof (ICC), sal na verwagting Suid-Afrika verlaat nog voordat owerhede kans gekry het om hom aan te keer en ondanks ʼn hofbevel in die Pretoriase hooggeregshof dat die land se owerhede nie mag toelaat dat hy die land verlaat nie.

Dit was laat Sondagaand nog nie duidelik of Basjir reeds landuit is nie, maar daar is aanduidings dat Suid-Afrika bereid is om die ICC, internasionale konvensie en ʼn hooggeregshofbevel, te verontagsaam. Dit beteken dat Basjir ʼn enorme grondwetlike en diplomatieke krisis geskep het en ʼn groot vraagteken oor Suid-Afrika se volgehoue lidmaatskap van die ICC.

Die Nasionale Uitvoerende Raad van die ANC het Sondag gesê die ICC is “nie meer bruikbaar vir die doel waarvoor dit opgerig is nie”.

Die ICC het twee lasbriewe van inhegtenisneming vir Basjir in verband met volksmoord, oorlogsmisdade en misdade teen die mense van Darfoer in Soedan.

As ʼn lid van die ICC is Suid-Afrika verplig om hom in hegtenis te neem en het in die verlede sy eie lasbriewe van inhegtenisneming uitgereik.

Die Suider-Afrikaanse Litigasiesentrum het Sondag die Pretoriase hooggeregshof genader om ʼn bevel uit te reik wat Suid-Afrikaanse owerhede dwing om op die lasbriewe te reageer en Basjir in hegtenis te neem en aan die hof oor te gee.

ʼn Aantal Suid-Afrikaanse beamptes, buitelandse diplomate en analiste by die Afrika-unie, wat Basjir bygewoon het, het gesê hulle glo hy sal die land Sondagaand verlaat om ʼn moontlik hofbevel van die hooggeregshof, dat polisie hom in hegtenis moet neem, vry te spring.

Ibrahim Ghandour, die Soedannese minister van buitelandse sake, het egter Sondagaand gesê Basjir sal slegs die land verlaat wanneer die beraad afgehandel is.

Regter Hans Fabricius sal na verwagting Maandag sy uitspraak lewer of Suid-Afrikaanse owerhede gedwing moet word om Basjir in hegtenis te neem. Fabricius het Sondag ʼn tussentydse bevel aan die grensposowerhede in die departement van binnelandse sake uitgereik wat Basjir verhoed om die land te verlaat hangende sy besluit of hy in hegtenis geneem moet word of nie.

Basjir het Sondag by die AU-beraad opgedaag en was deel van ʼn groepfoto van Afrika-leiers.

Regeringsbeamptes van Soedan het egter aan verslaggewers gesê Basjir het reeds die land verlaat. Een van die beamptes het opgemerk dat die land nie oor die hulpbronne beskik om alle uitgangspunte van die land te monitor nie.

Die Suid-Afrikaanse regering sal moontlik kan verduidelik dat Basjir uit die land gevlug het sonder sy medewete en kan dan die beskuldiging ontduik dat hy nie sy ICC-verpligting nagekom het nie. Basjir se vliegtuig het Saterdagaand by Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland.

Anton du Plessis, uitvoerende direkteur van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in Pretoria, het egter gesê dit is ʼn swak verskoning. “Hulle weet waar hy ingekom het, so hulle weet van waar hy sal vertrek,” het hy gesê.

Indien Basjir reeds die land verlaat het, kan beamptes van die departement van binnelandse sake en moontlik die minister van binnelandse sake aangehou word op aanklag van minagting van die hof. En Suid-Afrika sal nie net sy verpligting teenoor die Verenigde Nasies en die ICC versuim het nie, maar ook die nasionale wet van die land, aangesien Suid-Afrika die ICC in sy eie ICC-wet opgeneem het.

Lees alle vorige berigte oor Omar al-Basjir op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Ons regering is NET so skuldig aan volksmoord en misdade teen sy mense as wat Bashir is. Waterkloof lugmagbasis word vir ieder en elk oopgestel en Zuma gaan net voort met sy gelieg. Ek wil sien hoe hulle hulle self uit dié een kry as Bashir werklik reeds landuit is!

Piet ·

Bashir het met sy eie vliegtuig gekom. Enige iemand sou tog kon sien of sy vliegtuig nog op Waterkloof staan of nie ? Waterkloof begin al ‘n stigma kry. Sy lughawe is ‘n plek waar enigiemand kan kom en gaan soos hy wil. Dit staan glo onder direkte bevel van JZ. Nee wat,
hulle sal hulle eie “broeders” mos altyd beskerm. En ooreenkomste en verdrae tel mos nie. Hou by jou woord, altyd, dis die regte ding om te doen.

tina ·

Die regering het mos gese dat die ICC nie meer vir hulle van belang is (wat vir my ‘n aanduiding is dat hulle nie omgee om nie meer ‘n lid te wees van die ICC ) waarskynlik om dieselfde redes as waarvoor Bashir skuldig is bevind is. Dit is nie ‘rocket science’ om deur hierdie mense te sien nie. Kop in een mus sou ek se.

CHRISTA ·

Nou het die buiteland bewyse dat die ANC nie ‘n bloue duit omgee vir ‘Wet en orde nie” – dis mos ook waarvoor ANC staan: Anarchy, Nepotism and Crime!!!

Leendert van Oostrum ·

Asseblief tog!

“ICC” is die afkorting vir die “International Criminal Court” wat opgerig is ingevolge die Statuut van Rome (wat deur die SA Parlement as ‘n wet van Suid-Afrika aangeneem is) en wat in Den Haag gesetel is.

Die Afrikaans vir ‘n “criminal court” word in Prinsloo, Alberts en Mollema (“Regsterminologie, 2015) aangegee as “strafhof”. Die Duits is volgens Google Translate “Internationaler Strafgerichtshof” en die Nederlands “Internationaal Strafhof”. Die korrekte Afrikaans sou dus “Die Internasionale Strafhof” wees. Wat mens ten beste sou kon afkort as “ISH”.

Hoe dit ook sy, “ICC” is Engels en is verkeerd in ‘n Afrikaanse artikel.

Sune van Heerden ·

Dagsê Leendert

Dankie dat jy ons hierop gewys het, dit is inderdaad ‘n fout wat ingesluip het.
Ons bring die wysiging aan.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Leon ·

Die regering besef nie die skade wat hul aanrig nie. Hulle maak nou van Suid Afrika ‘n regte “BANANA ” Republiek , maar wat kan jy verwag van so ‘n spul met ‘n man soos Zuma aan die stuur.

Issabelle ·

Dit is uieters skokkend & teleurstellend wat JZ , ANC , EFF & hulle trawante doen in SA. Ek hoop van harte dat IEMAND hierdie einste septiese & vrot regering van SA behoorlik in die bek sal ruk !! Om nie te praat van al die misdaad , moord , verkragting , diestal & korrupsie in die hele spul van die regering . Dan staan JZ & glimlag soos ‘n perd wat die July gewen het !!! Dis is absurd & verregaande wat JZ nie ALLES sal doen wat oneerlik is in SA ….. Hy IS & BLY ‘n ” samoosa ” verleentheid vir almal & dan gooi hy SA se naam nog weg vir ” chappies ” …….. SA SAL NOOIT weer reg kom met hierdie JZ president & hulle boelies nie ….. die skade is lankal al gedoen …..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.