Bates bevries van maatskappye wat skole teen miljoene ontsmet

Adv. Andy Mothibi, hoof van die spesiale ondersoeksoekeenheid, (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het ʼn bewaringsbevel ten bedrae van R40,7 miljoen bekom om die bankrekeninge en bates van diensverskaffers betrokke by Gauteng se skole-ontsmettingskandaal te bevries.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, het Donderdag terugvoer oor verskeie van die eenheid se ondersoeke gegee. Dit het onder meer ingesluit die omstrede kontrak wat die Gautengse onderwysdepartement toegeken het, asook dié aan Digital Vibes, ʼn kommunikasiemaatskappy wat ʼn kontrak van R150 miljoen by die nasionale departement van gesondheid losgeslaan het.

Gauteng se departement van onderwys het binne net drie maande R431 miljoen bestee aan die ontsmetting van skole in die provinsie.

Luidens ʼn verslag wat vroeër vanjaar aan die provinsiale wetgewer se komitee vir onderwys voorgelê is, het die departement slegs enkele miljoene vir die ontsmetting van skole begroot, maar meer as R400 miljoen is daaraan bestee, terwyl die lys van diensverskaffers eindelik meer as 200 was.

Mothibe sê die bates en bankrekeninge van 14 diensverskaffers mag nou ingevolge ʼn bevel van die spesiale tribunaal bevries word.

Wat betref die R150 miljoen-kontrak aan die maatskappy Digital Vibes het die SOE reeds bevind die toekenning daarvan was onreëlmatig.

Digital Vibes word bestuur deur Tahera Mather en Naadhira Mitha, albei goed bekend aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. Mkhize het Woensdag ontken dat hy vriende met die twee is, maar wel dat hulle “kamerade” is.

Die kontrak is toegestaan vir die lewering van kommunikasiedienste aan die departement. Mkhize het ook ontken dat hy enigsins by die tender gebaat het, of sy invloed in die toekenning daarvan gebruik het.

Mothibe sê in hierdie stadium volg ondersoekers die geldspoor van die kontrak en sodra ʼn regspan aangewys is, sal daar begin word met die proses om die spesiale tribunaal te vra vir onder meer die kansellering van die kontrak, asook vir die moontlike bevriesing van bates.

Dit kan binne twee weke verwag word.

Mothibe sê alle bewerings wat met die kontrak verband hou word ondersoek, ook van amptenare op die hoogste vlak.

“Ons sal kyk na wie wat nie gedoen het nie,” sê hy.

Op ʼn vraag oor die moontlikheid om verliese wat die staat weens die toekenning van die kontrak gely het te verhaal, sê Mothibe ondersoekers is nog besig om die geldwaarde daarvan te bepaal.

Volgens hom word verskeie amptenare, individue en private maatskappye by die ondersoek betrek.

Bedrog met TERS-toelae

Mothibe sê die SOE het nou ook ʼn mandaat ontvang om bewerings van bedrieglike eise van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en bedrog met die uitbetaling van sogenaamde TERS-toelae te ondersoek.

Verskeie amptenare is reeds geïdentifiseer en daar is begin met die proses om die geld te probeer herwin. Die SOE het ook aanbevelings van tugstappe teen verskeie amptenare gedoen, terwyl strafsake in sommige gevalle aanhangig gemaak is.

Meer as 6 000 staatsamptenare wat glo op bedrieglike wyse by die betaling van toelae gebaat het, is reeds uitgewys.

Die ondersoek na ongerymdhede by die wapenvervaardiger Denel duur ook voort en Mothibe sê ʼn strafregtelike klag is reeds aanhangig gemaak oor die beweerde diefstal van Denel se intellektuele eiendom.

Ook in dié geval sal die eenheid die tribunaal nader om enige verliese te probeer herwin.

Verskeie vermeende betrokkenes, onder wie amptenare van Denel, diegene wat reeds die maatskappy verlaat het, voormalige uitvoerende hoofde en sommige raadslede word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris dupreez ·

Die staatsamptenare wat by korupsie en bedrog betrokke is moet afgedank word en hulle poste moet nie weer gevul word nie.

Dup ·

My vraag bly : Wie het al hierdie skelm “tenders” bestuur en GOEDGEKEUR?

twaalfboor ·

“In for a penny in for a pound”. Maar dit gaan lekker met ons belasting betalers se geld.

Genis ·

Lusifi must GO! Moet asseblief nie dat die groetery jou terug hou nie Lusifi

Persheks Adri ·

Fire sommer almal sonder voordele, want dan betaal ons al weer vir opsy staan en snert hamba!

fs ·

en hy dink daar is ‘n wesenlike verskil tussen ‘n kameraad en ‘n vriend… ‘n kameraad is ‘n HEGTE vriend… ek ruik ‘n helse groot rot… stap maar mnr.. volg vir mnr EISH … so kry elke helsem sy dag

Pieter J ·

Hulle het heelwaarskynlik die skole met 20 jaar KWV ontsmet. Die slim dokter het seker gedink dit is die beste vir die omstandighede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.