Bates gegryp van dié wat glo vrou vir goud ontvoer

(Argieffoto ter illustrasie: pixabay)

Verskeie voertuie wat glo die opbrengs van misdaad was en gespruit het uit die ontvoering van ʼn Vrystaatse vrou net minder as drie jaar gelede, is aan die staat verbeurd verklaar. Drie voertuie, kontant van R1,3 miljoen en stukke goud ter waarde van R3,2 miljoen is danksy die suksesvolle aansoek van die batebeslagleggingseenheid verbeurd verklaar.

Die aansoek kom nadat Charmaine Botha in November 2018 by haar werk op Welkom in die Vrystaat ontvoer en in ʼn hut in Thabong gyselaar gehou is. Charmaine se ontvoerders het haar man, Johnny, ʼn werker by die Harmony-goudmyn in die Vrystaat, daarna gekontak en ʼn goudstaaf in ruil vir Charmaine se vrylating geëis.

Johnny het die ontvoerders se eis by Harmony en die polisie aangemeld en die mynbestuur het aan hom ʼn goudstaaf ter waarde van R6,5 miljoen gegee sodat Charmaine se vrylating bewerkstellig kan word.

Die ontvoerders het haar vrygelaat nadat die staaf aan hulle oorhandig is.

Die polisie het tien mense, onder wie Sechaba Seloana, John Taile, Wellington Sithole en Lovemore Ndlovu, kort daarna in hegtenis geneem.

Seloana was in besit van ʼn Jeep Cherokee, R580 000 in kontant en 21 stukke goud ter waarde van R3,2 miljoen. Sithole en Taile is betrap met R524 000 en R260 000 onderskeidelik, terwyl Ndlovu in besit van ʼn Nissan Almera was.

Seloana en Sechaba het erken dat hulle ʼn rol in Charmaine se ontvoering gespeel het en dat hulle die goudstaaf in kleiner stukke opgedeel en in Sebokeng verkwansel het, sê Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat.

Seloana het die hut uitgewys waar Charmaine aangehou is, asook die plaas waar die goudstaaf gesmelt en in kleiner stukke opgedeel is.

Adv. Eugene Ontong, namens die batebeslagleggingseenheid, het tydens die aansoek in die Bloemfonteinse hooggeregshof aangevoer Seloana en die ander het die voertuie gebruik om die goud van Welkom na Sebokeng te vervoer en het goed geweet wat sou gebeur as die goud in die voertuie gevind word.

Ontong het aangevoer die voertuie is gebruik in die pleeg van ʼn misdaad. Die 21 stukke goud wat gevind is, was volgens die staat die opbrengs van misdaad, terwyl die kontant waarop beslag gelê is, betaling vir die goud was.

Waarnemende adjunk-regter‑president Celeste Reinders het Donderdag die batebeslagleggingseenheid se aansoek toegestaan en die voertuie, geld en goud aan die staat verbeurd verklaar.

Shuping sê Seloana en sy medebeskuldigdes word intussen ook strafregtelik vervolg op aanklagte van ontvoering, afpersing, die ontwettige besit van edelmetale en geldwassery.

Die saak teen hulle duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Fantasties.Vat waar dit saak maak,hulle beursies en besittings.

Sarel ·

Staat verbeurd verklaar…..ek wonder in SA
Wie is hierdie ” Staat”?

Danie ·

Aan die staat verbeurd verklaar?
Wat van Harmony se verlies en die onbaatsugtige samewerking van die mynbestuurder?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.