Bathabile Dlamini eers later gevonnis

Bathabile Dlamini (Foto: GCIS)

Bathabile Dlamini, voormalige minister van maatskaplike werk, sal volgende maand haar lot aanhoor nadat sy Woensdag aan meineed skuldig bevind is. Die oudminister sal op 1 April gevonnis word.

Argumente ter versagting en verswaring van die vonnis is gistermiddag ná haar skuldigbevinding in die Johannesburgse landdroshof aangehoor.

Die staat het in sy betoog daarop gewys dat Dlamini vroeër al op aanklag van bedrog skuldig bevind is. Dié uitspraak is in 2003 in die Wes-Kaapse hooggeregshof gelewer en spruit uit die destydse misbruik van reisbewyse deur parlementslede, onder wie Dlamini.

Matthews Rampyapedi, senior staatsadvokaat, het dit aan landdros Betty Khumalo gestel dat die aanklagte van meineed en bedrog albei met oneerlikheid verband hou.

Hy het aangevoer dat Dlamini ’n hoë amp binne die staatsdiens beklee en dus ’n voorbeeld aan landsburgers behoort te stel. Hy het toe by die hof gepleit om ʼn vonnis op te lê wat ʼn boodskap sal stuur dat lieg onder eed nie geduld kan word nie.

Dlamini is tans die president van die ANC se vroueliga en lid van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) nadat sy in 2019 as minister bedank het.

Die aanklag van meineed hou verband met haar getuienis tydens ʼn ondersoek wat destyds deur die hoogste hof gelas is oor haar rol in die sogenaamde maatskapliketoelae-krisis van 2017.

Dlamini het vroeër onskuldig gepleit op dié aanklag van valse getuienis in 2018 voor die Konstitusionele Hof. Sy het deurgaans volgehou dat indien sy wel valse getuienis afgelê het, sy dit onwetend gedoen het.

Andrew Chauke, die Gautengse direkteur van openbare vervolging (DOV), het intussen Dlamini se skuldigbevinding verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Het sy verklaar dat sy ‘n skoon rekord het toe sy vir die staat begin werk het ?\? Indien nie , is dit weereens bedrog .

Suzette

Hoekom kan sy nie onmiddellik gevonnis word nie? Sy is mos nou skuldig – hoekom moet daar altyd ‘n maand of twee gewag word? Hoekom moet alles altyd so sloer?

Misky

Seker nie toevallig dat haar vonnis op 1 April, “April Fools Day” is nie. Gaan seker lagwekkende vonnis wees, maar hoop ek is verkeerd.

Kobus

Ek kry solank my springmielies en Oros reg vir ‘n laaaaang uitgerekte proses. Vroue liga gaan seker paar danspassies uitvoer met die nodige vuurwerke ens ens

Magda

Hoop daar gaan n voorbeeld van haar gemaak word. DIE ANC moet as n politieke party gediskwalifiseer word, di opregtes tussen hulle kan n ander party stig, maar di ANC moet ASAP gediskwalifiseer word asb.