BBP ‘bemoedigend’, maar lang pad lê voor

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die nuus oor die land se “beter as verwagte” BBP word wyd verwelkom.

“Maar Suid-Afrika het nog ’n lang pad om na ekonomiese herstel te stap,” meen die vakbond Uasa.

“In ’n land waar die meerderheid werkloos is, sal mense bloot in armoede probeer oorleef met ’n swaarder las op belastingbetalers om die ekonomie aan die gang te hou,” sê Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom by die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, sê egter dit is “bemoedigend” dat die jongste BBP-syfers herstel toon ná al die onlangse ekonomiese terugslae, waaronder die Covid-19-inperkings en die burgerlike onrus van Julie verlede jaar.

“[Die jongste BBP-syfers] versterk die algehele groei in BBP van 4,9% BBP, wat vir 2021 aangeteken is, ná die negatiewe groei van -6,4% wat ons die vorige jaar beleef het. Ekonomiese produksie is nou feitlik terug na pre-pandemievlakke, wat ongetwyfeld ook ondersteun word deur die voortgesette globale oplewing in kommoditeit.”

Die land se BBP het in die eerste kwartaal van vanjaar met 1,9% gegroei, wat beteken dat die omvang van die ekonomie nou weer op dieselfde vlak is as waar dit vóór die Covid-19-pandemie was.

Parsons sê voorts die styging van 3,6% in bruto vastekapitaalbelegging, wat ’n groot versneller van groei en indiensneming is, is “gerusstellend”.

“Die bruto vastekapitaalbelegging het [verlede jaar] nog op net 13% tot BBP gestaan, wat ongeveer die helfte is van wat vir veel hoër ekonomiese groei en werkskepping vereis word, veral indien die doelwitte van die Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan nagekom moet word. Die jongste verbetering in vastekapitaalbesteding sal dus verder bydra om die ekonomie te versterk.”

Parsons meen die jongste BBP-syfers sal waarskynlik beteken dat ontleders hul vorige voorspellings van tussen 1,6% en 1,8% vir BBP-groei in 2022 as geheel opwaarts moet aanpas. Hulle sal egter versigtig moet wees om nie hul voorspellings te ver aan te pas nie, waarsku Parsons.

Dít omdat negatiewe ontwikkelings gedurende die tweede kwartaal dalk nuwe afwaartse risiko’s vir die 2022-groeivooruitsigte skep. Hierdie ontwikkelings sluit in voortslepende beurtkrag, die onlangse vloede in KwaZulu-Natal en die globale ekonomiese gevolge van die konflik tussen Rusland en Oekraïne.

“Gegewe die globale en binnelandse onsekerhede wat steeds rondom die ekonomiese vooruitsigte vir 2022 heers, bly dit noodsaaklik dat hierdie opkomende positiewe groei nie vermors word nie, maar daarop voortgebou word deur die regte strukturele hervormingsbeleidstellings en projekte dringend in te stel om die nodige volgehoue ​​ekonomiese groei te bevorder.”

Maroela Media het vroeër berig aan die produksiekant het agt van die tien bedrywe positiewe groei in die eerste kwartaal ondervind – met vervaardiging wat die beste presteer het.

Finansiële, eiendom- en sakedienste, asook handel, het ook noemenswaardige bydraes tot BBP-groei gelewer. Handelsbedrywighede in die eerste kwartaal was lewendig met positiewe groei in groothandel, kleinhandel, voertuigverkope, asook spyseniering en akkommodasie. Dié sektore het dus ’n positiewe kwartaal agter die rug.

Moyo sê Uasa is egter bekommerd oor die feit dat mynwese en konstruksie albei ingekrimp het. Dit is boonop die boubedryf se vierde agtereenvolgende inkrimping.

“Uasa doen ’n beroep op die regering om meer op die herlewing van die ekonomie te fokus en groei te bevorder tot vlakke waar die werkloosheidsyfer aansienlik verminder word, ten einde die las op werkers en burgers te help verlig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Wens ons kan weer die lekker lewe en laer pryse en rentekoerse voor covid beleef.

Heinrich ·

Toemaar, die ANC sal gou ‘n stokkie steek voor ordentlike groei.

Frank John ·

ANC kan nie groei bevorder nie maar wel verval, dis hul natuur.

Deon ·

Ek lei af van hierdie berig, dat die sg BBP, nie noodwendig ‘n aanduiding van die “welvaart” van Jan publiek op die straat weerspieel nie.

Pietertjie ·

BBP. Baie Belangrike Probleem. Die verhoogde syfers (as dit ooit geloofwaardig is) gaan net tot rentekoersverhogings en verdere verarming lei. Wag en kyk maar…

annie ·

Die Reserwebank sal moet begin afsien van sy navolging van Westerse style om net te hoop op beleggings in die bankwese en daarvolgens die rentekoerse op te stoot vir eie gewin. Woede en skade aan die sisteem gaan volg waneer Suid-Afrikaners dik raak daarvoor. Dit kom.

mattk ·

Weet nie hoe die kaders dit bepaal nie, die stygende brandstof pryse veroorsaak negatiewe groei en die pas vrygestelde munisipale tariefverhogings (in Govan Mbeki ñ skrale 34%) gaan geen groei vir die eindgebruiker inhou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.