BBP-beskermers in Ekurhuleni verdien glo tot R81 000 per maand

geld 7

Argieffoto.

Die DA in Gauteng het sy skok uitgespreek oor die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) se BBP-beskermingsbeamptes wat meer as R81 000 per maand verdien. Die bedrag is bekend gemaak deur Ekurhuleni se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Frans Mmoko, in antwoord op ʼn vraag van die DA.

Volgens Mmoko wissel die jaarlikse salaris vir die EMPD se BBP-beamptes tussen R323 988 en R444 468 per jaar. Hy sê hulle word nie oortyd betaal nie, aangesien hulle ʼn vaste toelaag verdien –pleks van oortyd – wat bereken word op 10% van hul jaarlikse vergoeding.

Volgens die DA beteken dit dat ʼn beampte wat R444 468 per jaar verdien, ʼn vaste bruto salaris van R37 039 – plus 10% van die jaarlikse vergoeding (R44 446) – ontvang. Die DA sê dit kom neer op ʼn bruto salaris van sowat R81 485.

Michael Shackleton, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Gauteng, sê die party is in besit van ʼn salarisstrokie van een van die beamptes wat twee betalings – die vaste salaris van R37 039 en ʼn bykomende betaling – aandui. Die beampte verdien dus R81 485 per maand.

Beamptes wat ʼn jaarlikse salaris van R323 988 verdien, kry ʼn bruto salaris van R26 999, plus 10% (R32 398,80) van hul jaarlikse salaris. Die maandelikse salaris beloop dus R59 397,80, sê Shackleton.

“Die geld wat die BBP-beamptes betaal word, is belaglik, aangesien daar reeds ʼn tekort aan hulpbronne in die hele EMPD is,” sê hy.

“Dit is teleurstellend dat die Ekurhuleni-munisipaliteit besteding aan die metropolisie se BBP-eenheid prioritiseer, terwyl daar nie genoeg voertuie in sy vloot is om polisiesigbaarheid te verhoog en die veiligheid van Ekurhuleni se inwoners op paaie te verseker nie.”

Shackleton sê Ekurhuleni se burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, Lesiba Mpya, het nege BBP-beamptes, wat meer is as wat die burgemeester en die stadsbestuurder het. Hulle het elk ses lyfwagte.

“Ander burgemeesterskomiteelede het tussen drie en vier lyfwagte, terwyl drie BBP-beamptes die speaker oppas; die hoofsweep het twee; die polisiehoof twee en die finansiële hoof en die voorsitter van die munisipale rekeningkomitee het elk een beskermingsbeampte.

“Daar is geen verduideliking oor waarom Mpya nege beskermingsbeamptes het nie. In die geval van ʼn veiligheidsrisiko moet die polisie die risikobepaling vir enige raadslid doen.”

Shackleton sê dit is kommerwekkend dat Ekurhuleni nie salarisverhogings aan personeel kan betaal nie en verkies om die salarisverhoging in twee te verdeel, maar steeds opdok vir hemelhoë salarisse vir lyfwagte vir politici en senior bestuurders.

Shackleton sê die DA doen ʼn beroep op Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in Gauteng, om duidelikheid te gee oor die aantal beskermingsbeamptes wat vir  burgemeesterskomiteelede toegewys word. Die party soek ook duidelikheid oor die vaste toelae vir die betrokke beamptes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JM ·

Van oordeelsvermoë en prioritisering is daar geen sprake nie – wat is dít? Darem te lekker om net uit te deel! Geen wonder die munisipaliteite is in so ‘n finansiële gemors nie!

Niklaas ·

Waarvoor is al die lyfwagte ? Sommige beamptes het sommer 6 waar een of twee genoeg sou wees. Maar wie sal hul dan nou so graag wil doodskiet ?

Kokerboom ·

Dat ‘n mens sooo bang kan wees vir jou eie mense wat jou daargestel het dat jy so vermetel is dat die belastingbetalers jou moet beveilig en… hul ( die wat swaar belasting betaal) wou jou nie eers gehad het!!!

Janine ·

Die soustrein gaan binnekort opdroog.. Soos blankes daagliks uitgemoor word, raak die belastinggeldjies vinnig minder. Dan praat ons nie eens van diegene wat hul eie sakke heeltyd volstop nie…

Johann ·

Neem aan hulle hoef ook nie formeel aan te meld vir werk nie…is seker “under cover”…besig met hoogs geheime werk?

Wakkerslaper ·

Sien daardie blou lig gemors gereeld op die R21… dink die wêreld behoort aan hulle. Gee my groot plesier om hulle te ignoreer en eenvoudig nie pad te gee nie. Val omtrent uit hulle blink Europese voertuie van woede…HAHAHA!

Moedeloos ·

Goeie genade dis erg. Is hul dan so bang en ons moet ons maar self beveilig en dan is dit ook nie reg nie want die wetteloses daarbuite het meer reg as ek.

Jakes ·

Laat weet my asb as daar n vakature ontstaan. Ek sal vir helfte van die salaris werk.

Tanniepetoors ·

R81 000 per jaar is omtrent n polisie konstabel se salaris na belasting, medies en pensioen aftrekkings. Dan is sy/haar lewe ook elke dag in gevaar.
Wat doen hierdie mense heeldag? Staan rond met koeëlvaste baadjies, jaag op en af met blou ligte en lyk belangrik? Skandalig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.