BBP groei effens, maar…

Argieffoto (Foto: Stevepb/Pixabay)

Die jongste syfers vir die bruto binnelandse produk (BBP) toon dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die eerste kwartaal van vanjaar ʼn bestendige groei gehandhaaf en met meer as 1% toegeneem het, vergeleke met die laaste kwartaal van 2020.

Suid-Afrikaners word egter aangeraai om nie te gou hieroor opgewonde te raak nie.

Statistieke SA (StatsSA) het Dinsdag gesê die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die eerste kwartaal van 2021 (Januarie tot Maart) met 1,1% gegroei. Dit kom neer op ʼn jaarlikse groeikoers van 4,6%.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê egter dat hoewel 4,7%-groei beter is as wat verwag is, Suid-Afrikaners nie moet vergeet van die 7%-inkrimping van die vorige jaar nie.

Solidariteit is bekommerd oor die jongste BBP-syfers en meen die groei is nie genoeg om te vergoed vir die verliese wat deur die staat van inperking veroorsaak is nie.

“Terwyl baie ander lande reeds van die ineenstorting van 2020 herstel het, ploeter Suid-Afrika steeds voort terwyl minister Ebrahim Patel [handel en nywerheid] die ekonomie dood reguleer. Verder het kapitaalvorming ook met 2,7% gedaal, wat ʼn duidelike afkeer in belegging in Suid-Afrika wys,” sê Du Buisson.

Suid-Afrika se ekonomiese produksie het met meer as R100 miljard gedaal nadat die regering in Maart verlede jaar streng afsonderingsregulasies ingestel het om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan.

Die land was reeds voor die uitbreking van die koronavirus in ʼn resessie en kreun onder onvolhoubare openbare skuld.

Die verslapping van regulasies het daartoe gelei dat Suid-Afrikaanse ondernemings stadig begin herstel het, maar die ekonomie is nou eers in dieselfde posisie as vyf jaar gelede, wat aansienlik swakker as kort voor die pandemie was.

StatsSA het Dinsdag gesê die belangrikste drywers van die 1,1%-groei was die land se finansiële, mynbou- en handelsbedryf. Huishoudelike besteding het ook toegeneem.

Volgens Du Buisson is die oplossing vir Suid-Afrika se benarde posisie minder regulering. Hy vind dit kommerwekkend dat sekere bedrywe op die lang termyn steeds krimp terwyl slegs enkele ander floreer.

Du Buisson wys ook daarop dat dit veral die meer arbeidsintensiewe bedrywe soos elektrisiteit, vervaardiging en handel is wat die swaarste kry, veral as die jongste werkloosheidsyfers in ag geneem word.

Maroela Media het verlede week berig Suid-Afrika se werkloosheidspersentasie het teen einde Maart vanjaar op 43,2% gestaan – 3,5% meer as wat tussen Januarie en Maart verlede jaar aangeteken is.

“Dit is verblydend dat sektore soos die finansiële sektor groei, maar die realiteit is dat die meeste werklose mense ongeskool of halfgeskool is en dus nie deur hierdie sektore in diens geneem word nie. Hoewel die arbeidsintensiewe mynbousektor wel met 18,1% gegroei het, is dié sektor veral wisselvallig omdat dit deur kommoditeitspryse op die wêreldmark beïnvloed word. Dit is juis by ongeskoolde en halfgeskoolde arbeid waar die grootste nood lê, maar indiensneming word verder bemoeilik met regulasies soos swart ekonomiese bemagtiging en minimumloon.”

Du Buisson meen dit is egter nog moontlik om sake om te draai en die ekonomie te hervorm, mits onnodige en belemmerende regulasies summier geskrap word.

“Die tyd om infrastruktuurprojekte aan te pak sou ook nou ryp gewees het indien die staat se jammerlike onbevoegdheid en spandabelrige gewoontes nie in die pad daarvan gestaan het nie. Deur minder te reguleer kan almal die geleentheid kry om deel te word van die opbou van Suid-Afrika in plaas daarvan om tans net in die verval te deel.”

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bart-Man ·

N artikel soos die moet n grafiek ook by hê, mense raak opgewonde om groei te hoor. Maar let nie noodwendig op wat die basis is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.