BBP-ineenstorting ‘mensgemaakte ramp’

(Foto: Maroela Media)

Die Covid-19-pandemie het die ekonomie sleg bygekom. Statistieke Suid-Afrika het Dinsdag gesê die ekonomie het in die tweede kwartaal – April, Mei en Junie – met 51% ingekrimp, terwyl die bruto binnelandse produk (BBP) met 16% gedaal het.

Die organisasie Sakeliga het die 16%-daling van die eerste na die tweede kwartaal van die jaar as ʼn “mensgemaakte ramp” bestempel en sê die afsonderingsregulasies moet dadelik opgehef word. Suid-Afrika is in hierdie stadium op vlak 2 van die regulasies.

Sakeliga sê internasionale lugreise moet weer toegelaat word en die ramptoestand moenie verder as sy volgende verstrykingsdatum verleng word nie. Die ramptoestand verstryk volgende Donderdag.

“Die volgende stap op die lang pad na herstel is om die staat en staatsinmenging, wat die Suid-Afrikaanse ekonomie oor baie jare wesenlik verswak het, se omvang en ambisies drasties af te skaal. Herstel verg minder politiek, meer besigheid,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

“Die 16% daling in BBP tussen die eerste en tweede kwartaal is nie deur ʼn virus veroorsaak nie, maar deur die Suid-Afrikaanse regering se grendelstaat. Om verkeerde aannames oor die gesondheidsimpak van Covid-19 te maak was een ding, maar wat onverskoonbaar is, was die roekelose intensiteit, irrasionaliteit en skadelike verlenging van die grendelstaat wat die ergste produksie-ineenstorting nóg in Suid-Afrika veroorsaak het.”

Die organisasie eis die beëindiging van die afsondering, die ophef van die ramptoestand en die verandering van regulasies na vrywillige aanbeveling.

(Foto: Twitter)

Prof. Raymond Parsons, ʼn ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die power syfers is geen verrassing nie. Parsons sê die ekonomie is nou in ʼn diep resessie gedompel en dat die land na verwagting ʼn negatiewe BBP-groei van 10% vanjaar gaan sien.

Parsons sê lande se post-Covid-19-herstel gaan afhang van hoe vinnig hul ekonomieë en samelewing herstel. Suid-Afrika het die pandemie in ʼn reeds benarde finansiële posisie ingegaan en dít, tesame met die afsondering, gaan stadige herstel teweeg bring.

Op die korttermyn hang die ekonomiese herstel in Suid-Afrika af van hoe wêreldekonomieë vaar, hoe bestaande ekonomiese ondersteuningsmaatreëls doeltreffend in werking gestel gaan word, asook die tempo waarteen bestaande afsonderingsregulasies uitgefaseer word. Verbruikersvertroue gaan eindelik ook deurslaggewend wees, sê Parsons.

Parsons sê hoewel die ekonomie weer gaan begin spoed optel, lê ʼn moeilike tyd voor.

“Hernieude beurtkrag het nou ook ʼn groot vraagteken oor Suid-Afrika se vooruitsig op herstel geplaas.”

Parsons sê die syfers stuur ʼn kragtige boodskap aan die land se beleidmakers oor die ekonomie en meen Suid-Afrika moet so gou moontlik na vlak 1 van afsondering afgewentel word.

“Die jongste ekonomiese data dui daarop dat dit Suid-Afrika se ekonomie kan help as die Monetêre Beleidskomitee volgende week op sy vergadering die repo-koers verder kan verlaag. Inflasie is nie in hierdie stadium die probleem in Suid-Afrika nie.”

Hy sê ook volgende maand se mediumtermynbegrotingstoespraak moet duidelik wys dat Suid-Afrika beheer oor sy openbare finansies terugneem en geloofwaardige stappe doen om dit reg te kry.

Parsons sê beleidsonsekerheid moet uit die weg geruim word.

“Ekonomiese herstel benodig nou net soveel dringendheid as die pandemie.”

David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, sê die inkrimping wys presies hoe verwoestend die afsonderingstyd op die ekonomie was.

“Wanneer die nasionale ekonomie inkrimp, krimp provinsiale ekonomieë in. Die afsondering gaan dus sonder twyfel ʼn ernstige uitwerking op die ekonomie van die Wes-Kaap hê,” sê hy.

Maynier sê die provinsie het oproepe gelei vir die heropening van die ekonomie toe dit veilig was om dit te doen en het hard gewerk om sakeondernemings tydens die krisis te ondersteun.

“Ons het deur die krisis saam met sakeondernemings gestaan en ons gaan hulle tydens die herstelproses steeds bystaan. Daarom beweeg ons nou vorentoe en konsentreer ons op ons ekonomiese herstel in die Wes-Kaap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nie Verbaas ·

Lekker ANC. Nooit gedink julle slim regulasies gaan die nagevolge he nie ne?

Baardman ·

Al die voorstelle van die kenners val op dowe ore. Die ANC raadpleeg hulle eie korrupte onkundiges

Tanniepetoors ·

Nee Baardman, die die korruptes is nie onkundig nie. Die “powers that be” is net horende doof vir kundiges wat weet waarvan hulle praat. Die aanbevelings van die kundiges pas nie hul berekenings van wins uit die pandemie nie

Marius ·

Wie moet ons bedank , beslis nie Boland Bank nie sommer net die anc . So vang slim sy baas ne kopdoek zuma .

'n Simpelman ·

En steeds loop ons regering hand op die blaas met China

Oomniklaassevriend ·

Amen. Mensgemaakte ramp met komplimente van die anc.

Alleen Wolf ·

Ja, die ANC het en speel steeds’n massiewe rol in die ekonomiese verval wat ons beleef, moet egter nie die WGO vergeet waar die grendelstaat idee sy ontstaan het nie, en al die wereld leiers behalwe ‘n paar val vir dit.
Ek ontken allermins dat Covid 19 nie ‘n ernstige probleem is nie, maar die reaksie daarop deur baie van die regerings was oordrewe, die aanblaas van sensasie deur die media het nie baie gehelp nie.

Dirk Mostert ·

Begin ekonomiese herstel deur die Dept. Arbeid en alle arbeidswetgewing summier te skraap. Verbied vakunies. Snoei die staatsdiens met 90%, insluitende die parlement en kabinet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.