BBP-ineenstorting: Ramaphosa moedig nasionale samewerking aan

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sê die afname in die land se bruto binnelandse produk (BBP) tydens die tweede kwartaal van 2020 weerspieël die ernstige impak van die wêreldwye Covid-19-pandemie op die ekonomie en alle Suid-Afrikaners moet nou alles in hul vermoë doen om die ekonomie te help herbou.

Statistieke Suid-Afrika het Dinsdag gesê die ekonomie het in die tweede kwartaal – April, Mei en Junie – met 51% ingekrimp, terwyl die bruto binnelandse produk (BBP) met 16% gedaal het. Die land was in hierdie tyd onderworpe aan streng afsonderingsmaatreëls wat ook groot beperkings op die ekonomie gehad het.

“Lande reg oor die wêreld word deur ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar weens die pandemie, met gevolge wat nog dekades hierna gaan voortduur. Suid-Afrika het nie hierdie realiteite vrygespring nie,” het Ramaphosa in ʼn verklaring van die presidensie gesê.

Volgens Ramaphosa het dié uitdagings swaarkry vir Suid-Afrikaners veroorsaak en ook die voortbestaan van talle ondernemings bedreig.

“Nadat die regering vinnig en beslissend opgetree het om lewens te red en die pandemie onder beheer te bring, is die regering se fokus nou op ekonomiese herstel.”

Volgens die presedensie het die noodhulppakket van R500 miljard wat die president in April aangekondig het, die ergste gevolge van die pandemie verlig.

Meer as R40 miljard van dié pakket is deur die werkloosheidsversekeringsfonds aan meer as 4 miljoen werkers betaal om afleggings te voorkom, en meer as 5 miljoen begunstigdes het die spesiale Covid-19-toelaes vir maatskaplike verligting van nood ontvang. Altesaam R25 miljard is deur aanvullings op bestaande maatskaplike toelaes betaal, asook ʼn addisionele toesig vir versorgers vir ontvangers van kindertoelae.

Boonop is belastingverligting ter waarde van meer as R70 miljard uitgebrei na sakeondernemings in nood. Hierdie en ander maatreëls het die nodige verligting vir kwesbare individue en ondernemings reg oor die land gebied.

“Met die pandemie wat begin stabiliseer is doelgerigte aksies nodig om ekonomiese groei te herstel en die lewensbestaan van ons mense te verseker.”

Volgens Ramaphosa is dit nou die tyd om vinnig op te tree om Suid-Afrika op ʼn vinnige groeipad te plaas. “Ons kan nie voortgaan met sake soos gewoonlik nie. Ons sal hierdie oomblik van krisis gebruik om ʼn nuwe ekonomie op te bou en Suid-Afrika se ware potensiaal te ontgin.”

Ramaphosa lig drie belangrike prosesse uit wat geïmplementeer moet word om ekonomiese herstel te verseker.

Die eerste proses behels maatskaplike vennote wat binnekort ʼn sosiale kompak oor ekonomiese herstel aan die president gaan voorlê ná afloop van besprekings in die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad. Hierdie sosiale kompak identifiseer areas van akkumulasie en bied ʼn basis vir gesamentlike optrede deur alle vennote.

Daarna sal die regering sy ekonomiese herstelstrategie finaliseer, wat gebruik sal maak van hierdie sosiale kompak en ʼn duidelike, aksiegerigte plan sal gee om ekonomiese groei te stimuleer en ʼn vinnige terugkeer moontlik te maak.

Hierdie strategie sal die dringende strukturele hervormings, die uitbreiding van indiensnemingsprogramme, die bevordering van grootskaalse investering in infrastruktuurprojekte en die implementering van maatreëls ter bevordering van lokalisering en die bevordering van streeks- en kontinentale handel insluit.

Laastens sal die presidensiële werkverskaffingsplan binne die volgende maand begin en sal geleenthede deur openbare en maatskaplike indiensneming uitgebrei word om werkverliese teë te werk.

Volgens die presedensie sal Ramaphosa mettertyd verdere aankondigings oor die prosesse maak.

Die president doen ʼn beroep op alle sektore van die samelewing om met eenheid en doelgerigtheid op te tree om die ekonomie te herbou tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Wat bedoel hy by ALLE SUID-AFRIKANERS. HY moet spesifiseer want hy erken net ‘n gedeelte.

Jaco

Nou dat die kalf in die put is. Nou moet ons saamwerk. Of is dit dat iemand nou moet red?

Cornelius

Daar het jy dit nou. Die rede hoekom alles in een stort is nie die ANC se swak en korrupte regering nie, dis die virus.

Frederik C

Die positiewe is dat die virus nou apartheid vervang het.

annie

Hoop die prez ons almal het vanoggend op ons koppe geval en onthou sedertdien niks en skud nou ons maer pienk spaarvarkies vir die laaste paar rande om die ekonomie te help red?