BBP-skok: ‘Medisyne was dodeliker as die siekte’

Foto: Josh Appel/Unsplash.com

Solidariteit en die Demokratiese Alliansie (DA) het hul skok uitgespreek oor die jongste bruto binnelandse produk (BBP)-syfers wat Dinsdag deur Statistieke SA (StatsSA) bekend gestel is.

StatsSA het aangekondig die bruto binnelandse produk (BBP) het met net meer as 16% gedaal en die jaarlikse groeikoers staan in hierdie stadium op -51% vir 2020 se tweede kwartaal.

“Met die grootste gepubliseerde inkrimping van enige ekonomie ter wêreld vir die tweede kwartaal van 2020 is dit duidelik dat die medisyne hier dodeliker as die siekte was. Dis waar dat die BBP dalk ʼn lomp meting vir ʼn land in isolasie is, maar wanneer ons uitskieterkwartaal met dié van ander lande vergelyk word, is dit duidelik dat ons een van die skadelikste, indien nie die heel skadelikste nie, inperkings ter wêreld gehad het,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Mulder verduidelik dat hierdie inkrimping nie as gevolg van die Covid-19-virus plaasgevind het nie, maar eerder as gevolg van die land se benadering tot die nasionale afsonderingstydperk. “Alle lande moes planne beraam vir die bestryding van die virus, maar Suid-Afrika se planne was egter veel erger as dié van feitlik alle ander lande.”

Mulder voer aan dat dit ’n direkte verantwoordelikheid van die regering is.

“Dit is nie die pandemie wat ons hier laat beland het nie, maar pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet se hantering daarvan. Ten spyte van sprake van brandpunte en ʼn meer streeksgebaseerde hantering van die pandemie, het Ramaphosa se regering volgehou met ʼn nasionale afsondering. Die gevolge was te verwagte en behoort niemand, veral nie ons president, te skok nie.”

Volgens Solidariteit word die saak verder vererger deur die benarde toestand waarin die land se ekonomie reeds voor die koms van die virus was. Mulder sê Suid-Afrika was reeds in resessie toe die pandemie die land getref het. “Dit is en bly ondenkbaar dat die kabinet hulself besig gehou het met ʼn verbod op die verkoop van gaar hoender en kortbroeke eerder as om ten alle tye te poog om die ekonomie aan die gang te hou tydens die pandemie.”

Volgens Mulder is dit ook die eerste keer in die geskiedenis dat die land meer as 40% werkloosheid bereik het.

Intussen sê die DA dat die gevolge van die pandemie in die jare wat kom gevoel gaan word in die vorm van ʼn finansiële krisis, werkloosheid en armoede.

Die DA-LP Geordin Hill-Lewis het gesê die regering moet nou die geleentheid gebruik om die pandemie se skade aan die ekonomie te probeer herstel.

“Sonder dringende vordering met die hervormingsplanne van die regering sal daar geen groei wees nie. Sonder groei sal daar geen nuwe werkgeleenthede wees nie, en geen uitweg uit die ekonomiese spiraal waarin Suid-Afrika is nie. Ons het nie meer ‘herstelplanne’ nodig nie. Wat ons nodig het, is ware hervorming. Dit is nou al wat tel,” het Hill-Lewis gesê.

Hy sê dit is onmiskenbaar dat die ANC-regering se hardnekkige weiering oor jare om strukturele hervormings deur te voer, die ekonomie kwesbaar gelaat het toe die Covid-19-krisis die land getref het.

“Die afsonderingstydperk het die resessie wat reeds voor Covid-19 hier was, in Suid-Afrika se ergste BBP-inkrimping in die geskiedenis verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oomniklaassevriend ·

Die ANC is soos koning Midas se teenpool. Alles waaraan hulle vat verander in riool.

capie ·

Die DA praat met die wind. Enige “hervorming” sal wees onbevoegde bbbbeeeee en verdere korrupsie. So vir die enigste mense wat die land nog aan die gang hou is dit weer die wet van Transvaal

Danie ·

Ek hwt vanoggend geluuster hoe negatief mense is oor di DA. Ek ste VF+ maar mense ek vra myself een vraag wat het die VF+ tot dusver vermag. Ek is eerlik om te se dat ek niks sien behalwe n gepraatery. Kyk nou na die DA. Die dorpe en stede onder hulle bestuur lyk net beter. Nou vra ek wil ek aan poer om maar net nog n stem te wees vir my party of wil ek vorentoe gaan saam met n party waar jy veranderinge sien. Kyk na al die ander klein partye. Niks maar niks gebeur. Miskien het dit dan nou tyd geword om eerder saam met die sterker osse die wa deur die drif te trek.

Dirk Mostert ·

Jy klink soos Jacop Zuma: “what did the other parties do for South Africa? They’ve done nothing!” Dis onbillik om te verwag die VF+ kan iets vermag, terwyl hulle nog nooit die geleentheid gehad het nie. Dis korrek dat die DA-bestuurde dorpe baie beter lyk as die ANC-s’n. (Kom kyk hoe lyk die ANC-beheerde Pofadder!). Dis dieselfde DA wat Kaapstad se eiendomsbelasting so verhoog het dat afgetredenes nie meer hul huise kan bekostig nie. Steenhuisen is 1000% beter as Ramaphosa, maar die uitfasering van ingrendeling was sy skepping.

Baardman ·

Dis so jammer dat jy en duisende ander nie weet hoe werk die kiesstelsel nie. Die DA het almal verwar met die twak wat hulle verkondig dat n stem van n kleiner party nie iets werd is nie. Vind dringend uit by n kundige presies hoe dit werk, dis n eenvoudige beginsel, voor jy die fout maak.

Jack ·

Die ANC sal nog op die harde manier uitvind dat kommunisme nog nerens in die wereled gewerk het nie. Afrika kommunisme is nog erger, want dit bestaan uit 50% komunistiese ideolige en 50% onbevoegdheid. Die natuurwette wat ekonomie betref is net so genadeloos soos swaartekrag. Een of ander tyd gaan jy val, of jy nou ‘n muugie of ‘n Boeing 747 is. Die wit kapitaliste het nie wereldwyd suksesvolle ekonomie gebou op die basis van onbevoegdheid, onwerkbare ideologie en ‘n slagoffer mentaliteit nie. verder is daar geen sin in dat ‘n onbevooegde meerderheid ‘n land moet regeer nie. Dis ekonomiese en sosiale selfmoord.

Jack ·

Iemand anders sal die skuld kry dalk apartheid wie weet. Wonder hoe dit sal gaan onder julius met sy sosialisme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.