BBP tuimel terwyl Covid-19 tol op ekonomie eis

(Foto: Maroela Media)

Die tol wat die Covid-19-pandemie en die staat van landwye inperking op die ekonomie eis, word al hoe duideliker – en al hoe meer kommerwekkend.

Statistieke SA (StatsSA) het Dinsdag gesê 2020 se tweede kwartaal kan moontlik as die pandemie-kwartaal bekend staan, nadat Suid-Afrika se ekonomie ʼn beduidende inkrimping in April, Mei en Junie ondervind het. Die land was in hierdie tyd onderworpe aan streng afsonderingsmaatreëls wat ook groot beperkinge op die ekonomie gehad het.

Die bruto binnelandse produk (BBP) het met net meer as 16% gedaal en die jaarlikse groeikoers staan in hierdie stadium op -51%.

StatsSA sê die inkrimping laat die verlangsaming van 6,1% in die eerste kwartaal van 2009 – tydens die wêreldwye finansiële krisis – na ʼn vulletjie lyk. Geskiedkundige data van die Reserwebank sedert 1960 wys dat die tweede kwartaal van 2020 die grootste afname in die BBP sedert daardie jaar ondervind het. Dit is ook veel erger as die 8,2%-imkrimping wat in die vierde kwartaal van 1982 gesien is.

Die waarde van die BBP in die tweede kwartaal van 2020 was R654 miljard, die laagste vlak van produksie sedert die eerste kwartaal van 2009, toe die ekonomie R649 miljard gegenereer het.

Volgens StatsSA het bykans alle sektore ʼn enorme daling in die tweede kwartaal van 2020 ondervind.

(Argieffoto: Unilever)

Die boubedryf is die swaarste getref. Die sektor was selfs voor die pandemie in diep water en het nou sy agtste agtereenvolgende kwartaal van negatiewe groei agter die rug. Die sektor het met ʼn verdere 76,6% gedaal.

Vervaardigingsuitset het met 74,9% gedaal en weens onderbrekings in werk en ʼn laer vraag na staal is fabrieke wat in metale en masjinerie spesialiseer, swaar getref.

Die verbod op die verkoop van alkohol het ook ʼn enorme uitwerking op die kos- en drankbedryf van die vervaardigingsektor gehad, sê StatsSA.

Lugvervoer het bykans heeltemal tot stilstand gekom. Dit het bygedra tot die afname in ekonomiese bedrywighede in die vervoer- en kommunikasiebedryf. Daar was ook minder spoor- en vragvervoerbedrywighede weens die beperkinge op produksie en die vervoer van verskeie goedere.

Volgens StatsSA was die handelsverbod op drank en die sluiting van toeriste-aantreklikhede ʼn merkbare las op handelsbedrywighede. Groothandelaars en motorverkopers het ook beduidende afnames aangemeld.

Die finansiële en persoonlikedienste-bedryf, wat oor die afgelope dekade heelwat veerkragtigheid getoon het, het ook nie ongeskonde daarvan afgekom nie. Die finansiële bedryf wat bank-, versekering-, eiendom- en sakedienste insluit, het met 28,9% gedaal.

Persoonlike dienste het vir die eerste keer sedert 2009 negatiewe groei ondervind en ondernemings soos haarsalonne en gimnasiums moes tydens groot gedeeltes van die afsonderingstydperk hul deure heeltemal sluit. Hospitale het nienoodsaaklike operasies opgeskort en die kansellering van sport- en ontspanningsgeleenthede het verdere druk op die bedryf geplaas.

(Argieffoto: Hennie de Beer/Vaalbostrust-boerdery)

Volgens StatsSA was die landboubedryf een van die enigste ligpunte en die sektor het betreklik ongeskonde daarvan afgekom. ʼn Toename in mielie-uitvoere, asook die toenemende internasionale vraag na sitrusvrugte en pekanneute, het die sektor met 15,1% gehelp groei.

Nadat bakkoors mense aan die begin van die afsonderingstydperk boonop beetgekry het, het die vraag na tuisgebakprodukte lekker gestyg.

StatsSA sê Suid-Afrikaners se huishoudelike besteding het sleg in die hek geduik. Besteding het in die tweede kwartaal met 52,3% getuimel en is grootliks aangedryf deur ʼn daling in uitvoere en verminderde huishoudelike besteding.

(Foto: Jackson Mthembu/Twitter)

Huishoudelike besteding het met 49,8% gedaal, in ooreenstemming met die sluiting van hotelle, restaurante, vervoerdienste, ontspanningsfasiliteite en talle winkels. Besteding by restaurante en hotelgroepe het byna heeltemal tot stilstand gekom en met 99% gedaal.

Die verbod op die verkoop van alkohol en sigarette –  ʼn besluit wat hewige kritiek uitgelok en tot talle hofsake gelei het – het tot ʼn daling van 92,4% in verbruikersbesteding gelei.

Besteding aan kommunikasie, behuising en onderwys het in die tweede kwartaal toegeneem. Afgesonder van vriende en familie – en met talle mense wat skielik van die huis moes werk of studeer – het talle verbruikers meer geld bestee aan kommunikasiedienste, veral data.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adam Adriaan

Nou het die ANC die land se ekonomie op ‘n galop die afgrond ingetrek

Niklaas

Ek ken niemand wie se finansies nie deur hierdie virus nagevolge geraak is nie. Dan praat ek nie van gesondheids vrese en talle ander frustrasies nie. Een troos is dat dit hopelik beter sal gaan en dat dit nie net tot ons land beperk is nie.

Dries

Daar is nou belangriker dinge om oor te worry, naamlik sjampoe. Die ekonomie moet maar eers bietjie wag.

Hoekom

Die ekonomie moet maar eers wag nadat hulle klaar Trump gekritiseer het oor Mandela wat lankal in sy graf is.

Oomniklaassevriend

En dit was so onnodig. Covid-19 is niks besonders nie. Tussen 10000 en 20000 sterf jaarliks aan griep. 21300 word vermoor. 14000 sterf in padongelukke. Wonderbaarlik is daar vanjaar vir die eerste keer in dekades skynbaar niemand dood aan griep nie maar sover 15004 aan Covid (+ griep???).