Beampte, hond trek twee vas ná inbrake

Bonzo, ʼn polisiehond, by van die gesteelde goedere wat teruggevind is. Foto: SAPD

Bonzo, ʼn polisiehond, by van die gesteelde goedere wat teruggevind is. Foto: SAPDm

ʼn Polisiebeampte wat nie aan diens was nie en ʼn patrolliehond het Woensdag in die vroeë oggendure as ʼn gedugte span saamgewerk om twee vermeende inbrekers vas te trek.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het gesê ao. Tertius Neethling was Woensdag op ʼn rusdag, maar is ingeroep nadat daar ʼn reeks inbrake in Boknesstrand naby Kenton-on-Sea in die Oos-Kaap was.

Volgens Govender het Neethling en sy patrolliehond, Bonzo, saam na die verdagtes gesoek wat by vier huise in die gebied ingebreek het. “Neethling het een van die verdagtes op ʼn huis se dak vasgetrek en Bonzo het die tweede verdagte aangekeer toe hy van die huis se dak af gespring het,” het Govender gesê.

“Gesteelde goedere is in albei verdagtes se sakke gevind. Polisiebeamptes het ʼn nabygeleë beboste gebied ook deursoek en op gesteelde handsakke, selfone, beursies, ʼn gehoorstuk, polshorlosies, rugsakke en ʼn rekenaarhardeskyf afgekom. Die waarde van die goedere wat gevind is, is ongeveer R52 000.”

Volgens Govender was een van die verdagtes wat in hegtenis geneem is sedert November uit op parool nadat hy in 2014 in dieselfde gebied by ʼn huis ingebreek het. “Die verdagte was op parool nadat hy twee jaar van sy driejaar-vonnis uitgedien het. Hy het ook drie ander sake hangend teen hom,” het sy gesê.

Die verdagtes, onderskeidelik 26 en 30 jaar oud, sal binnekort in die Alexandria-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jakes ·

Welgedaan!
Maar tog ook bewys party mág nie parool kry. Ingeteeld in gene en géen reabilitasie kan dit omkeer. Bells en steak die 2 toegewyde lede, saluut!

al ·

Baie geluk, trots op die hond en polisieman wat SA onvoorwaardelik dien!

Esther ·

Geluk a/o Neethling en Bonzo. Ek dink tog die ander helde verdien ook erkenning:
Konst F. Lillah
Konst M. Singanto
Hi-Tec Sekuriteit
Plaaslike inwoners en vakansiegangers

Lance ·

Genade dit was goed en byna n eerste …net jammer dit gebeur so min ….hoor mos heeltyd die ” verdagtes” is steeds voortvlugtig maar die polisie stel darm ondersoek in …..punt en dis waar dit eindig ….hy is weg ….gone like a scone ….jy hoor BAIE selde dat iemand gevang word wat nog van vervolging

Jan maak n Plan ·

Baie puik ao Neethling en Bonzo. Hoop nou net julle 2 se base sien dit raak en bou op die wen resep.

Griet ·

Een van die mooiste Rotties wat en nog gesien het.
Kan ek hom aanneem wanneer hy aftree?!?! Die hond, nie die poliesman! :-)

Lizan Burger ·

Knap gedaan! Beide die bevelvoerders van Alexandrië en Kenton-on-Sea is uitmuntende polisielede! Hulle kan met reg trots wees op hulle stasies en lede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.