Beampte vasgetrek wat glo omkoopgeld eis

Argieffoto

ʼn Werknemer van ʼn kontrakteur wat dienste aan City Power in Johannesburg verskaf, is in hegtenis geneem nadat daar vir haar ʼn lokval gestel is.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Saterdag gesê die beampte het glo probeer om omkoopgeld van R3 000 by ʼn inwoner van Midrand te kry. “Die beampte werk vir ʼn onafhanklike kontrakteur wat elektrisiteit-afsluitingsdienste aan City Power verskaf,” het hy gesê.

Die beampte sal Dinsdag in die Midrand-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog.

Volgens Mashaba was die inwoner se kragrekening agterstallig en het sy Woensdag ʼn kennisgewing ontvang dat haar elektrisiteitstoevoer ontkoppel sal word. Die beampte het die inwoner na bewering dieselfde dag genader en haar ingelig dat sy daar is om haar elektrisiteit te ontkoppel. Sy het glo aan die kliënt gesê indien die kliënt haar R3 000 betaal, sal haar elektrisiteit nie ontkoppel word nie.

Die inwoner het ingestem om die geld aan die beampte te betaal, maar het gesê sy het net R1 500. Sy het die beampte versoek om Vrydag terug te keer om die res van die geld te kom haal. Die inwoner het daarna die stad se forensiese en ondersoekdienste in kennis gestel wat in samewerking met die Valke ʼn lokval vir die beampte gestel het. Toe die beampte Vrydag by die huis opdaag om die geld te ontvang, is sy deur die Valke in hegtenis geneem, het Mashaba gesê.

“Ek is bekommerd dat dit ʼn tendens in Johannesburg word. Daar is vroeër vandeesmaand ʼn kontrakteur in hegtenis geneem wat R4 000 se omkoopgeld by ʼn inwoner van Helderkruin in die weste van Johannesburg geëis het. Ek wil die inwoners loof wat geweier het om deel van enige korrupte transaksies te wees en die saak by ons span aangemeld het,” het hy gesê.

Hy het gesê in die lig van die stad se rekeningprobleme, maak korrupsie die moeilike omstandighede wat inwoners vir jare moes verduur net nog moeiliker. “Onder die vorige administrasie sou hierdie tipe gedrag net ʼn tik oor die vingers beteken het en niks meer nie,” het hy gesê.

“Korrupsie het geen plek in hierdie administrasie nie en ons sal onverpoosd werk om saam met instansies soos die Valke te verseker dat dit uitgeroei word en inwoners van Johannesburg die gehalte dienste kry wat hulle verdien.”

Hy het inwoners aangemoedig om enige korrupsie of bedrog by die 24 uur-wenklyn by 0800 002 587 aan te meld of om die stad se forensiese en ondersoekdienste by hul kantoor in Ameshoffstraat 48, Braamfontein, te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

jaco ·

die probleem met die DA se poging tot skoon regering in die Johannesburg Metro, is dat hulle nie sommer so van regstellende aksie amptenare en korrupte jarelange kontrakteurs ontslae kan raak nie. Na 23 jaar is die ANC manier van dinge doen erg ingegrafeer by al hierdie mense. En met ons land se streng arbeidswette kan die DA stadsraad maar kla en soebat soveel as hulle wil om die amptenare dinge op die DA manier te doen, maar dit sal niks help nie. Daar word eenvoudig ‘n houding ingeneem van “jy weet jy kan my nie afdank nie en torring nog een keer aan my dan staak ek met COSATU wat my steun”.
Ongelukkig sal SA eers moet lyk soos Zambië aan die einde van diktator Kaunda se bewind (ALLES was ten gronde), voordat die oorgrote meerderheid van ons land se mense sal besef “nou MOET ons saamwerk en hard werk om alles weer reg te kry”.

Eish ·

Jy slaan die spyker op die kop. Om die ding uit te roei, dink ek nie is moontlik in Afrika nie. Dit is deel van die weefsel van die samelewing.

Johann ·

Daars n hele paar sulke ” beamptes” wat in die ooste van PTA rondloop mer sulke innisiatiewe siende hulle die mag en pag in hande het met “work orders” om Afrikaanse vanne se ktag af te sit…

Tiger ·

Ek hoop die regter maak ‘n voorbeeld van die’ amptenaar en laat haar vir baie jare toesluit.

Sputnik ·

Gelukkig is die slot waarmee die kragkassie by my huis in die goeie dae deur die munisipaliteit gesluit is, net soos my posbus, a.g.v. “affirmative shopping” gesteel vir die paar rand se materiaal. Ek het die kas toe maar self toegeskroef. Laat hulle nou net weer my krag afskakel, dan skakel ek dit weer self aan!

Boet Fasie ·

Ag plaas dat sy maar gevra het vir ‘n barrel van daardie kentucky fraai hoender, dan kon sy darem beweer het dat sy honger was, maar sy was nou vraatsig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.