Vyf mense, onder wie ʼn regeringsbeampte, is op Kersdag in twee verskillende ongelukke in die Oos-Kaap oorlede, berig Arrive Alive.
In die ergste van die twee ongelukke is vier mense op die R61 in Cofimvaba dood toe ʼn Volkswagen Polo reg van voor teen ʼn bakkie vasgery het.
In ʼn ongeluk vroeër die dag is ʼn regeringsbeampte dood toe die ampsmotor waarin hy op die N2 naby Qunu gereis het, reg van voor teen ʼn sportnutsvoertuig gebots het. Hy was alleen in die ampsmotor. Die twee insittendes van die sportnutsvoertuig is met ernstige beserings na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas.
Die polisie ondersoek in albei gevalle ʼn saak van moontlike manslag.
Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Woensdag bekend gemaak dat minder mense die afgelope jaar op Suid-Afrikaanse paaie gesterf het, hoewel groter ongelukke meer gereeld voorgekom het.
Die Oos-Kaap het ʼn afname van 30,7% in sterftes aangeteken, met 127 sterftes verlede jaar teenoor 88 wat teen Dinsdag aangemeld is.