Beamptes eis glo geld in ruil vir stilswye

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: SAPD)

Drie polisiebeamptes in die Wes-Kaap is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle in twee afsonderlike voorvalle geld van vermeende misdadigers geëis het eerder as om die verdagtes in hegtenis te neem.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê lede van die teenkorrupsie-eenheid het ʼn konstabel van die Belhar-polisiestasie op aanklag van korrupsie in hegtenis geneem.

“Daar word beweer dat die konstabel ʼn man genader het wat hy voorheen vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen in hegtenis geneem het. Die beampte het glo vir die man gesê dat ʼn bedrag aan hom oorbetaal moet word in ruil daarvoor dat hy nie teen hom getuig nie,” sê Van Wyk.

“Die man het toe ʼn gedeelte van die vereiste bedrag aan die beampte betaal, waarna hy aangesê is om later die res vir hom te gee.”

Die man het ná die transaksie die teenkorrupsie-eenheid genader en die beampte is in hegtenis geneem.

Die 27-jarige polisieman het Vrydag in die Bellville-landdroshof verskyn.

In ʼn afsonderlike voorval is nog twee konstabels van die Lwandle-polisiestasie in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie en regsverydeling.

Die polisiebeamptes, onderskeidelik 23 en 35 jaar oud, het Donderdag ʼn perseel deursoek waar dagga gevind is, waarna hulle die verdagte daaroor genader het.

“Die beamptes het na bewering vir die verdagte gesê hy kan hulle vergoed, dan sal hy nie in hegtenis geneem word nie,” sê Van Wyk.

“Die beamptes het drie sakkies dagga geneem en die res vir die verdagte gelos.”

Lede van die teenkorrupsie-eenheid het egter vinnig op die konstabels toegeslaan en hulle in hegtenis geneem.

Die mans het Vrydag in die Strand-landdroshof verskyn.

“Die polisiebestuur in die Wes-Kaap sal nie huiwer om teen polisiebeamptes wat hulle aan die verkeerde kant van die wet bevind, op te tree nie,” sê hy.

“Daar is nie plek vir misdadigers in die polisiediens nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.