Beamptes in hof vir Nathaniel Julies-moordsaak

Nathaniel Julies (Foto: Twitter)

Voorverhoorverrigtinge in die saak teen drie polisiebeamptes wat beskuldig word van die moord op die 16-jarige Nathaniel Julies van Eldoradopark sal Vrydag in die Johannesburgse hooggeregshof begin.

Maroela Media het vroeër berig ʼn skietery het in Augustus verlede jaar tussen bendelede en die polisie uitgebreek ná die polisie ʼn wenk ontvang het oor gesteelde motoronderdele in die omgewing van Eldoradopark.

Nathaniel het na bewering in die kruisvuur tussen die polisie- en bendelede beland en is later die dag in ʼn hospitaal dood. Hy was ʼn downsindroomlyer.

Simon “Scorpion” Ndyalvane, Caylene Whiteboy en Voster Netshiongolo het verlede maand in die Protea-landdroshof in Soweto verskyn in verband met Nathaniel se moord. Die saak is na die hooggeregshof oorgeplaas.

Ndyalvane en Whiteboy word beskuldig van die moord op Nathaniel, asook dat hulle met bewyse sou peuter. Netshiongolo word daarvan beskuldig dat hy aandadig aan die seun se moord was. Laasgenoemde staan ook tereg op regsverydeling.

Sers. Simon Ndyalvane and konst. Caylene Whiteboy gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Timothy Bernard/African News Agency)

Die drie het in September om borgtog aansoek gedoen, maar die aansoek is van die hand gewys.

Whiteboy, wat net langer as ʼn jaar ʼn polisiebeampte is, het kort voor die borgtogaansoek aan die hof gesê sy het nie bedoel om Nathaniel dood te maak toe sy die skoot afgevuur het nie. Sy het een van haar medebeskuldigdes daarvan beskuldig dat hy haar met die dood gedreig het as sy nie haar weergawe van die gebeure by syne aanpas nie.

Sy was onder die indruk haar vuurwapen was met rubberkoeëls, en nie skerp ammunisie nie, gelaai.

Voster Netshiongolo
gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Timothy Bernard/African news Agency)

Netshiongolo het in Desember ʼn tweede borgtogaansoek ingedien waarna die landdros borgtog van R10 000 aan hom toegestaan het. Hy het glo ná die moord die ander twee polisiebeamptes onregmatig en doelbewus gehelp om aanspreeklikheid vry te spring of geregtigheid te ontduik.

Ndileka Cola, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), sê die Opod-span in Gauteng gaan vandag die hofverrigtinge bywoon.

“Opod bly toegewyd aan sy grondwetlike mandaat om seker te maak die polisie tree volgens die wet op en word vir enige wangedrag gestraf,” sê Cola.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

met haar “opleiding” is aan haar geleer hoe ‘n wapen lyk wat skerppunt ammunisie vuur, hoe sien jy nie die verskil tussen rubberkoeel en skerppunt ammunisie gewere raak nie ?

Persheks Adri

Dis nog die hele tyd my siening oor dit ook SomeOne! Jy is veronderstel om self jou ammunisie te laai vir jou wapen. Hoe op dees aarde het sy dit nie geweet nie? Ek’s self ‘n vrou en weet presies watter ammunisie jy laai in jou wapen/wapens. Ek hoop geregtigheid gaan geskied vir die kind

Anel

Sovêr ek weet lyk ‘n gewone pistool waarmee sy uit gereik is en’ n wapen waarmee rubberrondtes geskiet word baie verskillend. Sy moet seker van die wees wat nie vuurwapenbevoegdheid het nie. Kry maar vir julle.