Beamptes in polisiestasie aangehou, beroof

Foto: @crimeairnetwork/Twitter

ʼn Groep verdagtes het Saterdag in die vroeë oggendure op ʼn polisiestasie in die Oos-Kaap toegeslaan en met ʼn polisievoertuig en vuurwapens weggekom.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het gesê voorlopige ondersoek dui daarop dat vyf verdagtes vroegoggend die Moyeni-polisiestasie naby Peddie in die Oos-Kaap binnegegaan het onder die voorwendsel dat hulle hulp nodig het.

Die verdagtes het vuurwapens uitgepluk en die beamptes aangehou voor hulle met ʼn R5-geweer en twee 9 mm-pistole gevlug het.

“Terwyl die verdagtes gevlug het, het hulle op nog ʼn polisiebeampte afgekom en sy polisievoertuig gesteel. Die voertuig is later sowat 2 km van die polisiestasie af verlate gevind.” Die verdagtes is steeds soek.

“Die aanval op die polisiestasie word baie ernstig opgeneem en die maksimum hulpbronne word ingespan om die rowers vas te trek,” het lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, gesê. Die polisie het ʼn 72-uur-aksieplan in werking gestel ná die rooftog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.