Beamptes van Mpumalanga in Gauteng vasgetrek

Die kontant wat in die besit van die polisiebeamptes gevind is. (Foto: SAPD)

Twee polisiebeamptes van Mpumalanga is Vrydagaand in Gauteng in hegtenis geneem nadat hulle glo dagga en kontant by lede van die publiek gesteel het. Die polisiebeamptes word nou deur strafregtelike klagte én dissiplinêre optrede in die gesig gestaar.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het Saterdag in ’n verklaring gesê ’n privaat motor is Vrydag by ’n padblokkade op die R26 voorgekeer. Polisiebeamptes by die padblokkade het die voertuig deursoek waarna die insittendes van die motor erken het dat hulle dagga in hul motor gehad het.

Die dagga wat in die besit van die polisiebeamptes gevind is. (Foto: SAPD)

Die insittendes het egter gesê polisiebeamptes van Mpumalanga in ’n polisievoertuig van die Secunda-polisie het die dagga by hulle geneem en op geld aangedring.

Volgens Peters het die polisiebeamptes by die padblokkade besef dat die betrokke polisievoertuig wat die insittendes beskryf het reeds by die spesifieke padblokkade deurgelaat is.

“Die lede het die voertuig onmiddellik agternagesit en hul eweknieë van Mpumalanga by ’n padaansluiting in Springs aangekeer. Dié lede is in die besit van dagga en kontant betrap en is op die plek in hegtenis geneem,” het Peters verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Die polisiebeamptes word nou deur strafregtelike klagte én dissiplinêre optrede in die gesig gestaar. En daar val ek al amper weer van my stoel af van die groot lag! Julle moenie die mense van SA soe groot terg nie.

Johan ·

Bogenooemde Brig pasop die twee is dalk kostabels maar na die ondersoek gaan hulle jou pos kry . Beloning vir goeie werk gelewer en sommer ook n prestasie bonus ontvang.

Niklaas ·

So skelm dat ons pryse kan wen met hulle. As die SAP lede wat hul gearresteer het nou die dagga self huis toeneem, sal dit my nie verbaas het nie

marius ·

Waarom is daar nie ‘n wet op minimum vonnisse vir polisie kriminele nie ?

Spyker ·

…….en hulle gaan nog volle salaris en voordele kry tot hul ontslag wat Jare nog kan duur.

christo ·

By sekere polisiestasies is eerlike polisielede bang vir hulle eie lewens en die van die familie deur hulle korrupte kollegas. Ek het al gesien hoe word gearresteerde misdadigers uit ‘n SAPD vangwa oorgelaai na ‘n dúúr Mercedes tussen Witbank en Ogies. Die bevelvoerders is kop in een mus. SA is net nóg een van die talle korrupte Afrika-lande. Indien daar ‘n inbraak by jou huis is, is dit beter om dit by die polisiestasie te gaan aanmeld as wat jy die polisie in jou huis toelaat. Die kans dat hulle enige iemand gaan arresteer van die ‘vingerafdrukke’ op die toneel is in elkgeval zero.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.