Beamptes vang baba by polisiestasie

Een van die polisiebeamptes by die baba wat sy gevang het. (Foto: Verskaf)

Twee polisiebeamptes van die Bethal-polisiestasie in Mpumalanga moes Maandag vroedvrou speel toe ’n hoogswangervrou onverwags naby die polisiestasie se ingang in kraam gegaan het.

Sers. Itumeleng Motalane (39) en konst. Tilane Lebitsa (29) is sedertdien deur die gemeenskap as helde geloof.

Na bewering het ’n lid van die publiek ’n vrou wat om hulp geroep het naby die polisiestasie gewaar en Motalane in kennis gestel.

Die beamptes het onmiddellik uitgehardloop en die 35-jarige vrou, haar man en suster buite die polisiestasie aangetref.

“Ten tyde van die voorval het ek nie eens handskoene aangehad nie en daar was nie tyd om te soek nie, aangesien iemand in pyn was,” het Motalane, wat self vier kinders het, gesê.

Motalane het gesê dat sy nog nooit voorheen in só ’n situasie was nie.

“Ek het vir myself gesê dat ek my vrese in die oë moet kyk en die situasie beredder.”

Volgens Motalane was sy so verward dat sy aanvanklik nie eers die baba hoor huil het ná sy geboorte nie – haar kollegas het egter in die agtergrond gejuig en gesê dat die baba leef.

Een van die polisiebeamptes by die vrou en haar baba. (Foto: Verskaf)

Sy het ook vertel dat die naelstring ’n groot uitdaging was. Sy het egter op haar selfoon op Google na instruksies vir tuisgeboorte gesoek – met spesifieke verwysing na die naelstring.

Die beamptes het die ma en seun na afloop van die geboorte na die Bethal-hospitaal gehaas, waar hulle tans aansterk.

Genl.maj. Thulani Phahla, waarnemende polisiekommissaris in Mpumalanga, het die polisiebeamptes vir hul heldedaad lof toegeswaai.

“Ek loof die beamptes dat hulle die ekstra myl gestap het om die vrou te help om veilig geboorte te skenk,” het Phahla gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marietjie ·

Baie dankie vir jou hulp teenoor jou medemens . Mens kan sien jy het ‘n hart van goud

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.