Beamptes vas oor R2,7 miljoen se ‘gunslone’

Lede van die Valke het Dinsdagaand beslag gelê op dokumente waarin inligting oor dié gunslone vervat is. Foto: Verskaf.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Woensdag gesê hy het 31 beamptes betrap wat glo R2,7 miljoen se gunslone ontvang het van ʼn enkele diensverskaffer. Dié verskaffer is op die stad se databasis van entiteite wat in die munisipaliteit se besit is.

Mashaba het gesê die diensverskaffer, wat in Mondeor, suid van Johannesburg geleë is, het kontrakte ter waarde van sowat R20 miljoen ontvang om skryfbehoeftes soos skootrekenaars, drukkersink en ander rekenaars aan die stad te verskaf.

Volgens hom is die diensverskaffer in 2014 R6 miljoen betaal om 500 rekenaars aan die departement van groepsinligting, kommunikasie en tegnologie te verskaf, maar is dit nooit afgelewer nie. Dit is glo aan ander maatskappye verkoop.

Mashaba het gesê die jong beamptes wat in beheer was van die bestellings namens hul departemente en munisipale entiteite het glo met die diensverskaffers gekonkel om die kwotasies te verhoog om self van daardie geld te hou.

In sommige gevalle is goedere glo bestel, maar nooit afgelewer nie ten spyte daarvan dat dit reeds betaal was.

Lede van die Valke het Dinsdagaand beslag gelê op dokumente waarin inligting oor dié gunslone vervat is. ʼn Klopjag is deur die Valke, beamptes van die stad en die metro-polisie by die diensverskaffer se kantore uitgevoer.

Daar is beslag gelê op ten minste 37 rekenaars ter waarde van R750 000 en die verdagtes is aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek.

Volgens Mashaba is die gunslone in die vorm van Shoprite-geldoorbetalings, FNB e-wallet-betalings en kontantbetalings wat aan individuele rekeninge oorbetaal is gedoen omdat elke beampte glo sy eie gekose metode van betaling gehad het.

Mashaba het gesê die beamptes wat die geld ontvang het, is van die departement van groepinligtingstegnologie en inligtingsbestuur. Een beampte het glo R1 miljoen ontvang op ʼn enkele transaksie en ʼn ander R685 000 op ʼn transaksie vir drukkersink.

Die res van die beamptes is van ander departemente, onder meer die departement van finansies en Johannesburg Water.

“Ek wil die korrupte elemente reg oor die stad uitroei. Dit sluit die ondersoek van onwettige transaksies en kontrakte wat deur die vorige administrasie beklink is in. Dit sluit ons tegnologiese ruimte in,” het Mashaba gesê.

Mashaba het ook gesê dat die stad strafregtelike klagte teen die werknemers en die diensverskaffer aanhangig gaan maak en seker sal maak dat die skuldiges aan die pen ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Dit is moontlik ·

Dit is reg. Roei korrupsie met wortel en tak uit.

Koos B ·

Wens hulle wil bietjie aandag aan Tswane ook gee veral in die meganiese herstelwerk afdelings.

R ·

10/10 aan mnr Mashaba! Doet so voort. Ons land het mense soos hy nodig om die korrupte amptenare aan te kla en uit te roei!

Eish ·

Die staatsinstellings op alle vlakke is onomkeerbaar verrot deur korrupsie, kapasiteitsgestremdheid en verval.
Dit is verblydend dat so hier en daar van die klein vissies aangekeer word.
Ware bekering hiervan sal slegs plaasvind sodra die groot kanonne soos uitgewys deur onder andere Jaques Pauw in sy boek, aangetree word. Die sakesektor wat so lekker meedoen, hoop ek kry ook hul dag.

Jacques Venter ·

Die DA veral onder sulke bewame leiers soos Herman Mashaba, sal korrupsie wortel en tak uitroei.

Die land hang tans aan n draadjie op die rand van n afgrond.

Piet Pompies ·

Indien jy vir die staat werk en een of ander tyd bedrog gepleeg het met die staat se eiendom moet jy regop sit want die volgende persoon wat by die deur instap is dalk daar om jou te ondersoek vir bedrog.
Goeie werk hierdie, roei bedrog met wortel en tak uit.

Karinda ·

Hiep hiep hoera vir die Valke! Hoog tyd dat dinge vas gevat word. Maar daar sal seker ook een of ander tyd besluit word die Valke moet ontbind word want niggie en nefie word dan nou benadeel en die beamptes kry nie meer hul “cut” nie

Freud ·

Mensig!!! Amper R21k per rekenaar…… ek het net nou die dag n splinternuwe rekenaar met groot kapaditeit (ons norm dit maar so) gekoop vir R5k. Is hulle rekenaars van goud en ivoor,??

Jacques Venter ·

Karinda
Dit was een van SA se slegste dae toe Zuma die Skerpioene dood gemaak het!!!

Christelle ·

Ek wens Herman Mashaba wil Oudits van elke department laat doen. Maar dit moet ‘n onafhangklike Ouditeur wees, nie intern nie. Hier by ons het ‘n afdak met spasie vir drie motors verlede jaar ‘n honder duisend gekos. Om stene in die oprit te lê byna vyfhonderd duisend. En my hart het amper gaan staan toe ‘n medewerker in ‘n ander department vir my vertel dat die kontrakteur ‘n stewige sesmiljoen vir die ‘opknap’ joppie gekry het.

Chris ·

Ek wil net graag weet of al die geld terug betaal word? Goed om hulle te vang en skuldig te vind, maar wat van die geld?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.