Beamptes vas wat man met misdadiger ruil

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Twee polisielede is Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle glo in Mei ʼn man onregmatig in hegtenis geneem en hom voorgehou het as ʼn verdagte wat vroeër die dag uit polisieaanhouding ontsnap het.

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, is ʼn verdagte sowat twee maande gelede in Maitland, Kaapstad, in hegtenis geneem vir huisbraak en diefstal. Hy is na die Maitland-polisiestasie geneem, waar hy beweer het dat hy mediese hulp nodig het.

“Twee polisielede het die verdagte na Somerset-hospitaal in Seepunt geneem vir behandeling. ʼn 34-jarige konstabel is toe by die hospitaal agtergelaat om die verdagte te bewaak.”

Die verdagte het egter daarin geslaag om die konstabel te ontduik en uit die hospitaal te ontsnap.

“Die konstabel het kort ná ʼn kollega (44) se aankoms by die hospitaal hom in kennis gestel oor die verdagte se ontsnapping,” het Van Wyk gesê.

Die twee beamptes het die hospitaal en omliggende gebied vir die verdagte gefynkam, maar kon hom nie opspoor nie.

Op pad terug na die Maitland-polisiestasie het die beamptes na bewering ʼn ander persoon op straat aangekeer en in die plek van die ontsnapte verdagte in hegtenis geneem. Hulle het glo beplan om dié man voor te hou as die ontsnapte verdagte en het niemand oor die verloop van gebeure in kennis gestel nie.

“Die speurder wat die saak ondersoek, het eers die volgende dag, terwyl hy die man ondervra het, besef dat hy nie by die beskrywing van die persoon wat aanvanklik in hegtenis geneem is, pas nie.”

Die vreemde voorval is na die eenheid vir korrupsie verwys. Ná afloop van ʼn volledige ondersoek het die direkteur van openbare vervolging (DOV) in die Wes-Kaap besluit om die twee polisiebeamptes te vervolg.

ʼn Lasbrief vir hul inhegtenisneming is uitgereik en die beamptes is Vrydag by die Kaapse middestad se polisiestasie in hegtenis geneem.

Hulle sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklag van ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nozi

Sjoe, kan jy meer. ‘n Onskuldige man op straat se lewe wil hel maak en dit omdat hierdie 2 SAP lede nie bevoegd is om hul werk behoorlik en noukeurig uit te voer nie. Daar is en kan net nie meer vertroue in ons SAP wees nie.

4ntj13

Ek sou daardie twee polisiemanne se laaste korreltjie suiker selfs uit hul hele lewe eis!

Vrijburger

Huh? Wat nog?

Persheks Adri

Wat is volgende met die uniforms? Bly maar ‘n skande vir die land pffft! Te verdomp sleg om iemand in ‘n hospitaal op te pas, maar hulle moet ons beskerm wat ‘n grap!

marius

In die geskiedenis van die wereld was daar nog nooit sulke skelms nie!