Beaufort-Wes se droogtekrisis ál erger

Die Gamkadam by Beaufort-Wes is weer dolleeg, soos toe dié foto tydens die krisis van 2010/’11 geneem is. Foto: Facebook

Die hoofdorp van die Groot-Karoo is die soveelste keer vasgevang in ʼn bose kringloop as gevolg van sy benarde watersituasie weens die knellende droogte.

Beaufort-Wes se meer as 20 000 inwoners en al die dorp se sakeondernemings en nywerhede kry normaalweg 50% van hul water van 32 boorgate, 30% van die Gamkadam en die oorblywende 20% van die waterherwinningsaanleg, berig die gemeenskapskoerant Die Koerier.

Die probleem is: Hoe minder water die dorp gebruik – soos noudat die dorpsdam reeds maande lank leeg is, agt boorgate drooggeloop het en streng waterbeperkings geld – hoe minder water bereik die herwinningsaanleg vanaf die rioleringstelsel en hoe meer moet beurtwater toegepas word, wat die water vir herwinning net ál minder maak.

Ethne Christie, bestuurder van Die Koerier, het Donderdag aan Maroela Media gesê die dorpsdam is al vanaf omstreeks Februarie vanjaar leeg. Tydens die droogtekrisis van 2010-’11 het die munisipaliteit ʼn plan gemaak om die laaste bietjie water wat onder die dam se uitloop opdam, ook uit die dam te kry, maar dis reeds opgebruik.

“Ons is nou totaal afhanklik van boorgate en die watersuiweringsaanleg,” vertel Christie. “Sekere dele van die dorp het saans van 22:00 tot soggens 06:00 beurtwater wanneer hul watertoevoer heeltemal afgesny word.”

Wanneer ’n Karoodorp se dorpsdam opdroog, is die inwoners afhanklik van windpompe. Foto: Morné van Rooyen

Sy sê inwoners is baie dankbaar vir die waterkanne wat weldoeners aanry, nes tydens die krisis sewe jaar gelede voor die watersuiweringsaanleg in gebruik geneem is.

Reeds in Junie is berig die dorp se boorgate verswak daagliks en kan nie die plek van die dam se watervoorsiening inneem nie. Op 1 Februarie 2017 is ʼn algehele verbod op die gebruik van tuinslange ingestel.

Ingevolge die fase 4-waterbeperkings wat sedert 1 Julie geld, betaal ʼn verbruiker wat 20 kl per maand gebruik R844,62, waarop ʼn toeslag van 200% betaalbaar is omdat die maksimum verbruik van 15 kl per maand oorskry is; dus ʼn finale rekening van R2 533,86, het Die Koerier bereken met instelling van die strenger waterbeperkings.

In Augustus het die waarnemende munisipale bestuurder, Kosie Haarhoff, inwoners ingelig agt van die 32 boorgate kan nie meer water lewer nie omdat die watertafel te laag gedaal het. Toe was die dorp 84% afhanklik van die orige 24 boorgate en 16% van die herwinningsaanleg.

Talle Karoodorpe het jare laas deurdringende reën gehad, soos hier op Fraserburg, enkele jare gelede. Foto: Morné van Rooyen

“Ons dorp het ʼn somerreënvalseisoen,” het Haarhoff gesê, “dus verwag ons reën in Oktobermaand. September is die swakste maand vir reënval.”

Van dié verwagte reën het niks tereggekom nie; daarom is beurtwater ingestel.

Volgens kenners het die huidige droogte in 2015 begin. Die probleem in die Karoo is die reën val in strepe; die laaste gebiedsreën was sowat ses jaar gelede. Die damme was vol nadat dit twee weke lank goed gereën het, maar talle klein dorpe se water is aan’t opdroog.

Die belangrikste is om die water wat beskikbaar is, beter te bestuur tot die reën weer val, maar op die meeste dorpe gebeur dit nie. En die afgelope tien jaar is ʼn duidelike afname in boorgate te sien, wat die kans op ʼn krisis ál groter maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Johannes van Rooyen ·

Wat het van die vreeslike sterk boorgat geword waaroor daar berig was verlede jaar

Careltjie ·

Johannes, dit wil ek ook graag weet! Gift of the Givers het geld ingeploeg en die Landmans het geboor. Wat nou? Was dit net ‘n advertensie taktiek?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.