Bebloede honde op bakkie nog nie opgespoor

Een van die honde wat op die bakkie vervoer is. Foto: Nico Pieterse / Facebook.

Een van die honde wat op die bakkie vervoer is. Foto: Nico Pieterse / Facebook.

Die Sandton Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Maandagaand gesê hy doen steeds alles in sy vermoë om die bebloede honde op te spoor wat verlede Dinsdag agter op ’n bakkie in Johannesburg vervoer en glo reeds landuit is.

“Die DBV het die hele naweek en Maandag leidrade opgevolg wat ons van ons sustersorganisasie oor die grens ontvang het, asook inligting van informante in Suid-Afrika,” het die organisasie gesê.

“Nadat ons verskeie persele besoek het wat met die verdagtes verbind kan word, het ons steeds ongelukkig nog nie die honde gevind nie.”

Die DBV het egter gesê die jongste ondersoek het nuwe leidrade gelewer oor waar die honde moontlik aangehou word en dat hy onverpoos sal aanhou om die saak te ondersoek.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om asseblief geduldig te wees, ons doen alles in ons vermoë om die honde op te spoor.”

Die DBV het almal bedank vir hul besorgdheid, betrokkenheid en ondersteuning.

Maroela Media het verlede week berig die DBV het ʼn aantal partye geïdentifiseer wat betrokke was by die voorval.

Volgens die DBV is daar ná uitgebreide ondersoeke saam met die Yeoville SAPD en IRS Forensic Investigations vasgestel dat die oortreders met die honde landuit gevlug het. “Ons informante en ooggetuies het ons in kennis gestel dat die verdagtes in die vroeë oggendure bewus gemaak is van die soektog na hulle waarna hulle in ʼn ander voertuig gevlug het,” het die organisasie vroeër gesê.

Foto’s van die voorval het verlede Dinsdag en Woensdag soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Nico Pieterse, ʼn motorbestuurder en lid van die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch, het die honde gesien, hulle afgeneem en die inligting op sosiale media gedeel. Pieterse het gesê die honde is in ’n verskriklike toestand en met drade vasgebind. Op sy foto’s kan ʼn mens sien een van die honde het bloed om sy bek. Hy het die bakkie agtervolg en die polisie probeer ontbied, maar die bakkie in die middestad verloor nadat die twee insittendes hom glo in ʼn lokval probeer lei het.

Volgens die DBV werk hulle saam met dierewelsynsgroepe oor die grens sowel as grensbeheer in ʼn poging om die honde en verdagtes te vind.

Candice Scorer, algemene bestuurder van die Sandton DBV, het Woensdag aan Maroela Media gesê hulle beskou die voorval as baie ernstig. “Dit is ʼn baie unieke geval. Ons vermoed dit hou verband met hondegevegte en as die verdagtes vasgetrek word, sal hulle swaar gestraf word,” het sy gesê.

Lees die vorige berigte oor die aangeleentheid op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.