Bedanking by Tesourie ʼn ‘groot terugslag’

malusi-gigaba-minister-van-binnelandse-sake

Malusi Gigaba, minister van finansies. (Maart 2017) (Foto: GCIS)

Die Nasionale Tesourie het Maandag bevestig dat die hoof van sy begrotingskantoor bedank het.

Die departement het gesê min. Malusi Gigaba is hartseer oor Michael Sachs, ook ʼn adjunk-direkteur-generaal, se bedanking. Sy bedanking is onmiddellik van krag. Volgens die verklaring gaan Sachs die regering in ʼn “ander hoedanigheid” dien.

Volgens mediaberigte het Sachs bedank in protes teen die presidensie se beweerde inmenging in die begrotingsproses, spesifiek rakende die kwessie van die finansiering van gratis hoër onderrig.

Die Sunday Times het berig dat Sachs gedreig het om te bedank indien pres. Jacob Zuma sou voortgaan met ʼn plan om R40 miljard van die bestaande begrotingstoewysings te herlei om tersiêre onderwys ten volle te subsidieer vir gesinne met ʼn gesamentlike jaarlikse inkomste van minder as R350 000.

Sachs se bedanking word voorgehou as een van die redes waarom die rand Maandag tot die swakste vlak in meer as ʼn jaar teen die Amerikaanse dollar geval het.

David Maynier, die DA se skaduminister van finansies, het Sachs se bedanking as ʼn groot terugslag vir die Tesourie beskryf. “Te midde van ʼn fiskale krisis word besluitneming rakende die begroting nou in chaos gedompel.”

Volgens Maynier blyk dit dat die Tesourie stadig maar seker al meer “ondoeltreffend” gemaak word en na “boekhouers” verminder word, met ʼn dalende invloed op begrotingsprioriteite en die begroting self.

“Ek sal derhalwe aan die voorsitter van die staande komitee oor finansies, Yunus Carrim, skryf om hom te versoek om ʼn dringende verhoor oor hierdie aangeleentheid in die parlement te skeduleer,” het Maynier gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.