‘Bedelaar’ vas danksy polisievrou se ‘sesde sintuig’

Foto: SAPD

Foto: SAPD

ʼn ‘Heroïenverslaafde’ het Woensdag op die harde manier geleer om nie die sesde sintuig van ʼn polisievrou te onderskat nie.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, het gesê twee vroue- polisiebeamptes van die Brooklyn-polisiestasie het omstreeks 13:15 in Jan Shobastraat (voorheen Duncanweg) in Pretoria gery toe hulle ʼn man langs die pad sien bedel het vir brandstof.

“Die twee polisiebeamptes het stilgehou om ondersoek in te stel weens die talle klagtes oor bedelaars wat die publiek met hulle hartverskeurende stories mislei,” het Weilbach gesê. Een van die polisiebeamptes het die man se voertuig aangeskakel en gesien dat daar wel brandstof in die motor is. Die beamptes het hierna die man se motor deursoek en op talle “bedelplakkate” afgekom.

Volgens Weilbach is daar ook heroïen, ‘n verbrande lepel en ʼn spuit in die motor gevind. “Die 30-jarige man van Onderstepoort is onmiddellik in hegtenis geneem vir die besit van dwelms en sal binnekort in die Hatfield-landdroshof verskyn.”

Weilbach het ʼn beroep op die publiek gedoen om versigtig te wees wanneer hulle mense wil help. “Baie van die sogenaamde bedelaars gebruik nie altyd die donasies vir eerlike doeleindes nie. Mense word aangeraai om eerder geld aan geregistreerde organisasies te skenk wat diegene in nood help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannelie Nieuwenhuys ·

Ek hoop van harte hy gaan die kans gegee word om te rehabiliteer Want duidelik is hy desperaart

MdP ·

Ek hoop dis die gemors wat geld uit my voertuig gesteel het toe ek hom tot by die petrolpomp gevat het… Sluit hom toe!

Tonginniekies ·

Mooi so!
(Die Polisievrou het verkeerd verstaan. Hy het geld gebedel vir petrol; om te snuif! Jy kom baie verder met ‘n liter petrol as met ‘n buis Bostik… )

Piet Pompies ·

Hierdie man het sy waardigheid verloor agv dwelm misbruik en kan himself nie meer help.

CR ·

Ek gee nie geld vir bedelaars nie, maar betaal wel die koerant verkopertjie elke Woensdag (dis wanneer ons plaaslike koerantjie verskyn) die R5 wat die koerant kos en ‘n ekstra R20 vir sy moeite en bereidwilligheid om elke oggend dou voordag in die koue te staan en werk.

Rene ·

Dis sleg dat daar sulke goed daar buite is. Ek het self al in daardie strik getrap by die Kroonstad one-stop, oppad Bloem toe en toe ek oppad terug is kry ek dieselfde man weer kwansuis sonder petrol daar.

Ja ek stem saam met die artikel – gee eerder vir geregistreerde organisasies wat mense keur en seker maak dat hulle wel behoeftig is, en wel die geld op die regte manier spandeer.

Douw ·

Maak eerder jou skenking aan ” Helpende Hand ” en help so mense wat dit sal waardeer en kan gebruik !

Hannelie Nieuwenhuys ·

Ek bid die jong man kry hulp vir sy verslawing Dis HEL waardeur ‘n verslaafde gaan Ek werk daagliks daarmee En het selfs ‘n groep op FB om ouers an geliefdes by te staan HARTSEER Ek lees die lelike comments En bid opreg dat dit nooit op julle paadjies kom nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.