Bedenkinge oor raskwotas by LPC

Argieffoto

Argieffoto

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het hom Dinsdag sterk uitgespreek teen rassekwotas vir die samestelling van die Legal Practice Council (LPC).

Volgens die vereniging dit het onder sy aandag gekom dat die National Forum, wat tans werk aan die samestelling van die LPC, dit oorweeg om ‘n aanbeveling aan die minister van justisie te rig dat die LPC ooreenkomstig streng ras- en geslagskwotas saamgestel word.

“Ons beskou Suid-Afrika as ʼn plurale samelewing, wat uit ʼn verskeidenheid kultuur- en taalgemeenskappe bestaan. Ons erken eweneens dat ras steeds ʼn belangrike en tersaaklike faktor in die Suid-Afrikaanse regsdiskoers is en daarom meen ons die samestelling van nasionale liggame, soos die toekomstige Legal Practice Council, moet hierdie verskeidenheid in ag neem,” het Tiaan (CJ) van Dyk, voorsitter van die VRA, in ʼn verklaring gesê.

Hy het gesê hulle is terselfdertyd sterk gekant teen die idee dat ʼn rasse- of enige ander kwota as beginsel aangewend word by die bepaling van die wyse waarop die LPC saamgestel word en dat die verkiesingsprosedure dienooreenkomstig ingestel word. “Sodanige kwotastelsel is klaarblyklik strydig met die wet self en met die Grondwet en druis in teen die vrye uitoefening van keuse in ʼn demokratiese verkiesing.”

Die VRA het vier punte hieroor in die Grondwet uitgelig. Eerstens moet die ras- en geslagsamestelling van die nasionale bevolking, sover prakties moontlik, in aanmerking geneem word as ʼn oorweging by die samestelling van die LPC. Hierdie formulering leen hom duidelik nie tot ʼn vertolking wat kwotas van enige aard vereis of regverdig nie.

Tweedens is die nasionale ras- en geslagsamestelling slegs een van vyf oorwegings wat volgens die Grondwet by die samestelling van die LPC in ag geneem moet word. Die afdwinging van ʼn kwota het derhalwe die klaarblyklike uitwerking om die ander oorwegings te ignoreer en effektief ongedaan te maak asof dit glad nie bestaan nie. Dit druis ooglopend in teen die basiese beginsels van wetsuitleg en is derhalwe klaarblyklik onwettig.

Derdens is kwotas kragtens regsgesag, spesifiek van die Konstitusionele Hof, strydig met die Grondwet.

Vierdens moet 16 van die 23 lede van die beplande LPC (tien prokureurs en ses advokate) onderskeidelik vanuit die geledere van die twee sektore van die regsprofessie verkies word. Die uitoefening van ʼn vrye keuse lê aan die wese van ʼn demokratiese verskiesing. Enige beperking van die vryheid van keuse vir wie ʼn persoon mag stem, druis gevolglik flagrant in teen die idee van ʼn verkiesing. Dit is bowendien nie vereenselwigbaar met die onafhanklikheid van die regsprofessie nie. Dit is egter juis wat die effek van die voorgestelde kwotas is, want dit maak die beginsel van vrye keuse by ʼn verkiesing ongedaan. In die konteks van die voorgestelde LPC, bring dit mee dat die 16 lede wat verkies moet word, in werklikheid nie verkies sal word nie, aangesien die kwota die uitoefening van ʼn vrye keuse by die “verkiesing” ontken.

“In die lig hiervan versoek ons die National Forum om die gedagte van kwotas by die samestelling van die LPC en die gepaardgaande verkiesingsprosedure in sy aanbevelings aan die minister van justisie te laat vaar. Ten einde te verseker dat alle tersaaklike oorwegings op ʼn oordeelkundige wyse in ag geneem word, behoort kwotas nie die uitsluitlike of primêre beginsel by die samestelling van die LCP te wees nie. Ons doen ʼn beroep op die Forum om die aangeleentheid op die grondslag van gesonde prinsipiële basis te heroorweeg om aan die maatstawwe van die wet, die Grondwet, die beginsel van uitoefening van vrye keuse in verkiesings en ooreenkomstig die behoeftes van ʼn plurale samelewing te heroorweeg,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gatvol ·

Kwota storie in SA is soos n plaat wat vashaak. Werk en verdien iets vir n slag en hou op staatmaak op ras om iets te bereik.

Drakensberger ·

Uiteindelik word dinge reg aangespreek! Uit die aard van hulle professie kan hulle hulle stem dik maak, jammer ons gewone mense trek aan die kortste ent. Wil hulle wat regsgeleerdes is ons nie bystaan in ons stryd om gehoor te word nie?

Beneke ·

Hoekom nou huil? Julle het dan die ultra liberaliste ingestem om namens julle by die National Forum op te tree. Wat het julle verwag menere prokureurs en advokate – julle het sowaar nog niks uit die verlede geleer nie! Die tyd om te kla en te huil is verby, net soos vir die destydse ja-stemmers wat op elke ding in hierdie land ‘n klagte het. Kry vir julle!

Jurg Prinsloo ·

Ek verteenwoordig die Nasionale Forum van Advokate daar. Veg nog altyd vir vryheid met geregtigheid vir almal. Staan saam met uitstekende regspraktisyns daar die kwotas teen. Was sover ongelukkig nog in die minderheid. Baie dankie VRA , Kerkplein Balie en Prokureursorde van KZN vir jul sterk standpuntinname teen kwotas.

Wie het al teen kwotas gewen? ·

Hulle gaan dit in elk geval stil stil doen en se dit was die beste kandidate .. mark my words . .dit is om te hoes teen donderweer .. hulle gaan dit net nie ‘amptelik’ ‘n beleid maak nie, maar dit tog implementeer, en net se die ‘kwotamanne’ was beter kandidate.!~ Daar is geen vryheid en geregtigheid vir ALMAL in SA nou al nie, en dit gaan nog erger word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.