Bedreigde plantsoort in Tokai-park gevind

Hidden Veldrush (Schoenus inconspicuus). (Foto: Douglas Euston-Brown.)

ʼn Nuwe bedreigde plantspesie is onlangs in Tokai-park in Kaapstad gevind. Die Hidden Veldrush (Schoenus inconspicuus) is ʼn soort biesieplant wat as kritiek bedreig gelys word, en nog net ses keer vantevore op twee plekke aangeteken.

Navorsers aan die Universiteit van Kaapstad (UK) het in November die bestaan van die Hidden Veldrush vir die eerste keer amptelik opgemerk. Dr. Tammy Elliot, prof. Muthama Muasya en Douglas Euston-Brown, navorsers verbonde aan die UK, het dit amptelik onlangs in ʼn wetenskaplike publikasie van die universiteit beskryf.

“Ek het op 12 November een plant gevind en ʼn monster na Tammy geneem. Sy het vinnig die moontlikheid van ʼn nuwe spesie met Muthama bespreek,” verduidelik Euston-Brown.

Sy en Elliot het die volgende naweek na Tokai teruggekeer om soortgelyke plantmateriaal te versamel.

“Ons het slegs enkelinge gevind nadat ons meer as 30 minute lank die park gefynkam het.”

Soos die biesie se naam tereg sê, is dié plant glad nie flambojant nie, en kan maklik met ʼn gewone grassoort, die Kaapse draadgras (Cape Wire grass of Tenaxia stricta), verwar word. Dit is egter die blaarskede van die twee plantsoorte wat hulle van mekaar onderskei. Anders as die ander plante in sy familie, wat in vleilande of rotsagtige berge gevind word, verkies die Hidden Veldrush om in diep, droë sand te groei.

Werner Voigt, kurator van Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, het aan Maroela Media gesê omdat dit ʼn nuwe plant is, en eerste in Engels beskryf is, het dit nog nie ʼn Afrikaanse naam nie. Die Afrikaanse naam van die plant kon ook dalk met die tyd vergete geraak het.

Die navorsers aan die UK meen die toekoms van die Hidden Veldrush se voortbestaan is boonop ingewikkeld.

“Dit lyk of die plantsoort afhanklik is van veldbrande vir oorlewing, maar navorsing hieroor sal eers moet wag tot die volgende veldbrand.

“Die seldsaamheid van die plant laat dit lyk of dit oop ruimtes verkies, soos weiding, en dat dit dalk nie goed met ander grassoorte meeding nie. Veldbosse word ook gereeld gevreet en daarom vaar dit nie goed in swaar beweide gebiede nie.”

Slegs ʼn handjievol van die plante is nog tot dusver in die Tokai-park gevind.

Die navorsers vermoed verder die Hidden Veldrush is naby aan uitsterwing, hoewel die plantsoort aanvanklik betreklik wydverspreid en algemeen in die Bergvliet-Tokai-omgewing voorgekom het.

Hulle hoop namate meer ou plantasieblokke na fynbos herstel word, sal daar nog ʼn paar van die plante opduik onderwyl die kritiek bedreigde Kaapse Vlaktesand-fynbos algaande herstel word.

SanParke en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) te Kirstenbosch beraam tans ʼn plan vir die voortplanting van die plantsoort indien ʼn onvoorsiene ramp hierdie laaste bevolking van die Hidden Veldrush sou tref.

Die Hidden Veldrush van nader in die Tokai-woud beskou. (Foto: Douglas Euston-Brown.)

Vrywilligers help om plante te identifiseer

Inspeksie van die rekords van iNaturalist, ʼn aanlyn sosiale netwerk van natuurkundiges, bioloë en vrywilligers wat die kartering en waarnemings oor biodiversiteit deel, het egter gewys dat vrywilligers die spesifieke plantsoort wel in Junie verlede jaar tydens die Vriende van Tokai-park se plantegroei-opname aangeteken het. Dit is in daardie stadium egter slegs tot op die familievlak van die plantsoort geïdentifiseer.

Die identifisering en benaming van die Schoenus, die genus van biesieplante, was ʼn uitdaging wat die afgelope vyf jaar deurlopend nagevors is. Dit het gelei tot die ontdekking en beskrywing van 20 nuwe plantspesies wat meestal in fynbos groei.

Volgens die UK word daar jaarlikse opnames gereël wat plantspesies se terugkeer na Tokai dokumenteer ná die verwydering van uitheemse denneplantasies in die omgewing.

Sowat 77 vrywilligers het reeds meer as 10 500 waarnemings van 665 plantspesies in die laer Tokai-park gemaak. Talle van hierdie plante is seldsame en bedreigde plantspesies, wat die park een van die brandpunte vir die bewaring van die bedreigde biodiversiteit Kaapse Vlaktesand-fynbos maak.

“Uit hierdie opnames het ons ʼn baie goeie idee van die verspreiding van verskillende dier- en plantspesies in Tokai-park.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Louis

Altyd bly vir positiewe en interessante nuus. Hulle sal maar ‘n brand muur rondom die grassie moet bou.

Maria

Hoop kan vermeerder en gekweek word , Knap gedaan

donsie

op ons plaas in worcester omgewing het hulle dik gegroei