Bedreigde seeskilpaaie weer vrygelaat

(Foto: James Lowe)

Altesaam 44 gerehabiliteerde seeskilpaaie is Maandag omstreeks 30 seemyl van Houtbaai vrygelaat deur ʼn span van die Twee Oseane-akwarium. Die seeskilpaaie is almal die afgelope paar maande by die akwarium gerehabiliteer ná hulle op Wes-Kaapse strande opgespoor is.

Geri, ʼn driepotige groen seeskilpad wat die afgelope paar weke by die I&J-uitstalling in die akwarium aangesterk het, is ook vrygelaat, sê Renée Leeuwner, woordvoerder van die Twee Oseane-akwarium.

“Ná maande se rehabilitasie het ʼn veearts hulle gesond genoeg verklaar om vrygelaat te word. Sommige is met satellietskyfies gemerk sodat hulle ligging gemonitor kan word. Ander seeskilpaaie is met mikroskyfies, soortgelyk aan dié wat in troeteldiere ingeplant word, toegerus.”

Al die seeskilpaaie is vanoggend in kratte gepak, na Houtbaai-hawe geneem en op twee bote gelaai. Die span en bemanning het sowat 30 seemyl uitgevaar sodat hulle by die warmer seestrome kon uitkom wat tydens somermaande in die suide van Kaapstad aangetref word. Toe water met die korrekte temperatuur gevind is, is die skilpaaie met groot vreugde vrygelaat.

Watter seeskilpaaie is vrygelaat?

Ongeveer 40 pasuitgebroeide karetseeskilpaaie is vrygelaat. Dié kleintjies het tussen 300 g en 1,2 kg geweeg. Karetseeskilpaaie maak hulself op strande in die noorde van KwaZulu-Natal tuis en die eiers broei jaarliks tussen Desember en Januarie uit. Die klein skilpadjies baan dan hul weg tot in die Indiese Oseaan en swem saam met die Agulhas-stroom. Dié stroom neem hulle suid in die rigting van Kaapstad. By Struisbaai keer die stroom om en draai terug in ʼn noordelike rigting. Sterk wind en rowwe seetoestande stamp egter soms van die klein skilpadjies uit die stroom in kouer omliggende water.

Omdat hulle reptiele is, pas hul liggaamshitte aan by die watertemperatuur. Die koue water veroorsaak dat die skilpaaie in skok en verkluiming ingaan. Die kwesbare, soms beseerde skilpaaie, spoel dan uit op strande waar besorgde lede van die publiek hulle opspoor en na die Twee Oseane-akwarium bring, verduidelik Leeuwner. Die akwarium bied gespesialiseerde sorg en rehabilitasie.

Jong en klein seeskilpaaie word ook by die rehabilitasieprogram aanvaar. In teenstelling met pasuitgebroeide skilpaaie wat gewoonlik in gekonsentreerde gebiede gestrand aangetref word, strand jong en klein seeskilpaaie al langs die Wes-Kaapse strande uit. Hulle ontvang toepaslike mediese sorg en ʼn gespesialiseerde dieet totdat hulle goedgekeur word vir vrylating. Rehabilitasie neem gewoonlik ʼn paar maande of selfs ʼn paar jaar.

“Vyf van die sewe skilpadspesies wat wêreldwyd gevind word, is al by die Twee Oseane-akwarium gerehabiliteer,” voeg Leeuwner by.

Geri, die driepotige groen skilpad

Geri het op 25 Julie 2021 gestrand by Paternoster. Tracy Whitehead, koördineerder van die akwarium-stigting se skilpadreddingsnetwerk (ʼn groep vrywilligersorganisasies en individue), het Geri na die akwarium gebring.

Hy het 48 kg geweeg en het ʼn ou besering gehad waar sy poot geamputeer is. Dié besering het reeds genees. Hy het ook verskeie ander uitwendige beserings opgedoen en dit is onmiddellik behandel. Deur toegewyde sorg het Geri ten volle herstel en het reeds goed aangepas met slegs drie pote. Hy het ʼn satellietskyfie van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake sodat sy ligging gemonitor kan word vir so lank as wat die skyfie aktief bly.

Haary, ʼn jong groen skilpad

Harry is op 21 Oktober 2020 by Stilbaai opgespoor. Hy was baie siek en het skulpverrotting, en ander erge beserings opgedoen. Gespesialiseerde medikasie is toegedien om sy ingewande weer aan die werk te kry. Daar is bevind dat hy ʼn stuk plastiek ingesluk het. Sy herstel was baie stadig, maar hy is uiteindelik ook na die I&J-uitstalling geskuif sodat hy meer ruimte kon geniet. Dit het sy herstel bespoedig.

Litchi

Litchi is op 22 Februarie 2021 by De Hoop-natuurreservaat gevind. Die skilpad het 7 kg geweeg en was in ʼn goeie toestand, buiten verskeie mariene bloedsuiers. Sy het goed reageer op rehabilitasie.

Echo (jong haakneus-seeskilpad)

Echo het op 20 Oktober 2021 by Struisbaai uitgespoel. Danksy samewerking met die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Echo na die akwarium gebring waar dit begin is dat hy sterk en redelik gesond is, alhoewel hy baie sleg gelyk het en bedek was met alge. Haakneuse (ʼn tipe karetseeskilpad) is ʼn kritiek bedreigde spesie en die akwarium sien nie baie van dié spesie nie. Echo is een van vyf wat die afgelope jaar na die akwarium gebring is. Hy is die enigste een wat sterk genoeg was om te herstel.

Rehabilitasie by die akwarium

Selfs ná maande van rehabilitasie is van die seeskilpaaie nog nie gesond genoeg om vrygelaat te word nie. Alhoewel 44 skilpaaie vrygelaat is, bly ʼn paar ander in die rehabilitasieprogram. Dit sluit drie pasuitgebroeide karetseeskilpaaie, drie jong karetseeskilpaaie, Nobomvu en drie ander jong volwassene karetskilpaaie, en Bob, ʼn groen skilpad wat al sedert 2014 by die akwarium tuisgaan en steeds in rehabilitasie is. Bob se storie van hoe hy erge siekte oorkom het ná hy plastiek ingesluk het, het die ultra-atleet Karoline Hanks aangemoedig om die 13 Peaks Challenge direk ná mekaar te hardloop om genoeg geld in te samel vir ʼn satellietskyfie vir Bob. Sy het die 212 km suksesvol afgehandel. Jy kan hier help om Karoline se doelwit te bereik om R70 000 in te samel: https://www.quicket.co.za/fundraisers/150639-b2b4bob/

Die Twee Oseane-akwarium se opleidingstigting is ʼn niewinsgewende vennoot van die Twee Oseane-akwarium. Die stigting maak staat op donasies om sy werk in bewaring voort te sit. Besoek www.aquariumfoundation.org.za om meer uit te vind of hulle te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christel Cornelissen ·

Dagsê FM
Baie dankie vir jou boodskap. Die berig is sedertdien gewysig.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

Ronel ·

Wonder nog steeds of Yoshi dit gemaak het na haar satelietskyfie stil geraak het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.