Bedreigde skilpaaie by Houtbaai vrygelaat

Houtskilpaaie by Houtbaai in die see gelaat. (Foto: Verskaf)

Bewaarders van die Two Oceans-akwarium in Kaapstad het Dinsdag vier bedreigde houtskilpaaie by die see in Houtbaai vrygelaat.

Dié vier skilpaaie het aanvanklik in 2019 en vroeg vanjaar by die akwarium se seeskilpad-rehabilitasiesentrum beland weens verskeie redes.

Mizu en Kaiyo, twee van die skilpaaie wat op 4 Februarie vrygelaat is, is in November deur lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in die see by Kaappunt gevind. “Hulle het net gedryf en kon nie duik nie. Dit is gewoonlik ʼn teken van ernstige interne gesondheidsprobleme, maar ná net ʼn paar maande van sorg en liefde by ons rehabilitasiesentrum, kan hulle nou weer in die see vrygelaat word,” sê Renée Leeuwner, woordvoerder van die Two Oceans-akwarium.

Die akwarium het ook vir Eileen vrygelaat, ʼn jong skilpad met drie vinne wat in 2019 gered is, pas nadat sy op die strand uitgebroei het. “Sy was toe nog nie sterk genoeg om saam met die ander klein skilpadjies in die see vrygelaat te word nie, maar het vinnig ontwikkel en is nou gereed om haar eie avontuur aan te pak,” sê Leeuwner.

Evie, die laaste skilpad wat vrygelaat is, is op Nuwejaarsdag by Bettiesbaai gered en na die akwarium gebring. “Evie was vol alge en het ʼn groot wond aan haar kop gehad, wat gelyk het of ʼn vis haar gebyt het.” Leeuwner sê die kopwond het vinning herstel en Evie was dié week al gereed om vrygelaat te word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Eragrostis

Dankie MM, vir hierdie mooi storie. Dis altyd verblydend om te sien dat daar steeds mense en organisasies is met ń passie vir die natuur en die bewaring daarvan. Dis wys om jou geld eerder op sulke organisasies te spandeer in plaas van op luukshede en persoonlike goedere wat nie goed is vir die natuur en die toekoms daarvan nie.