‘Bedrewe politikus’ nuwe burgemeester van Jhb

Jolidee Matongo is die nuwe burgemeester van Johannesburg. (Foto: Twitter)

Jolidee Matongo is onbestrede tot nuwe burgemeester van Johannesburg verkies, maar die VF Plus waarsku reeds dat geen “nuwe ANC-burgemeester maklik enige verandering teweeg sal bring nie”.

Die party sê ná samesprekings tussen sekere politieke partye is besluit om nie in dié stadium ʼn alternatiewe burgemeesterskandidaat voor te stel nie en eerder op die komende plaaslike regeringsverkiesing te fokus. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die hof vroeër genader om die verkiesing te midde van die koronaviruspandemie tot volgende jaar uit te stel.

Die 46-jarige Matongo neem die leisels oor by Geoff Makhubo wat weens Covid-19 dood is.

Die nuwe burgemeester is ʼn voormalige burgemeesterskomiteelid vir finansies en sal na verwagting later vandag sy burgemeesterskomiteelede bekend maak.

Die kantoor van die speaker van die Johannesburgse metroraad bestempel Matongo as ʼn “bedrewe politikus” wie se kwalifikasies ʼn BTech-graad in openbare bestuur, projekbestuur en gehalteversekering, asook sertifikate in openbare bestuur en ontwikkeling insluit.

Hy werk volgens die stad tans aan sy meestersgraad in openbare administrasie.

Matongo is in Soweto gebore en het as 13-jarige al by die politiek betrokke geraak. Hy het hom aangesluit by die Soweto Students Congress (Sosco), asook by die Congress of South African Students (Cosas) waar hy in verskillende hoedanighede gedien het.

Hy het hom later by die ANC-jeugliga aangesluit en was onder meer ʼn streeksekretaris en later streeksvoorsitter in die groter Johannesburg-streek.

Matongo het hom tien jaar gelede by die staatsdiens aangesluit en is aanvanklik as operasionele bestuurder in die stad se departement van behuising aangestel. Hy het later die stad se adjunkdirekteur vir jeugontwikkeling geword. Hy het daarna ʼn Johannesburgse raadslid geword en is Desember 2019 as burgemeesterskomiteelid vir finansies aangestel.

Matongo is getroud en woon saam met sy gesin in Lenasia, suid van Johannesburg.

Die nuwe burgemeester het hom verbind tot verbeterde dienslewering en die doeltreffende gebruik van die stad se R73 miljard-begroting. Hy het amptenare wat lyf wegsteek, gewaarsku dat hulle koppe sal rol indien hulle nie hul werk doen nie.

Daar was egter reeds kritiek oor die kwessie of Matongo hond haaraf gaan maak nadat sy voorganger se termyn as burgemeester deurspek was met bewerings van korrupsie en verslegtende dienslewering.

Franco de Lange, ʼn VF Plus-raadslid van die Johannesburgse metroraad, sê die metro is in ʼn “moeras van ekonomiese verval”.

“Die enigste oplossing vir die inwoners van Johannesburg is om met die komende verkiesing die onbevoegde ANC by die stembus te straf en te vervang met ʼn verantwoordelike en korrupsievrye bestuur wat ʼn volle termyn kan dien om sodoende belastingbetalers se vertroue te wen,” sê De Lange.

Herman Mashaba, leier van ActionSA en self ʼn voormalige burgemeester van Johannesburg, het na Matongo as die ANC se hoofbeeldpoetser in Johannesburg verwys en gesê hy het ANC-korrupsie in die stad help voortsit.

Mashaba sê Matongo het ʼn begroting vol verkiesingsbeloftes voorgelê, maar met min vooruitsig van lewering. Hy sê dit was ook Matongo se begroting wat dit “duidelik gemaak het dat die ANC elke moontlike voorneme het om die stad se geldkoffers as ʼn verkiesingsvoertuig te gebruik” en diegene in die ANC se netwerk van patronaatskap te verryk.

Mashaba is die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg in die komende verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Persheks Adri ·

Werk in finansies en lekker begroting van R73 miljard. Seker hy gaan dit goed kan gebruik!

Nie Verbaas ·

ANC definisie van bedrewe – Spandeer begroting aan kaders en familie sonder enige resultate en beweer dit was nie ek nie.

Frederik C ·

Het nog nooit van enige bedrewe ANC politikus gehoor nie. Hierdie is ‘n vreemde verskynsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.