Bedrieër moet meer as halfmiljoen terugbetaal

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Heinrich Presensie (36) moet meer as ʼn halfmiljoen aan ʼn bank terugbetaal ná hy skuldig bevind is op verskeie aanklagte van bedrog en geldwassery.

Presensie is Dinsdag in die Gqeberha-handelsmisdaadhof in die Oos-Kaap 36 maande korrektiewe toesig opgelê en moet R503 132 aan Capitec Bank terugbetaal.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê dertien lenings ter waarde van R1,5 miljoen is tussen Augustus 2016 en Februarie 2017 by Capitec Bank in Graaff-Reinet toegestaan. “Ashley le Roux (36), ʼn vermeende medepligtige, het na bewering vervalste dokumente opgestel wat gebruik is om aansoek te doen vir die lenings.”

Groot lenings is vir elke kliënt geprosesseer en die twee het kommissie ontvang vir elke lening wat toegestaan is. “Dit het later aan die lig gekom dat die beskuldigdes ʼn groot persentasie ontvang het. Meeste van hul kliënte was nie bewus van die bedrieglike proses nie.”

Banke het klagtes van kliënte ontvang wat groot bankleningstate ontvang het vir geld wat hulle nooit gekry het nie. “Die saak is by die Valke aangemeld vir verdere hantering en die beskuldigdes is op 12 Februarie 2019 in hegtenis geneem. Hulle het in die hof verskyn en is vrygelaat met ʼn waarskuwing.”

Presensie het op 9 Junie 2021 skuld beken op alle aanklagte. Le Roux het skuld ontken. “Presensie is ook ʼn opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê. Le Roux se saak is tot 8 September uitgestel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Hierdie berig maak nie sin nie, of ek is platkop. Hy moet R500 000 aan die bank terug betaal. Hier is lenings van R1.5 mil ter sprake.
1. Was sy kommissie ‘n derde van die geld wat geleen was? Of 2. Het hy die R1.5 mil gekry en hoef net ‘n derde terug te betaal?

SjN ·

Sy kommissie het dus 33,5% van die leningsbedrag beloop, iets klink nie reg nie.

Johan ·

Presensie het gedog dat alles present is,dis maar ń ligte vonnis vir sò ń groot dief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.