Bedrieërs in Estina-suiwelprojek dalk gou vervolg

Foto: Matthias Zomer/Pexels.com

Die ondersoek na die omstrede Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat is afgehandel en byna gereed vir vervolging.

Adv. Hermione Cronje, hoof van die ondersoekdirektoraat in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Dinsdag aan die media in Pretoria gesê die saak sal vandeesmaand nog gereed wees vir vervolging.

Dr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, het in reaksie op die aankondiging gesê die DA is vol hoop dat die saak dié keer waterdig sal wees. Verlede jaar is sewe mense in verband met die omstrede projek in hegtenis geneem, maar die klagtes teen hulle is later teruggetrek.

Volgens Jankielsohn is sy party vol hoop dat politici wat die projek geïnisieer en fondse aan die Gupta-gekoppelde maatskappy Estina betaal het, ook aan die pen sal ry.

Minstens R200 miljoen se staatsgeld, wat geoormerk was vir die ontwikkeling van opkomende swart boere in die Vrede-omgewing, is na Estina gekanaliseer. Estina word verbind met die omstrede Gupta-familie. Van dié geld is glo selfs gebruik om in 2013 vir ʼn weelderige Gupta-troue by die Sun City-oord naby Rustenburg te betaal.

Jankielsohn sê selfs nadat die nasionale tesourie destyds onreëlmatighede met die projek aan die lig gebring het, het die projek steeds die steun van Vrystaatse politici geniet.

Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (Foto: ANA)

Maroela Media het in Mei vanjaar berig die DA is van mening dat die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se ondersoekende verslag na die suiwelprojek ʼn toesmeerdery was, aangesien politici wat daarby betrek is nooit uitgevra is oor hul betrokkenheid nie en dus meer noukeurige ondersoek vrygespring het. Daar is aangevoer dat Mkhwebane nie die ondersoek behoorlik gedoen het nie en versuim het om senior politici wat betrokke was by die beweerde korrupsie en geldwassery wat uiteindelik die projek gekelder het, te ondersoek.

Mkhwebane het bevind die Vrystaatste departement van landbou was skuldig aan wanbestuur weens sy hantering van die projek. Sy het bevind onbehoorlike prosesse is gevolg en dat die tenderooreenkoms tussen die departement en Estina onwettig was.

Sy het aanbeveel dat die destydse Vrystaatse premier, Ace Magashule, deesdae die sekretaris-generaal van die ANC, tugstappe doen teen amptenare wat by die projek betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willie ·

Ek dink M-Net moet n fliek maak hieroor, dit sal meer aandag trek as Trackers…

Thinus ·

Die OB moet ook aangekla word vir dwarsboming van die gereg want sy het alles probeer toesmeer.

Susanna ·

Hoop in die een hand, en 11-1-11 in die ander hand, dan kyk ons wat is die meeste. Hulle gaan niks oorkom nie. Maark die boek toe, en skryf ‘n ander een.

Andries ·

Dit sal nie gebeur nie. Politici in S. A word nie verniet die “untouchables” genoem nie.

koos ·

Hermione, suster, die OB het mos gesê daar was niks fout nie, waar kom jy nou daaraan om te vervolg? Ace is nou ook in hoë gestoeltes en hy sal ook vir jou sê daar was niks fout nie.

SAMPIE ·

Mkhebane beveel aan Ace moet tugstappe instel teen die oortreders. So al asof hy totaal onbewus is van wat onder sy heerskappy in die Vrystaat gebeur het. Sy’s ‘n groter nar as Julius Malema

Kabous ·

Ja, sleutelwoorde soos “dalk” en “vol hoop” laat mens wonder of dit werklik sal gebeur. Ek hoor die maan is van kaas gemaak… met melk van Estina-koeie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.