Bedrieërs teister Welkom-inwoners

selfoon-pexels

Foto: Pexels.com

Welkom-inwoners het die afgelope maande onder meedoënlose swendelary deurgeloop en van die slagoffers is in die proses derduisende rande kwyt. Minstens vier slagoffers het onwetend hul persoonlike bankbesonderhede met dié bedrieërs gedeel.

ʼn 56-jarige vrou het verlede Vrydag omstreeks 12:14 ʼn oproep van ʼn onbekende persoon gekry wat beweer hy is ʼn werknemer by African Bank se hoofkantoor. Die persoon het die vrou gevra om haar bankbesonderhede te bevestig en het haar verseker dat sy met R100-lugtyd vergoed sal word.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê drie uur ná die oproep wou sy haar vriend bel, maar het steeds geen lugtyd gehad nie en gesukkel om ʼn sein te kry. Die vrou het besluit om ʼn African Bank-konsultant te bel en te verduidelik wat gebeur het. Die konsultant het vir haar gesê dat sy bedrieg is. Haar lening van R50 000, klere ter waarde van R17 000 wat sy aanlyn gekoop het, R300 waarmee sy pizza sou koop, asook ʼn totaal van R30 000 was onttrek.

In nóg ʼn geval is ʼn 49-jarige vrou op 29 April ʼn rat voor die oë gedraai toe sy sonder haar medewete haar persoonlike bankbesonderhede met die bedrieërs gedeel het.

Makhele vertel dié vrou was by die algemene groothandelaar op die dorp om kruideniersware vir haar oorlede man se begrafnis te koop, toe iemand met ʼn onbekende nommer haar bel. Die persoon het gesê sy deel haar selfoonnommer met iemand anders, en die enigste manier om dié probleem reg te stel, is om *56*0000*16# te skakel. Sy het daardie nommer geskakel en daarna aangegaan met haar inkopies.

Makhele sê die vrou het die middag omstreeks 17:30 boodskappe van haar kollegas en vriende ontvang wat gesê het dat hulle geld in haar rekening inbetaal het, soos sy skynbaar vir hulle gevra het. Die vrou het tóé agterdogtig begin raak. Sy het hierdie kollegas en vriende gebel om te bevestig dat dit nie sy was wat hulle vir geld gevra het nie.

Die vrou is die volgende dag na haar bank toe om te verduidelik wat gebeur het. Die bank het haar bankrekening nagegaan en gesien dat haar rekening se geld en die geld wat haar kollegas en vriende vir haar inbetaal het, onttrek is. Sy is altesaam R3 900 kwyt.

Die laaste twee voorvalle het Januarie en Februarie vanjaar plaasgevind. Albei slagoffers, onderskeidelik 29 en 41 jaar oud, is deur vier mans onderskeidelik by die Goldfields-winkelsentrum en Checkers- en Ackermans-winkels genader. Die bedrieërs het voorgegee om werknemers van MTN te wees en het MTN-baadjies aangehad.

Albei slagoffers wou lugtyd koop en die bedrieërs het hulle ingelig van ʼn winskopie op lugtyd. Albei slagoffers het hul selfone vir die bedrieërs gegee om die winskopie op hul selfone op te laai. Die bedrieërs het daarna die slagoffers se selfone afgeskakel en hulle versoek om die selfone weer ná minstens vyf minute aan te skakel.

Makhele sê albei slagoffers het agtergekom dat hul selfoonnommers verander is wanneer hulle hul vriende probeer bel. Al hul geld is ook uit hul bankrekeninge onttrek.

“Inwoners word gewaarsku om nie hul besonderhede oor die foon te bevestig of hul selfone vir vreemdelinge te gee nie. Moenie ʼn transaksie oor ʼn selfoon afhandel nie. Besoek eerder die bank persoonlik,” sê Makhele.

Enigiemand wat dalk meer inligting oor die bedrieërs het, moet speurkonst. Moitheri Ramorakane of die Welkom se speurdiens by 057 391 6277 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eish ·

Wat ek om te dood nie kan verstaan nie – as iemand jou kaart kloon of jou rekening gebruik om iets aanlyn te koop… hoe op aarde kan niemand ooit agterkom waarheen die goed gaan wat bestel is nie? Die pizzas moes mos afgelewer word… waarnaheen???

Stofdonkie ·

Want jou land se polisie is te besig om rokers te vang en om mense te jag wat op die strand stap. Hoekom sal hulle nou leidrade opvolg om ‘n saak te ondersoek teen hulle maatjies?

Stofdonkie ·

Die ploisie is heeltemal belaglik of onnosel. In die een insident is daar genoem klere is aanlyn gekoop, so hoekom nie die aflewerings adres opgevolg nie? Pizza is gekoop, weereens adres wat opgevolg kan word, geld onttrek, waar is dit onttrek? Meeste otm’s het kamera’s so kyk net op die stelsel waar is die otm waar die geld onntrek is en hoe laat en gaan na die sentrum of vulstasie waar die otm is en gaan kyk op hulle kamera’s, en abra kadabra, daar het jy sommer ‘n foto van jou verdagte.

PH ·

Dit lyk nie of enigiemand OTM toe was nie. Waarskynlik het hulle die selfone ge-“clone”en telefoniese oorplasings gedoen na tydelike bankrekenings. (?)

Genis ·

Stoffie- Polisie werk nie meer nie, hule moniteer van n afstand af… Dink jy daar is leidrade vir hulle? Hoe trek hulle net R30 000? Inside jobs…..

Michael 1 ·

My oupa se raad was altyd as die kop dom is moet die lyf maar ly.

Sarel ·

Wie val nog vir die skelmstreek. Hier moet julle nie die Polisie kwalik neem.nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.