Bedrieglike aanlyn verhoudings kos SA’ners duisende

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Dit is nie aldag maklik om liefde te vind nie – ook nie aanlyn nie – en al hoe meer mense word die slagoffers van aanlyn swendelaars wat hul indoen. Nie net sit hulle dan met ʼn gebroke hart nie, slagoffers word dikwels ook platsak gelaat.

TechShielder, ʼn webwerf oor tegnologie en aanlyn sekuriteit, het in sy jongste studie die top‑20-lande waar die meeste mense onder bedrieglike liefdesverhoudings deurloop, bekend gemaak. Suid-Afrika is 18de op dié lys.

Die studie het ʼn diepgaande ontleding van dié soort aanlyn swendelary gedoen en het bevind slagoffers word uit duisende rande bedrieg in hul soeke na liefde. Luidens die bevindings is dit egter nie net altyd romantiese verhoudings wat ʼn slagoffer geld kan kos nie, maar ook verhoudings tussen familie, vriende en selfs sakeverhoudings.

“Die boosdoeners speel op die emosies van eensame mense wat hoop om liefde aanlyn te vind en oortuig hulle om geld, geskenke of hul persoonlike besonderhede aan te stuur,” lui die verslag.

“Gevalle van hierdie soort swendelary het wêreldwyd tydens die [Covid-19-] pandemie toegeneem, aangesien al hoe meer mense in hierdie moeilike tye op soek is na kameraadskap.”

Luidens die verslag is die Filippyne, Nigerië en Kanada die lande waar mense die meeste slagoffers is van bedrieglike liefdesverhoudings – ook bekend as “cat fishing”.

In die Filippyne is 1 315 voorvalle van dié soort swendelary, in Nigerië altesame 1 129 en in Kanada 1 054 gevalle aangemeld. Dié lande word gevolg deur Brittanje (978), Turkye (683), Ghana (534), Afghanistan (485) en Duitsland (361).

SA’ners dok meeste op

Hoewel Suid-Afrika 18de op dié lys is met net 190 gevalle, is dit egter tweede op die lys van lande waar swendelaars die meeste geld per persoon uit niksvermoedende slagoffers kry.

Die gemiddelde bedrag geld wat slagoffers in Suid-Afrika verloor, beloop nagenoeg R700 000 en die afgelope jaar was mense ʼn gesamentlike R130 miljoen op dié manier kwyt.

Slegs Chinese betaal meer geld as Suid-Afrikaners per persoon: In China word ʼn slagoffer gemiddeld uit R800 000 bedrieg.

Die Filippyne het dalk die meeste gevalle van hierdie soort swendelary, maar slagoffers daar dok nietemin die minste geld op.

Britte het gesamentlik byna R500 miljoen só verloor, gevolg deur Turkye (R360 miljoen) en Nigerië (R240 miljoen).

“Finansiële winste is ʼn groot dryfveer vir hierdie boosdoeners. Hulle bou vertroue by die slagoffers op met die doel om eindelik geld by hulle kry.”

Wêreldwyd is daar R3 miljard oorbetaal aan mense wat hulle as iemand anders voordoen om ʼn slagoffer te kul.

In al die lande word diegene tussen 45 en 59 jaar oud die meeste met ʼn slap riem gevang. Bitter min jonger mense – diegene onder 29 – val egter vir die skelmstreek.

“Brittanje het wel opgemerk dat kinders onder nege sowat 0,22 % van die land se gevalle verteenwoordig.”

Wees waaksaam

TechShielder het in sy verslag ook verskeie aanbevelings gedoen wat mense kan help om ʼn moontlike slenter betyds raak te sien.

“Dit is belangrik om die tyd te neem om sekere aspekte van ʼn nuwe aanlyn vriend of lewensmaat te bevraagteken voor die verhouding te ernstig raak. Een van die belangrikste kwessies om voor uit te kyk, is as die persoon – hul voorkoms, foto’s en besittings – aanlyn te goed lyk om waar te wees. Hierdie mense spog altyd oor hul finansiële sukses.”

Dié soort swendelaars bereik vinnig verskeie verhoudingsmylpale en is vinnig om hul liefde aan ʼn slagoffer te verklaar, of hulle selfs te vra om te trou.

Die persoon sal ook herhaaldelik video-oproepe uitstel of verskonings uitdink om nie in persoon te ontmoet nie.

“Die persoon sal mettertyd finansiële hulp vra en ʼn verhaal aanmekaar flans dat hulle kwansuis skielik swaarkry,” lui die verslag.

“Ons ignoreer dikwels ons instink wanneer iemand nuut in die prentjie is, maar dit is juis dán dat die rooi ligte moet begin flikker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Petrie ·

As jy so stupid wil wees om vir ‘n wildvreemde geld te wil gee, verdien jy om ingeloop te word. Wat het geword van gesonde oordeel en verstand? Sorry maar ek het nie simpatie met vrouens wat hulle so laat inloop nie.

Porseleintjie ·

Waar is die tyd toe SA die lys gehaal het vir iets positiefs? Altyd die slagoffers van die negatiewe dinge.

Delene ·

Ek ken ‘n man wat 3x op OR Tambo gestaan en wag het met ‘n bos blomme, vir sy online date om te land. Really!! Na die 1ste keer moes hy al besef het, hy is gescam! En, elke rondte het hom ‘n paar duisend rand uit die sak gejaag! Kan nie glo die mense is so liggelowig nie! Of party mense like van skoolgeld betaal……

Cecilia ·

Hoe desperaat moet jy wees vir n bietjie liefde om te val vir n sogenaamde “liefde” op d Internet.
Dis net soos seuns wat vir girls se. Het sex met my anders is jy nie lief vir my nie. Dan raak sy swanger en hy vat d pad.
Hsluit aan by n Kerk en gebedsgroepe en ontmoed sodoende n ordenklike persoon

Casper ·

Wat gaan aan met die mensdom.Jy ontmoet eers die man en vroue ontmoet.

Elmarie ·

Ja-nee kyk, HOE hardop moet mens wees om op die manier iemand te soek? Ek het my kinders van jongs af geleer, om ‘n man/vrou te kry is nie die begin en einde nie. Sorg dat jy op jou eie gelukkig KAN wees en as die regte persoon nie jou pad kruis nie, dan is dit nie bedoel om so te wees nie. Mense moet ‘n eie lewe hê waarin jy gelukkig met jouself as eie geselskap ook kan wees. Baie mense is gelukkig en ontmoet die regte persoon; ek en my man is al 45 getroud- met oppe en affe en stres en swaarkry maar ons het deur dit gewerk en ek kan verstaan dat mense maar graag ‘n maat wil hê. Maar as jy desperaat raak maak jy foute verseker!

Casper ·

As jy ‘ n “one night “plesiertjie soek gaan hotel en kuierplekke toe.As jy ‘n man of vrou soe gaan kerk toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.