Bedroefde ouers vra reg op begrafnis ná dood van ongebore baba

(Argieffoto: pixabay)

Die organisasie Voice of the Unborn Baby het Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer ouers van kinders wat voor 26 weke in die baarmoeder sterf, se waardigheid word aangetas wanneer die oorskot van dié ongebore babas as mediese afval vernietig word.

Ingevolge die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes word ʼn baba wat voor 26 weke in die baarmoeder sterf, as mediese afval beskou en gevolglik verbrand. Ná 26 weke kan ouers hul kind se oorskot wettig ontvang en begrawe, sou hulle dit verkies.

Adv. Donrich Thaldar, namens die aansoekers, het gevra waarom – as Suid-Afrikaners in ʼn goedhartige en medelydende samelewing leef – bedroefde ouers nie toegelaat mag word om hul baba te begrawe nie. “Daar is bloot geen rede vir dié verbod nie,” het Thaldar aan regter Nomonde Mngqibisa-Thusi gesê.

In die aansoek word daar nie vir enige regte vir die fetus gevra nie, maar wél vir ouers wat die emosionele letsels van ʼn miskraam moet verwerk. “Hulle ervaar groot emosionele en sielkundige trauma en baie van hulle wil die oorskot begrawe,” het Thaldar gesê.

Hy het aangevoer dit is uiters kwetsend as die kind, waarna ouers uitgesien het en in wie hulle reeds voor geboorte emosioneel belê het, onseremonieel verbrand en as afval behandel word.

Thaldar het ook aangevoer volgens kenners kan ʼn begrafnis baie doen om treurende ouers te help om die verlies van hul baba te verwerk. Die proses kan ʼn positiewe en helende uitwerking hê.

Hy het gesê daar is geen behoefte om inbreuk te maak op vroue wat kies om ʼn swangerskap te beëindig se reg op privaatheid of keuses nie. Hy het gesê ʼn vrou kan kies om nie die oorskot te ontvang nie, maar dat dié reg nie ouers wat dit wil hê, ontneem mag word nie.

Die ministers van onderskeidelik gesondheid en binnelandse sake, as respondente, staan die aansoek teen en voer in hofstukke aan wanneer ʼn miskraam plaasvind, of daar geen vooruitsig op lewensvatbaarheid is nie (dus voor 26 weke), daar nie ʼn konsep soos “diep bedroefde ouers kan wees nie, net ‘voornemende ouers’.”

Hulle voer ook aan net omdat ouers emosioneel en sielkundig ly na dié verlies aan ʼn verwagte kind, dit nie beteken dat daar enige skendig van hul grondwetlike regte is nie.

Sonja Smith, besturende direkteur van die gelyknamige begrafnisgroep, is een van die oorspronklike dryfvere agter die aansoek.

Die ministers voer aan dit is te betwyfel dat sy in die belang van lede van Voice of the Unborn Baby, waarvan sy ook ʼn medestigter is, optree. Die respondente betwis ook die argument dat die saak in die openbare belang gebring word. Hulle sê Smith het ʼn groot finansiële belang, sou die hof die aansoek toestaan.

Die organisasies Cause for Justice, Women’s Legal Centre Trust en Wish Associates is vriende van die hof in die saak.

Women’s Legal Centre Trust en Wish Associates voer onder meer aan sou die aansoek toegestaan word, dit toegang tot veilige aborsies kan beperk. Die organisasies sê ook dit gaan ʼn groter las plaas op instellings wat aborsies doen, omdat oorskot geïdentifiseer, eenkant gehou en geberg sal moet word. Hulle sê dit is ʼn gespesialiseerde en dikwels ingewikkelde proses.

Cause for Justice steun die aansoek. Die organisasie voer onder meer aan dit is nie net ouers nie, maar die breër samelewing, wat ʼn belang daarby het dat die liggame van ongeborebabas met respek behandel word. “Deur dit te doen beskerm en koester ons die belang van menslike waardigheid.”

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wielspore ·

Ons het ‘n baba verloor voor 16 weke, dit was erg vir my en my vrou, my vrou kon nie daaroor kom. Na berading het dit beter gegaan met haar maar die letsels bly vir altyd. Dit laat mens dink of ‘n begrafnis die verlies meer finaal sou gemaak het. Ek sou eerder ‘n begrafnis verkies het.

Hartseer Ma ·

Ek stem dat ouers die reg moet hê om hul baba wat voor 26 weke sterf te kan begrawe. Ek glo so neem mens afskeid. Daai baba is deel van mens.
My baba is dood gebore op 24 weke. Ñ perfekte gevormde seuntjie. Die ergste was toe ek by die hospitaal kom en ñ vorm moes teken wat sê my baba is mediese afval, en dat hy verbrand moet word. Omdat hy volgens wet nie lewensvatbaar was nie. Ek wou nie, maar is so te sê gedwing. Hul het hom net by my weggevat. Die geboorte was traumaties en Na 15 jaar is dit die ding wat ek die meeste sukkel om te aanvaar en oor te kom. Ek het nie ñ graf of ñ gedenk steen vir sy as nie… ek kon nie afskeid neem nie.

Guy Fawkes ·

Ek sien die wet is in 1992 geskryf.
Wie gee enige regering (wit NP of swart ANC) die reg om namens ouers te besluit?
Regerings is soms uiters aanmatigend.

Toetsie ·

????ek het dit deurgemaak… Sal nooit vrede kry daaroor nie! Dit nadat ek my seuntjie, reeds perfek gevorm en mét n naam, in my arms gehouvas het! My hart was stukkend en ek het tot die volgende oggend onbedaarlik gehuil in die badkamer – om te dink hulle het hom soos vuilgoed verbrand???? Dit is al 5jr en nou nog wanneer ek daaraan dink, trek my keel toe… Goddank ek weet klein Wian is by Jesus!

HFC ·

Ons het op 22 weke dood eenvoudig net gereël met ‘n begrafnisondernemer om die lykie te verwyder en ‘n begrafnis gehou. Die hospitaal wou ook eers hulle ding doen maar ons het volstrek geweier.

wilma ·

Ek weet nie waarom word Sonja Smith daarvan beskuldig dat sy finansiële gewin uit die aangeleentheid sal kry nie. Elkeen het mos ‘n keuse van wie se diens hy/sy gebruik wil maak. Myns insiens moet enige ouer die keuse hê wat om met die kleinding wat nie die lig gesien het nie, se liggaampie te maak.

M ·

Sjoe in my oë is daai klein lyfies maak nie saak op hoeveel weke nie al ‘n mensie en jou kind en die emosionele seer wat jy moet deurgaan ons het self twee kosbare babas verloor tussen 5 en 8 weke en daai seer gaan nie weg nie dit elke dag in jou gedagtes daar is dae wat emosies opbring. Ons is nou 22 weke swanger en die liefde wat ons vir ons seuntjie alreeds het is iets wat geen ouer kan beskryf nie. Ek weet nie hoe kan mense dit beskou as nie lewe nie God se woord se dis van die begin af lewe. Ouers verdien dit om op hul manier afskeid te neem van hul babas Sterkte vir jul elkeen hierbo wat met die seer elke dag moet loop dis nie maklik nie en mens praat nie daaroor nie. Ek bid vir elkeen van julle en ons bid oor die saak. Ons engelkinders was lewe en sal altyd deel wees van ons my twee engeltjies het elkeen ‘n spesiale plekkie in ons huis en in ons harte en ons sal hulle nooit vergeet nie.

Anonnie ·

My 1e baba het ek op 12 weke verloor. My hart was verniel! Vir jare het ek met die permanente seer in my rondgeloop. Tot op ‘n dag wat ek by die universiteit ‘n 12 week oue fetus in my hand se palm kon vashou. Ek het geruk soos ek huil, maar daardie dag was daardie fetus my ongebore kind. En alhoewel dit nie fisies my kind was nie, het ek van die geleentheid gebruik gemaak om te kan groet. Dit het my hele wêreld verander. En my grootste gebed is dat elke ouer die geleentheid moet kan kry om te groet. Want as jy nie self dit beleef het nie, het jy absoluut geen idee wat dit aan ‘n mens doen nie. Asseblief gee ons die keuse om te kan afskeid neem!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.