Bedrog met Mandela-begrafnis: Sakeman verbeur R1,3 miljoen

‘n Argieffoto van oudpres. Nelson Mandela se begrafnis. Fanoe het ‘n kontrak gekryom T-hemde te laat druk. (Foto: Filippo Monteforte/AFP

Sowat R1,38 miljoen – plus rente – van die sakeman Dean William Fanoe se fortuin wat hy destyds glo op ’n bedrieglike wyse tydens oudpres. Nelson Mandela se begrafnis bekom het, word ingevolge ’n hofbevel aan die staat verbeur.

Regter Sunil Rugunanan het beslis dat Fanoe se maatskappy, Mantella Trading 522 BK, voordeel getrek het uit beweerde bedrieglike bedrywighede tydens die oudpresident se begrafnis in 2013.

Daar is glo destyds saamgespan om die Buffalo City-munisipaliteit uit R10 miljoen te bedrieg ná Mandela op 5 Desember 2013 dood is.

Fanoe het voordeel uit die komplot getrek toe hy genader is vir die verskaffing van gedrukte T-hemde vir die begrafnis. Fanoe het as middelman opgetree en hope wins in die proses gemaak.

Rugunanan het ook beslis dat die R1,38 miljoen van die R10 miljoen wat Fanoe destyds in sy sak gesteek het, asook die rente wat hy die afgelope sewe jaar verdien het, aan die staat verbeurd verklaar word.

Maroela Media het vroeër berig verskeie verdagtes, onder wie Fanoe en die voormalige LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, staan tereg op aanklag van korrupsie, geldwassery, bedrog en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur by die Buffalo City-munisipaliteit. Die bewerings hou alles verband met die bewerings van bedrog tydens die begrafnis.

Die destydse ANC-streeksekretaris, Phumzile Mkolo, het op 6 Desember 2013, nog voor die munisipaliteit kans gehad het om diensverskaffers amptelik vir die oudpresident se begrafnis te oorweeg, ingestem dat Mzwandile Sokwali van die maatskappy Victory Ticket ʼn verhoogde kwotasie vir die vervoer van roubeklaers na verskeie lokale sou indien.

Sokwali is ook gevra om ʼn kwotasie van nog ʼn diensverskaffer te bekom – vir ʼn bedrag hoër as Victory Ticket sʼn. Dit is gedoen en MNI Transport het ook ʼn kwotasie, ter waarde van R10 580 000, ingedien.

Munisipale beamptes het toe na bewering met ʼn gemeenskaplike doel voor oë opgetree om die munisipale aanskaffingsproses te bedrieg en te manipuleer om seker te maak dat Victory Ticket aangestel word.

Sokwali en sy maatskappy, Victory Ticket, het in Desember 2014 skuld beken op aanklag van bedrog en geldwassery ná hy ʼn pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy is ʼn boete van R100 000 opgelê waarvan R50 000 opgeskort is. Sy vyf jaar tronkstraf is in geheel vir vyf jaar opgeskort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Dis alles goed en wel. Sluit die bedrieërs toe en vat hulle geld. MAAR WAT VAN ZUMA EN SY GESPUIS? Wanneer word alles by hom gevat en word hy toegesluit, vir die res van sy lewe!!!

Yvonne ·

Nie vir dood of begrafnis of vir siektes het die klomp plunderaars respek nie….geld en nogmaals geld…hoe bitter tragies

Blomme ·

Die norm van Suid Afrika onder ANC beheer.. Korrupsie en meer korrupsie! Gaan dit ooit einde kry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.