Bedrog van R6 miljoen by WVF dalk ‘net oortjies van seekoei’

(Foto ter illustrasie: Andras Vas)

Die Batebeslagleggingseenheid moet sy net na bedrieglike transaksies met die uitbetaling van Covid-19-TERS-voordele deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) wyer span, het die DA Sondag gesê.

Maroela Media het vroeër berig soveel as R5,7 miljoen wat aan 200 werkers wat deur die Covid-19-afsonderingstydperk geraak is uitbetaal moes word, het in ʼn enkele persoon se bankrekening beland. Dié persoon, Tshepang Phohole, het die geld dadelik na ander bankrekeninge, glo dié van familielede en vriende oorgeplaas, van waar dit weer na ánder rekeninge oorgedra is.

Die Batebeslagleggingseenheid het intussen ʼn bewaringsbevel in die Pretoriase hooggeregshof vir die sowat R3,2 miljoen in die bankrekeninge bekom. Altesaam 28 bankrekeninge is ook tydelik gevries.

Die polisie ondersoek die voorval, maar die WVF moet nog verduidelik presies hoe die geld in Phohole se rekening beland het.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vroeër gesê die geld is bedrieglik, of alternatiewelik verkeerdelik, in die rekening inbetaal.

Dr. Michael Cardo, DA-woordvoerder oor arbeid en indiensneming, het gesê die voorval is bes moontlik net die oortjies van die seekoei.

“Sedert die bekendstelling van die TERS-voordeel aan die begin van die afsonderingstydperk het honderde werkgewers aangemeld dat hul TERS-voordele in die verkeerde rekeninge betaal is. Talle is deur die WVF ingelig dat die geld betaal is, net vir hulle om uit te vind die geld het nooit in die gespesifiseerde bankrekening beland nie,” het Cardo gesê.

Die minister van arbeid, Thulas Nxesi, het die afgelope week gesê die WVF het ʼn span ouditeure aangestel om die geldspoor te volg en vas te stel of werkgewers die TERS-voordele billik aan hul werkers betaal.

“Die minister is vinnig om die vinger na werkgewers te wys en hulle te beskuldig dat hulle net ʼn gedeelte van die geld aan werkers betaal, asook dat hulle die geld vir iets anders as die oorspronklike doel daarvan aanwend.

“Dit is egter ondenkbaar dat die bedrog en geldwassery van R6 miljoen sonder die aktiewe of stilswyende samewerking van WVF-amptenare wat die betaling van TERS-voordele beheer kon plaasvind,” het Cardo gesê.

Cardo het gesê die Batebeslagleggingseenheid en spesialis- forensiese ouditeurs van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet ʼn breër ondersoek doen na moontlike bedrog wat met die uitbetaling van TERS-voordele verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johan ·

Is dit nie wat die meeste op hierdie forum gese het gaan gebeur nie.

Jacobus ·

Hope onbeheerde geld – wat ‘n passela. Sirrel voor jy kla – charity begins at home.

marius ·

Oor en oor gewaarsku dat dit net nog ‘n pot is om vuil kloue in te steek . Dit is gedoen met haarfyn beplanning van die regering af . Diegene wat in beheer is moet in die strate afgesleep word . Geen patetiese hofgeding nie !

Lorette ·

Wat ek nie kan verstaan nie, is dat ek betaalbewyse voor TERS en na TERS moes indien in KBY. Ek het wel ‘n fout gemaak wat regestel kon word. Hoe de ongeluk moet mense lewe wat in hierdie tye net van hul TERSgeld afhanklik is!

Jan ·

Hoop hulle sluit.hulle vir lank toe . As iers daarvan sal kom

Diets ·

Mensig maar die mense is oneerlik daar buite. Is al die eerlikes sonder werk of afgelê of val nie onder die regte kwota nie?

Misky ·

So fout word nie maklik net gemaak nie. Vir sulke groot bedrae het instansies maatreels en moet meer as een persoon dit nagaan en “goedkeur”. Ek is n boekhouer en dis standaard prosedure. Hoe gebeur so flater sommer net???? Skelm en beplande aksies.

Danie ·

Ek het die gebedel op tv so bekyk en gedink, hu uh, nie ‘n sent van my terwyl diewe en korruptes aan die stuur van sake is nie.

AH ·

Die geld het nie per ongeluk in die verkeerde rekening beland nie. Dit was haarfyn beplan! Ek hoop nie Phoholo is nog in sy pos nie……

Alida ·

Die rekenaar maak nie sommer self n fout nie. Iemand met lang vingers beheer daardie knoppies.

Anoniem ·

Ek begin sommer lag!!! Mnr Ramaphosa jy het in jou begin termyn van President verklaar dat korrupsie nou gestuit sal word …………………………en hierdie ???? Is dit hoe die ANC land regeer???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.