Bedrogklag ná ‘bruin’ man aandui hy is ‘Afrikaan’

Glen Snyman (Foto: People Against Race Classification/Facebook)

Die departement van onderwys het na bewering ’n Wes-Kaapse onderwyser van bedrog aangekla nadat hy op sy CV na homself as ’n Afrikaan verwys het, eerder as die sogenaamde amptelike klassifisering van bruin.

Debbie Schäfer, die provinsiale LUR vir onderwys, het intussen haar skok uitgespreek oor die voorval en opdrag gegee dat sy dadelik behoorlik op die hoogte van die situasie gebring moet word.

“Een van die vele euwels van apartheid was die klassifikasie van mense volgens hul sogenaamde ras. Talle mense het gestry om ons land ontslae te maak daarvan. Ek is verstaanbaar geskok om te verneem dat my departement oënskynlik iemand aankla vir die manier waarop hulle kies om hulself te klassifiseer.”

TimesLive berig Glen Snyman, ’n onderwyser by die Grootkraal Primary School in Oudtshoorn, het homself na bewering as ‘African’ op sy CV geïdentifiseer toe hy in 2017 om ’n pos as skoolhoof aansoek gedoen het.

Snyman het nie die werk gekry nie, maar is verlede maand – sowat drie jaar later – na ’n tugverhoor ontbied.

Luidens die berig voer die departement aan dat Snyman homself as ‘African’ op sy CV geklassifiseer het om ’n voorsprong in die aansoekproses te kry en op die kortlys van kandidate te beland.

Snyman is egter ’n uitgesproke kritikus van rasseklassifikasie en stigter van die organisasie People Against Race Classification. Hy is glo veral gekant teen die gebruik van die term “kleurling” en bestempel dit as vernederend.

Schäfer sê die viktimisering van mense wat hulle nie vereenselwig met “ʼn kunsmatige en arbitrêre klassifikasie van wie hulle is” nie, sal nié in haar departement geduld word nie.

“Ek het dringend al die inligting rakende hierdie saak aangevra aangesien dit op die oog af nie lyk of dit strook met dít waarvoor hierdie administrasie staan ​​nie,” sê die LUR.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

49 Kommentare

jongste oudste gewildste
Androclus

Nee deesdae moet jy maar daardie kans vat om die werk te kry,dit lyk met die aanstellings of hulle kyk na die naam en van vanaf daar doen hulle,hulle ding.

Joos

Bekwaamheid en ondervinding word nie meer in ag geneem nie. So gaan die standaard ten gronde

Natasha

Hoekom moet mens in die eerste plek jou vel kleur op jou CV aanbring? Oor ons rasistiese regering dit vereis en nie mense wil aanstel op kwalifikasie nie? In elk geval tegnies gesproke is kleurlinge of bruin mense gemenge etniese groepe en kan dus hulle self as swart bestempel indien hulle so verkies.

Niklaas

Moeilik om hom te glo noudat hy betrap is met die valshede. Hy het duidelik geglo die term “Swartman” gaan meer deure oopmaak vir hom.

twaalfboor

“om ’n voorsprong in die aansoekproses te kry en op die kortlys van kandidate te beland”. So maw jou velkleur IS ń bepalende faktor vir ń aanstelling.
Ek het dan gedink in ons “demokratiese” SA mag daar nie gediskrimineer word as gevolg van velkleur nie. Nou hoe nou?