Bedrogklagte teen pa van Voëlklip-tragedie

Ettienne Scheepers, sy vrou, Heidi, en hul kinders. (Foto: Facebook)

Ettienne Scheepers, die man wie se vrou en twee kinders destyds dood is toe hul voertuig in die see by Voëlklip naby Heroldsbaai beland het, word nou deur ʼn bedrogklag in die gesig gestaar.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê die klag is deur die nuwe eienaar van die Herold’s Kafee – wat voorheen deur Scheepers en sy oorlede vrou, Heidi (35), bestuur is, aanhangig gemaak.

Scheepers het dié onderneming sowat 14 maande gelede verkoop, hoewel dit volgens Pojie egter deel van ʼn boedel vorm wat nog afgehandel moet word. Die nuwe eienaar het glo nie kennis hiervan gedra toe die onderneming oorgekoop is nie.

Pojie het nie verdere besonderhede oor die klagte verskaf nie.

“Die ondersoek is nog in ʼn vroeë stadium. Niemand is al in hegtenis geneem nie.”

Ettienne Scheepers en sy oorlede vrou, Heidi. (Foto: Facebook)

Heidi en die egpaar se twee kinders, Cozette (6) en Hugo (2), is in Oktober 2019 dood toe hul grys Volkswagen Caravelle by ʼn krans afgetuimel het. Die voertuig is die volgende dag langs die rotse by Voëlklip gekry.

Heidi en Hugo se liggame is dae later in die water opgespoor. Cozette word egter steeds vermis.

Nadoodse ondersoeke op Heidi en Hugo het bevind dat hulle verdrink het.

Volgens Pojie is die ondersoek na Heidi en die kinders se dood nou in sy finale stadium. Hy het egter nie verder daaroor uitgewei nie. Dit is dus nie duidelik of enigiemand in verband met die tragedie vervolg sal word nie.

Scheepers het vroeër ontken dat die gesin buitengewone probleme gehad het.

Daar was onder meer gerugte oor versekeringsbedrog, geldelike probleme, mishandeling en buite-egtelike verhoudings. Hy het dit egter in ʼn onderhoud met die plaaslike koerant, George Herald, ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Disrespekvol vir n reeds stukkende hartseer. Hoe spel hy gewete…..?

Misky ·

Die arme man kan net nie aanbeweeg nie en kry heeltyd wind van voor. Klink vir my maar na ‘n tegniese ding hier en hulle maak die storie erg klink.

As julle iemand vir bedrog wil opsluit, gaan parlement toe en 80% daar is skelms.

ES ·

Ek stem saam Misky, dis baie maklik om ‘n besigheid te verkoop sonder om te weet dat dit deel van die boedel moet wees. As regsgeleerde kry ek baie sulke vrae van Jan Publiek af wat sulke foute begaan. As jy die duiwel in iets soek…

Tanniepetoors ·

Reg van die begin af ‘n baie vreemde saak. Lyk al hoe meer of daar meer agter die dood van hierdie vrou en haar kind(ers) skuil.

Johan David ·

Dis snaaks hoe almal nou eweskielik ñ eiertjie te lè het………maande terug was “ag shame atme man”. Nou draai daai einste net so teen hom.

annievantshwanie ·

Hoe is n “selfdood” dan nog nie afgehandel na hoeveel jare nie, dit wys mos daar is meer agter die storie!! Waar n rokie trek brand n vuurtjie soos die gesegde mos sê. Hier kom n ding!

Waarnemer ·

Watch this space….ek ruik n rot….hier kom nog n moord ondersoek!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.