Bedrogsaak teen oudminister vir maande vertraag

Bongani Bongo, voormalige minister van staatsveiligheid. (Foto: People’s Assembly)

Die bedrogsaak teen die oudminister van staatsveiligheid, Bongani Bongo, sy eksvrou en tien ander beskuldigdes is tot November uitgestel.

Dit volg nadat van die beskuldigdes van regsverteenwoordigers verander het.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê Bongo en sy 11 medebeskuldigdes het Donderdag vlugtig in die Nelspruit-handelsmisdaadhof verskyn vir ʼn voorverhoorkonferensie.

Hoewel die staat reeds in Januarie gereed was om met die verhoor voort te gaan, het van die beskuldigdes van regsverteenwoordigers verander en is die saak uitgestel sodat die nuwe regsverteenwoordigers hulself met die inhoud van die dossiere kan vergewis.

Die saak sal op 8 November voortgesit word waar dit vir drie weke op die hofrol geplaas is.

Bongo staan saam met sy eksvrou, Sandile Nkosi, hul medebeskuldigdes en vier maatskappye tereg op 69 aanklagte wat verband hou met bedrog, diefstal, korrupsie en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA). Dié misdade hou verband met al die aanklagte en is reeds in 2011 gepleeg.

Die beskuldigdes het na bewering destyds ʼn plaas in Naauwpoort namens die departement van menslike hulpbronne vir R37,5 miljoen gekoop, terwyl die plaas slegs R15 miljoen gekos het.

Daar is met die betrokke prokureursfirma wat die transaksie behartig het, ooreengekom dat die oorblywende bedrag van R22,5 miljoen aan ʼn private entiteit betaal word sonder enige magtiging van die departement.

In nog ʼn voorval is die departement uit miljoene bedrieg nadat Bongo glo ʼn plaas in die Msukaligwa- plaaslike munisipaliteit ten duurste by een van die beskuldigdes teruggekoop het.

Borgtog is reeds aan al die beskuldigdes toegestaan op voorwaarde dat hulle nie in verbinding is met staatsgetuies nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Soos al die kaders is tronk toe gaan onmoontlik in die land !!

SjN

Hulle almal speel vir tyd.

Kobus

Nuwe truuk. Verander regspan.

Nie Verbaas

En kom die verhoor datum verander hulle net weer en so aan. En so vat dit jare om hulle voor die hof te kry. Dieselfde ou storie.

Maritza

En so sal dit voortsleep nes Zuma se saak. Mors van belastingbetalers se geld