ʼn Onbekende persoon deel steeds advertensies op Facebook wat lyk of dit deur Maroela Media se webwerf gedeel is, maar wat glad nie met dié nuuswebwerf verband hou nie.
Die advertensies, onder die webwerf genaamd “Pureters” of “Puresters” maak reeds sedert November 2019 misbruik van Maroela Media se naam en reputasie.
Kobus Bezuidenhout, Maroela Media se webmeester, het verduidelik die persoon het ʼn bladsy op Shopify geskep met video’s wat dan met Maroela Media se webwerfadres as betaalde advertensies op Facebook gedeel word. Sodra iemand dan op die advertensie klik, maak hy egter die eienaar se webwerf oop en nie Maroela Media se webwerf soos die skakel op Facebook aandui nie.
Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het bevestig die advertensies, Shopify-bladsy en video’s is glad nie deur Maroela Media vervaardig nie en Maroela het dit reeds as ʼn bedrogspul by Shopify en Facebook aangemeld.
“Facebook is reeds besig om maatreëls in plek te stel dat plasings nie onder ander maatskappye se name kan geskied nie,” het Bezuidenhout bygevoeg. “Dié maatreëls tree na verwagting binnekort in werking.”
Lombaard het gesê dit is vir haar baie belangrik dat Maroela se lesers gewaarsku moet word oor dié bedrogspul en dat hulle nie enigsins op die skakels moet klik en op só manier dalk in ʼn strik kan beland nie. “Ons sal nooit ons naam verbind aan enige vinnigegeldmaakskemas nie,” het sy bygevoeg. “Ons doen alles in ons vermoë om die bedrogspul te stuit. Ons distansieer ons ten volle van die betrokke advertensies en die gepaardgaande video’s. Die lojaliteit van ons getroue lesers en om hulle teen misdrywe te beskerm, is vir ons die hoogste prioriteit.”
Bezuidenhout maan lesers om bedag te wees vir enige bedrogspul op sosiale media. “Hou jou oë oop vir fopnuus en maak eers seker van jou feite voor jy aan enigiets deelneem,” het hy gewaarsku.
Wat kan jy doen?
Getroue Maroela-lesers word versoek om, indien hulle op dié plasings af te kom, dit by Facebook te rapporteer. Klik regs bo op die drie kolletjies, dan op “report video” en dan op “spam”. Jy kan ook in die kommentaar bevestig dat Maroela Media glad nie by die advertensies of video’s van die geldmaakskema betrokke is nie.
Indien die advertensies of video’s op jou Facebook-tydlyn verskyn, verwyder dit gerus ook daar om seker te maak dat die advertensies nie verder versprei word nie.
Hier onder volg ʼn paar skermskote van die advertensies wat op Facebook te sien is:
Ek het toevallig so ‘n half uur terug die advertensie op my FB gesien. Ek het vinnig besef dis ‘n scam, so ook meeste van die mense wat kommentaar gelewer het.
Wel, dis makliker om party mense met ‘n slap riem te vang… die ‘advertensies’ se bewoording speel ‘n groot rol in wie daarop sal click.
Kan die persoon nie vervolg wird nie? Ek vermybin elk geval hierdie tipe advertensies
Dit wys maar net weer dat mens nie als sommer net kan glo nie en oop oë op die web moet wees
Toe ons die FB blad sien met die fotos wat buite verhouding is en nog nooit van die instansie op Maroela Media gelees het was dit duidelik dat ‘n verneukspul is.
As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit waarskynlik. Daar bestaan in elke geval nie so iets om vinnig ryk te word nie. Werk eerlik vir jou geld en moennie mamon na jaag nie.
Myself het hierdie video gesien in die week, maar nie veel ag geslaan daarop nie.