Bedryf skud vere reg vir toeriste

(Foto: @ryanwarneke via Love Cape Town)

Suid-Afrika se toerismebedryf is gereed om besoekers weer behoorlik terug in die land verwelkom.

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek aangekondig afsonderingsregulasies wat in reaksie op die Covid-19-pandemie ingestel is, word verder verslap. Dit sluit in dat internasionale reise vir besoekers van alle lande oopgestel word, maar onderworpe aan die nodige gesondheidsprotokol en die toon van ʼn negatiewe Covid-19-sertifikaat.

Dr. Willie Cilliers, uitvoerende direkteur van die AHi in die Wes-Kaap, het gesê die besluit bring groot verligting vir die bedryf.

“Internasionale toerisme dra by tot die ekonomiese groei van die grootste ekonomiese bedryf in die Wes-Kaap, naamlik ons toerismebedryf,” het Cilliers gesê.

Volgens die AHi het ondernemings in die toerismebedryf oor die afgelope 230 dae van afsondering ʼn afname van tot 80% in hul inkomste ondervind. Die besluit is dus net-net betyds vir die naderende feestyd wanneer duisende mense gewoonlik op vakansiebestemmings toesak.

“Daar lê ʼn uitdagende tyd voor met baie druk op die toerismebedryf om homself weer strategies te plaas én van die knou weens die pandemie te herstel, maar ons is baie positief,” het Cilliers gesê.

Die AHi het ook die algehele heropening van die drankbedryf verwelkom. Ingevolge die nuwe bepalings kan drank nou tydens normale handelsure verkoop word. Dit sluit naweke in. Nie net die drankbedryf nie, maar ook die wyntoerismebedryf het gesteier onder die vorige bepalings.

“Wynplase kon nie optimaal oor naweke funksioneer nie, want ook húlle was nie toegelaat om wyn vanaf die plase aan besoekers te verkoop nie.”

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese aangeleenthede en batebestuur in Kaapstad, het gesê terwyl die stad sy piektyd vir besoekers nader, is die Moederstad gereed om plaaslike en internasionale besoekers veilig te verwelkom.

“Ons stad is toerismegereed en moet alles moontlik doen om inwoners en besoekers, asook sakeondernemings aan te moedig om te voldoen aan gesondheidsprotokol om ons stad veilig en oop as voorkeurbestemming te hou,” het Vos gesê.

Hy het gesê die stad is ook dankbaar dat die talle voorleggings oor die heropening van die landsgrense nie op dowe ore geval het nie.

“Die besoekersekonomie is álmal se ekonomie en met meer toeriste kan ons die vraag en aanbod aanhelp om meer werksgeleenthede te skep en die sake-ekostelsel te ontwikkel.”

Vos sê die stad besef bekostigbaarheid is deurslaggewend vir plaaslike reisigers. Die stad is egter nie net toeganklik nie, maar beslis ook bekostigbaar.

Manny de Freitas, die DA se woordvoerder oor toerisme, het gesê die bedryf het nou bestendigheid en beleidsekerheid nodig. “Dit gaan verseker dat toeriste weer van oor die wêreld hierheen stroom, asook die bedryf toelaat om hom weer op te bou en werk te skep.”

De Freitas sê wêreldwyd word daar nou weer kwaai meegeding om toeriste te lok.

“Ons moet dus aantreklik, gerieflik en interessant wees sodat toeriste ons land hul voorkeurbestemming sal maak. Die president se aankondiging om toerisme toe te laat om te floreer, is ʼn stap in die regte rigting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Ja nou kruip hille weer by fie Weeskinders van die SA Toerisme. Die Binnelandse Toeris

Mad Mike die Rhodesiër ·

Die industrie het dit nodig, maar gaan hulle die tweede vlaag van COVID-19 weerstaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.