Bedryf soek data wat hernude drankverbod staaf

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse drankbedryf het die Mediese Navorsingsraad (MNR) gevra vir die data wat die regering gebruik het om die hernieude verbod op drankverkope te staaf.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand skielik aangekondig dat die verbod onmiddellik weer in werking tree en het terselfdertyd weer ʼn aandklokreël ingestel. Volgens Ramaphosa gaan die besluit druk op die nasionale gesondheidsorgstelsel verlig.

Sibani Mngadi, woordvoerder van die drankbedryf, het gesê die besluit het alle bedrywighede in die sektor tot stilstand gebring, algehele verskaffingslogistiek ondermyn en nagenoeg ʼn miljoen werksgeleenthede wat deur die bedryf ondersteun word, in die gedrang gebring.

Mngadi sê die bedryf het ook kennis geneem van die MNR se bevindings in sy verslag oor die uitwerking van alkohol op Suid-Afrika se gesondheidsdienste wat aan die portefeuljekomitee oor gesondheid voorgelê is.

Prof. Charles Parry, hoof van die MNR se navorsingseenheid oor alkohol, tabak en ander dwelms, het in die verslag verskeie bewerings gemaak oor die voordeel wat die nuwe verbod inhou om ʼn bepaalde aantal beddens in hospitale beskikbaar te hou, asook die finansiële besparing vir die openbare gesondheidsektor.

Die bedryf het nou aan die MNR geskryf en gevra dat die data wat gebruik is om die verbod te staaf, aan hom beskikbaar gestel word.

“Toegang tot die data gaan die bedryf en ander belanghebbendes toelaat om beter te verstaan hoe daar by die aangeduide gevolgtrekkings en aannames uitgekom is,” het Mngadi gesê.

Die alkoholbedryf stem saam met dr. Glenda Gray, president van die MNR, dat daar ʼn nasionale alkoholbeleid moet wees en dat verantwoordelike drankgebruik bevorder moet word.

Mngadi sê die bedryf het aangebied om ʼn forum saam met die regering en burgerlike samelewing op die been te bring wat probleemgebiede kan identifiseer en prioritiseer. Dit moet gegrond wees op geloofwaardige data en daar moet saamgewerk word aan ingrypings wat op die sleutelkwessies konsentreer.

“Selfs nog belangriker, die MNR-data kan ons dalk help om volhoubare, geteikende ingrypings te ontwerp en in werking te stel om alkoholskade selfs verder te verminder,” het Mngadi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

Die aandklokreël is onnodig dit sal nie die virus keer nie.

Mariana ·

Mense drink en rook en gebruik steeds dwelms. Hierdie is maar net nog ‘n manier om te wys wie is baas. Hierdie virus gaan steeds versprei omdat daar regulasies is wat absoluut nie enige stop daaraan gaan bring nie. Taxi’s 100% vol spel verspreiding, vinnige grootskaalse verspreiding. Mense behoort teen die tyd te weet hoe om hulself te beskerm teen die virus. Intussen staan als stil, mense verloor werk, lewens ontwrig en dit als oor regering wat weereens ondeurdenkte besluite neem. Wie baat die meeste by hierdie regulasies, beslis nie die inwoners van die land nie.

Rina ·

Wanneer alles finaal in duie stort en hulle weereens APARTHEID blameer!

Die Wolf ·

Dit is gewoonlik die jonger geslag wat hulle nie kan gedra nie.

johanf ·

Sal graag wil weet hoeveel alkohol verwante besettings van hospitaal beddens en trauma sorg daar was, watter rasse, dit is nie rassisties bedoel….
Arresteer die vrot appels, in hospitaal of met ontslag….as julle kan, by gesê, moenie die 99% onskuldig straf nie

Pieter Rubeus ·

Nog een van die talle besluite wat skielik geneem is en baie duidelik onbekwaam was om te implementeer. Binne ‘n week word daar besluit om baie besighede en mense se inkomste te vou oor die minderheid wat nie beheer het oor drank nie. Ek drink of rook nie, maar net soos die verbod op sekere klere, grens hierdie besluite aan waansinnigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.