Bedryf vaar uit oor ‘oorlog teen vragmotorbestuurders’

Een van die voorvalle in Heidelberg waar vragmotors aan die brand gesteek is. (Foto: Twitter)

Die Road Freight Association (RFA) het in ʼn ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa uitgevaar teen die onlangse vlaag aanvalle op vragmotorbestuurders en sê dit word onder die voorwendsel gedoen dat die bedryf werksgeleenthede van Suid-Afrikaners ontneem.

In die brief sê Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die RFA, die aanvalle lei tot die verwoesting van nie net lewens nie, maar ook maatskappye, werksgeleenthede, ekonomiese bedrywighede, goedere, voertuie en fasiliteite.

“Dit is glad nie wat ons as ekonomiese herstel gesien het nie Ons is bekommerd dat die gebrek aan optrede deur die regering die indruk skep dat hy selftevrede is oor dié soort protesoptrede – gegewe die feit dat die minister van polisie nog niks beduidend gedoen het om hierdie soort bedrywighede te voorkom of stop te sit nie.”

Kelly sê die situasie sleep nou al drie jaar lank voort en niks, “benewens die verskuiwing van blaam en eindelose gepraat”, het tot dusver gebeur nie.

Die vereniging sê hy het met die bedingingsraad vir die bedryf, wat vakbonde ingesluit het, asook verskeie ministers betrokke by die ministeriële taakspan, vergadering in ʼn poging om arbeidsverwante kwessies te takel.

“Ons het gesien hoe Suid-Afrikaners aangeval, ernstig beseer en selfs doodgemaak word in dié optrede wat ‘op buitelandse bestuurders gemik is’. Duidelik gaan dit nie oor buitelandse bestuurders nie.

“Die toename in wetteloosheid, blote misdadigheid, plundery, brandstigting, stropery, intimidasie, afpersing en tallose ander slim konkelplanne is stelselmatig bewerkstellig teen individue, sakeondernemings, vakbonde, die ekonomie en die vesel van die vryheid tot ekonomiese bedrywighede. In gevalle waar maatskappye of individue onwettig buitelanders in diens neem, moet dit binne die raamwerk van die wet hanteer word.”

Die vereniging skryf aan Ramaphosa dat die wetteloosheid nie kan voortduur nie.

“Die aanvalle word met militêre presisie uitgevoer, wat daarop dui dat daar ʼn sterk, gekoördineerde leierskapselement met een of ander vorm van militêre opleiding is.

“Ons is nie seker wat die doelwit is nie, maar die destabilisering van die land lyk of dit ʼn groter gedeelte daarvan is.

“Dit is sabotasie, ʼn openlike oorlog op Suid-Afrika se ekonomie en sy burgers. Ons moet dit nou stopsit en diegene verantwoordelik vir die aanvalle in hegtenis neem en vir hul dade laat boet.”

Kelly waarsku die situasie gaan in wydverspreide konflik ontaard wanneer gefrustreerde, kwaad en geldelik gespanne burgers die nodige stappe begin doen om hul werkers, bates, eiendom en die volhoubaarheid van hul ondernemings in hul eie hande begin neem.

Hy sê só ʼn situasie moet verhoed word en Ramaphosa se regering moet die leiding neem om probleme te takel en op te los om die veiligheid van mense en die ekonomiese infrastruktuur en dienste te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Werner ·

Ja en net soos die oorlog teen die boere.Die oorlog in ons dorpe en stede.En dan is daar nog mense wat dink ons bly in n demokratiese reenboog land

Dries ·

Ja, die boerdery bedryf en mense voel dieselfde. Maar as mens daaroor wil praat dan se Ramaphosa en kie: Ons moet oor ALLE misdaad bekommerd wees. So ek weet nie of hierdie brief iets gaan bereik nie.

Pierre ·

Kon dit self nie beter gestel het nie die aanvalle is ge-organiseerd en professioneel uitgevoer, en ruik baie na gorilla warfare taktiek om n land en sy mense sistematies af te breek en vryheid van ekonomiese beweging in te perk.

Madz ·

Sit ‘n “buddy”-sisteem in plek (2 persone per voertuig); kry albei competent om ‘n vuurwapen te besit EN te dra en laat hulle begin om hulself te verdedig! Maak seker daar is ‘n dash-kamera geinstalleer wat als kan afneem om te kan BEWYS dis selfverdediging! OF hou op om die mark te stock ten koste van jou mense se lewens en jou trokke se bestaan – ja ek weet almal moet leef en eet en bestaan en geld en werk is krities maar iewers IEWERS moet die streep getrek word!

Madz ·

Ek oorleef eerder om myself en optrede te verduidelik as wat my geliefdes om my graf staan en huil…..

Sarel ·

Niemand word gearresteer.en niemand verantwoordelik nie. Laat mens dink….hoekom nie…wie beskerm hulle en wie gee oodragte want dit is nie sommer net nie

Pieter ·

Julle mors julle tyd die ANC is dan self terroriste . Cyril is nie n president se alie nie die land val uit mekaar maar hy wil ander lande help.

Misky ·

En die uiteinde is dat transport koste opgaan en die end verbruiker – ek en jy – betaal die verhoogde pryse vir dienste en goedere. En dit op n lamgelêde ekonomie. Hulle worry eenvoudig nie, want dit raak hulle nie

Pieter Rubeus ·

So is dit geskryf in die ANC manifes. Gaan kyk maar dit is daar. President Rama…. gee nie ‘n flenter om nie want hy doen presies wat die manifes voorskryf. Verdedig julle goed is al wat gaan help.

Danie ·

Trokke moet slegs van 05hoo op die paaie wees tot 19hoo dan sal die aanvalle minder of selfs stop want dit is maklik in die donker. Vervoer maatskappye moet ook net vir so maand geen trok op die pad sit dan sal jy n ander storie sien. Geen kos op die rakke. Jy le dan hierdie land lam maar nou ja ons mense is al so gekondisioneer dat ons haal maar net geld uit en gee en koop dus as jy nie ruggraat het om op te staan vir jou regte nie dan moet jy maar die punch ook vat.

Jakes ·

As mense nou nog dink dat CR en sy comrades n veer vir die land, sy burgers en ekonomie voel dan leef julle duidelik in n droomwereld. Maar om geld te bedel vir beleggings dit kan die ANC regering goed doen.

Kokerboom ·

Nog steeds kom die regering NIE te voorskyn met strategiese planne om die verwoesting, rowery, roof, moord, staatskaping en vele meer stop te sit!!!Hoe leef jy as President/ministers met jul gewetes(as enigsins bestaan) saam?

daniel ·

Dit lyk eerder asof die regering ondergeskik wil wees aan militantes as om iets daadwerklik aan die probleem te doen.

Tokkel ·

Wat vir my die snaakste is, is dat die polisie presies weet waar hierdie brandpunte is, maar hulle ry liewers om die toenele weg. Ek was die naweek bietjie laeveld toe en vrydagmiddag voor Emalahleni het dieselfde gebeur. Ons vat toe die ou Delmaspad en raai wie ry voor ons..die polisie bakkie wat gesien het wat gebeur op Hi-way, maar hy ry liewers die ompad om betyds te wees om 5uur huistoe te gaan. Waar is jou lojaliteit meneer polisieman wat jou gesig wegdraai terwyl honderde mense graag ook huistoe wil gaan, maar vastaan asgevolg van die lorries wat oor die pad staan. Meneer polisieman in jou vangwa-bakkie, ek sal my skaam om my salaris die einde vd maand te vat..

Hennie J ·

Kul jou hier en kul jou daar en siedaar! Ondersoek gerus die betrokkenheid van die mk veterane.

Nico ·

Die verantwoordelike perone is Ramapose en Malema, sit net met gevoude hande. Word wakker, man, gaan slaap by die huis, die ANC regering kan eers na hulle eie mense kyk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.