Bedryfshandelstoestande swakste sedert die 2008-’09-resessie

geld 4

Argieffoto.

Suid-Afrika se bedryfshandelstoestande is in die swakste posisie sedert die 2008-’09-resessie, nadat die toestande nie veel verbetering in die derde kwartaal getoon het nie.

Volgens data uit die Sakeliga-ETM se ekonomiese oorsig vir besluitnemers in die sakewêreld, staan die indeks vir handelstoestande in die plaaslike sakewêreld net onder drie indekspunte. Sakeliga meet sy aanwysers op ʼn skaal van nul tot tien, met vyf as ʼn neutrale punt, nul uiters swak en tien uitstekend.

In 2008-’09 het die indeks op nul punte gelê, teenoor die nege punte vóór die resessie. Tydens 2015 was daar ʼn effense herstel in handelstoestande, met die indeks wat op 6,5 punte gelê het. Sedertdien was dié toestande op ʼn afwaartse trajek.

“Prakties gesproke het SA jare gelede reeds ‘rommelstatus’ bereik,” sê Gerhard van Onselen, senior ontleder verbonde aan Sakeliga. “Hoewel daar nie nou tekens van ’n wêreldwye afswaai is nie, is toestande vir bedryf en verdienste in Suid-Afrika baie moeilik.”

Hy meen dat skadelike beleid en rompslomp tot die agteruitgang van die ekonomie gelei het en dat dit verdere private beleggings en ondernemerskap belemmer. “Hierdie toedrag van sake kan slegs omgekeer word deur die staat se rol in die toewysing van hulpbronne aansienlik te verminder.”

Op die ETM-Sakeliga‑indeks van hoe maklik of moeilike die plaaslike handelstoestande werklik is, het die syfer ook sedert verlede jaar gedaal – van 3,2 tot 2,5 punte. Dit dui op baie moeilike handelstoestande.

Volgens Van Onselen het sakeondernemings in die derde kwartaal gesukkel om hul winsgewendheid te verbeter.

“Daar is enkele ligpunte in die verslag, veral wat betref die relatief lae oliepryse en laer inflasie in die algemeen. Lae olieprysinflasie help tans om baie ondernemings se insetkoste laag te hou en verlig die druk op verbruikers se begrotings,” sê Van Onselen.

Die verslag reken dat ʼn amptelike afgradering van die Suid-Afrikaanse regering se skuld deur Moody’s op die ou einde nie ’n groot verskil sal maak nie. Van groter belang is realiteite op grondvlak.

“Die uitdaging vir die Ramaphosa-administrasie is dat die skade aan die ekonomie wat reeds deur beleggers ingereken is, omgekeer moet word. Hierdie skade word in ’n swakker rand, hoër rentekoerse, versigtiger banke en die vlug van mense en kapitaal weerspieël.” Boonop, sê Van Onselen, is Eskom die eintlike groot risiko en moet dit die meeste aandag geniet.

Sakeliga let op die minister van finansies se stellings in die mini-begrotingsrede waar aangekondig is dat staatsinstellings reggeruk moet word en dat staatsbesteding op alle vlakke besnoei moet word. “Ongelukkig is dit duidelik dat genoegsame besnoeiings moeilik uit die staat se salarisrekening sal kom. Met geprojekteerde tekorte van nagenoeg R300 miljard per jaar is die regering se fiskale druk besig om toe te neem. Belastingbetalers moet hulself dus staal vir verdere belastingdruk in die jare wat kom.”

Op die Sakeliga-ETM-indeks het die finansiële druk waaronder die regering verkeer van 5,5 indekspunte verlede jaar – wat net bo neutraal is – tot 3,1 punte vanjaar gedaal.

“Die regering het oor baie jare aansienlike fiskale tekorte gehandhaaf. Dit beteken dat Suid-Afrika ’n volgende globale resessie, sou een nou plaasvind, op ’n baie swakker voet as in 2008-’09 sal binnegaan.”

Sakeliga se raad aan sakelui is om hul spesifieke sakerisiko’s in die konteks van ekonomiese agteruitgang te verstaan. “Sakeondernemings moet geleenthede soek om internasionale blootstelling, diversifisering van inkomstestrome buite die rand en sakemodelle wat met minder volume kan klaarkom, na te streef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kallie ·

Theo Vorster reken sake is reg. Moet net keer of dit gaan beter.

André-Chris ·

Ek wou dieselfde sê, ek rol toe af om kommentaar te lewer, en daar het jy die woorde uit my mond gegaps. Nou sal ek graag van Theo wil verneem dat hy praktiese voorbeelde gee van dit waarop hy sy artikel baseer het.

Jip, dis nou positief wees teenoor jou gehoor, terwyl jy al die elemente van die realiteit teen jou het. Nou vra ek, is ons twee se kommentaar negatief, of net realisties?

Feite ·

Volgens Sakeliga moet sakeondernemings geleenthede soek om internasionale blootstelling na te streef. Dit is nou reeds n geruime tyd dat Sakeliga in die regte rigting begin beweeg. Hoe gouer en hoe meer sakebelange ook oorsee gevestig kan word hoe minder riskant is dit vir wanneer dinge leliker kan begin skeefloop met die Suid Afrikaanse ekonomie. Ten spyte van die mooi geluide wat die ANC se “three musketeers” maak, lyk sakegeleenthede vir witmense in SA glad nie goed nie, al wil Theo Vorster graag he dat mense anders moet glo!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.